‘Bid vir ons’, vra ma ná seun se skietdood

Hansie Botha en sy meisie, Marikie Prinsloo. Foto: Facebook

Terwyl Hansie Botha (26) se liggaam op die vloer van die gesin se huis in Sasolburg in die Vrystaat gelê het, oomblikke nadat hy deur gewapende indringers doodgeskiet is, het Kaptein, die gesin se geliefde boerboel, sy neus onder Botha se nek ingedruk in ʼn poging om hom op te help.

Só vertel Magda Bronkhorst, Botha se ma, oor die nagmerrie-ervaring Woensdag in die vroeë oggendure waartydens haar seun gesterf en hul lewens vir ewig verander het.

“Dit is so moeilik om dit te verstaan, om dit te verwerk. Ek het nadat dit gebeur het oor en oor vir Here gevra hoekom? Hoekom het Hy dit toegelaat? En ek het die antwoord gekry: Omdat hy vir Hansie nodig gehad het. En dít bring vir my vertroosting. Dit is vir my ʼn eer om te weet dat die Here mý kind nodig gehad het.”

Maroela Media het vroeër berig die voorval het omstreeks 02:45 gebeur toe twee gewapende mans op ʼn manier toegang tot die gesin se huis gekry het.

Bronkhorst vertel haar dogter, Rada Mari (24), het toevallig die aand langs haar in haar bed geslaap. Die gesin se twee honde, Kaptein, en ʼn Labrador genaamd Night, het saam met hulle in die kamer geslaap.

Bronkhorst het wakker geword toe Kaptein begin blaf. “Ek het wakker geword en gesien daar staan twee mans in die deur. Die een met ʼn rooi hemp het voor gestaan en ek het gesien hy het ʼn pistool.”

Sy sê Kaptein het op die bed gespring en beskermend oor Rada Mari gaan staan. Night het ook begin blaf. “Ek het vir Rada Mari gesê sy moet ophou gil en onder die bed wegkruip. Sy was histeries. Toe spring Kaptein op die rowers en hulle hardloop uit die kamer uit.”

In dié oomblik het Botha uit sy kamer gekom om te kyk wat aangaan. “Hulle het net so in die hardloop skote afgevuur en een van die koeëls het hom in sy bors getref.”

Hansie Botha en sy meisie, Marikie Prinsloo. Foto: Facebook

Bronkhorst sê die koeël is in by Botha se bors, skuins deur sy hart en weer onder by sy arm uit en het in die muur vasgeslaan. “Hy was onmiddellik dood. Ek het hom probeer bybring, maar dit was te laat. Ek is dankbaar hy het nie gely nie.”

Kaptein en Night is agter die rowers aan by die deur uit terwyl Magda en Rada-Mari dadelik die polisie gebel het. Kort daarna was polisiebeamptes, forensiese beamptes en paramedici op die toneel. Niks is tydens die voorval gesteel nie.

Bronkhorst sê die twee honde het later ongedeerd teruggekom.

“Kaptein het langs Hansie gaan staan en sy neus onder sy nek ingedruk om hom te probeer oplig. Toe hy nie reaksie toon nie, het hy hom aan sy wang gelek asof hy wou hê hy moes wakker word,” sê sy. “Albei ons honde is helde, maar dit is veral Kaptein wat ons in daardie oomblik met sy lewe beskerm het.”

Bronkhorst raak emosioneel wanneer sy praat oor haar “groot, breëskouers” seun. Sy vertel Botha, wat as proseskontroleerder by Karbochem gewerk het, was ʼn intelligente mens met ʼn goeie algemene kennis en belangstelling in verskeie onderwerpe. Hy was baie gelowig en iemand wat met dieper insig na dinge gekyk het.

“Hy het my altyd moemie genoem. Nooit mamma of ma nie, ek was moemie. Hy was altyd so teer teenoor my en ek was so trots op hom. As ek aan hom dink, sal ek altyd onthou hoe hy my met die grootste liefde en respek hanteer het.”

Sy sê sy weet daar is niks wat hierdie seer kan wegvat nie, niks wat ooit hierdie verlange sal demp nie. “Al wat ek vir mense kan vra is bid. Bid asseblief vir ons. Bid vir ons vir krag.”

ʼn Gedenkdiens sal Maandag om 11:00 vanuit die Kompas-gemeente in Vanderbijlpark gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Andrea ·

My hart breek. Nog n pragtige jomgman vermoor. Hoe tragies. Innige simpatie met sy geliefdes. ?

Callie ·

Sterkte. Ek seker n baie swak Christen maar ek kan en sal nie sulke dade kan vergewe nie. Ook nie n president aanvaar of enigsins kan respekteer nie. Hy doen niks en ontken sulke dinge. Sulke mense wat sulke dade pleeg, mag julle en julle nageslag tot in lengte van dae deur julle dade vervloek wees

Bekommerd ·

Ons woorde raak op. Sterkte aan die familie. Ons bid vir julle

Al ·

Ek kon dit nie beter gestel het nie.
Sterkte dis net die Here wat jul deur hierdie donker gat van rou kan uithelp.

AW ·

Weet nie wat om te sê nie…….

Het ook nie antwoorde nie !

Hoop
Liefde
Geloof

Ann ·

Sjoe … ek is in trane. Sulke wonderlike waghonde!!
RIV jongman, God hey jou nodig. Xx

Koos ·

Nodig gehad het? Daar is dan al so baie hulp en mooiste blomme?

Wessel ·

Koos, is jou kommentaar nou werklik nodig? As dit die antwoord en vertroosting is wat die arme moeder aan vasklou, het jy geen reg om so onsensitief te wees nie. Jy behoort jou te skaam.
Baie sterkte aan die familie. Ek glo God treur saam met julle.

Mickey ·

As dit vir die mamma vertroosting bring as sy glo God het haar kind nodig. Los haar om so te glo. Ons almal het meeste van die tyd ons eie opinie. Ek glo weer ons rus en is salig onbewus van wat op aarde aangaan todat die Here kom. En vir die wat glo God se blomtuin het nog n blommetjie gekort laat hul so glo. Die dood is groot om te verwerk. Sterkte aan al die mense wat op hierdie aarde geliefde mense verloor het veral vir die wat op n onnatuurlike manier gesterf het.

PIENKIE ·

My innigste simpatie. Ek as moeder huil saam met jou. Dit kan nie maklik wees nie. Bid vir jou.

Wouter ·

Baie sterkte, hy was n goeie jong man en symafsterwe is n groot verlies.

Anton ·

Ons hou julle in ons gebede. Innige simpatie en medelye en ons vra Jesus se vertroosting vir die familie van Hansie.

Yster ·

Ai. Wanneer gaan hierdie dinge stop. Die ANC het nou plaasaanvalle herken. Maar wat van al die ander moorde. Dit moet deur die Pres. aangespreek word en stop . Bring die doodstraf terug.

Sann ·

Baie sterkte en meegevoel vir die familie en geliefdes… Honde wat beter menslikheid het as sommige “mense”!

Helene ·

Nog ‘n sinlose dood /moord!! Ek is raadop en moedeloos en baie kwaad.

Nikita ·

Sal bid vir julle vroutjie. Magda wees sterk en weet ons hemelse Vader sal julle elke dag dra in hierdie hartseer tyd. Hou vas aan familie & vriende se ondersteuning. Klink dalk nie reg nie…..maar tyd sal genesing bring. Dink aan julle. Baie sterkte.

kobie ·

my hart is seer saam met julle. Dis net Sy krag en genade wat mens laat aangaan. Hy droog ons oe af en gee ons die krag om aan te gaan Sterkte en liefde

Johannes ·

Week vir week net nog moorde! Vir my as inwoner van ‘n ander land klink dit of julle daar onder ‘n bloedbad beleef! Skrikwekkend!

Oom Kalahari ·

Dit is geweldig hartseer en regtig so onnodig.’n jongman is sy jong lewe ontneem sonder dat enige iets gebuit is. Nog ‘n familie wat uitmekaar geruk word deur misdaad en in hartseer gedompel word.
Vergifnis kom swaar en vervloeking bly op alle misdadigers en diegene wat dit ontken en aanhits. Hierdie tendens is besig om vinnig uit te brei en ons is ‘n misdaad land. Buitelandse besoekers word beroof of raak vermis en ook hier moet ‘n boikot geplaas word.
Aan hierdie familie alle simpatie en wens ons jul God’s seeninge toe in hierdie tyd van rou en mag jul harte genees na hierdie traumatiese gebeurtenis. Sal net graag wil weet of die gesin ook besoek word deur Min Bheki Cele van die polisie, asook hulp verkry vir trauma behandeling asook finansieele bystand verkry.

sarah-Lee ·

1 woord…… DOODSTRAF

Ek bid vir di familie. my skoonma was een van die slagoffers van die moorde op bejaarde tannies, 2 maande terug. dis di seerste seer. rip

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.