Bibberweek vir Kaap verwag

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

’n Koue week word vir die Wes-Kaap en Noord-Kaap verwag.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sê ’n kouefront sal Maandagoggend die westelike gedeeltes van die Wes-Kaap tref en teen Maandagmiddag na die oostelike dele van die Wes-Kaap en die suidwestelike dele van die Noord-Kaap versprei.

Wind, reën, koue weersomstandighede en onstuimige seetoestande word in dié gebiede verwag. Dít terwyl “lente-agtige” weer dié week vir die noordoostelike dele van die land voorspel word.

Die weerdiens sê wydverspreide reënval van 20 tot 30 mm sal waarskynlik oor die westelike dele van die Wes-Kaap neersak terwyl 45 tot 65 mm oor die westelike bergagtige streke verwag kan word.

Ligte sneeuval kan moontlik vanaf Maandag laatmiddag tot vroeg Dinsdagoggend in die westelike hoogliggende dele van die Wes-Kaap voorkom. Koue tot baie koue toestande word hiér verwag.

Reën sal waarskynlik Dinsdag, Woensdag en Donderdag in die Wes-Kaap, asook die westelike en suidelike dele van die Noord-Kaap voortduur met nog twee kouefronte wat waarskynlik dié gebiede sal tref.

Die weerdiens het die volgende waarskuwings uitgereik:

  • ’n Oranje vlak 5-waarskuwing teen reën met vloedgevaar vir die Stad Kaapstad vanaf Maandag
  • ’n Geel vlak 2-waarskuwing teen reën met beperkte vloedgevaar vir die suidelike dele van die Weskus, die Kaapse Wynland en die Overberg-distrikte vanaf Maandag
  • ’n Geel vlak 2-waarskuwing teen wind met plek-plek gepaardgaande gevaar vir swaarvoertuie vir die Weskus, Kaapse Wynland en Sentrale Karoo, asook die suidelike dele van die Namakwa-distrikte vanaf Sondagmiddag tot Maandag
  • ’n Geel vlak 2-waarskuwing teen wind en navigasieprobleme ter see tussen Kaap Columbine en Kaap Agulhas vanaf Sondagaand tot Maandag
  • ’n Geel vlak 2-waarskuwing teen golwe en navigasieprobleme ter see tussen Kaap Columbine en Kaap Agulhas vanaf Sondag en Maandag tot Dinsdagoggend in Plettenbergbaai

Volgens die weerdiens sal die noordoostelike dele van die land daarteenoor vandeesweek maksimum temperature van in die lae tot middel 20’s beleef. Nog hoër temperature word in die Laeveld van Mpumalanga en Limpopo en die oostelike dele van KwaZulu-Natal verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius Gerhardus ·

Dalk erg erg erg koud word. Kan Corona virus dalk vries…..

VaalDonkie ·

ja dis lekker koud hier. Gelukkig het COVID my nog nie my werk gekos nie, so ek kan darem onder dak sit onder ‘n kombers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.