Biesiesvlei-boer was ‘gelukkigste’ op plaas

Dr. Carl Nel [Foto: Verskaf]

Dr. Carl Nel (60) was ʼn afgetrede dosent aan die Universiteit van Noordwes (NWU) en het tydens sy laaste jare heeltyds op die plaas Tweelingspruit by Biesiesvlei in Noordwes geboer. Op die plaas was hy op sy gelukkigste en dit is hier waar sy liggaam byna twee weke gelede gevind is.

Nel se liggaam is op 2 Augustus in sy plaashuis op die slaapkamervloer aangetref. Volgens die polisie is hy vermoedelik reeds ʼn paar dae tevore vermoor.

“Hy het skietwonde aan sy bolyf gehad. Daar was ook verskeie koeëlgate in die deure en mure. Die huis was geplunder,” het lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, bevestig.

“Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.”

Volgens dr. Carmen Nel (28), Nel se dogter en ʼn veearts op Vryburg, is die familie hoopvol dat die polisie die skuldiges gaan vastrek.

“Hulle werk hard – dag en nag – om elke moontlike leidraad op te volg. Ek is so dankbaar vir die polisie en elke rolspeler se toewyding tot die saak,” sê Carmen.

Hierdie voorval was egter nie die eerste aanval op die plaas nie.

“Met die plaasaanval in 2010 het die polisie en boere goed saamgewerk en spoedig die skuldiges gevang. Hulle was omtrent nege jaar in die tronk. Niemand het tydens daardie aanval seergekry nie.”

Boer in murg en been

Dr. Carl Nel het met beeste geboer op sy plaas in Biesiesvlei [Foto: Verskaf]

Nel is op Tweelingspruit gebore en het sy lewe lank daar gebly en geboer.

“Hy wou nog altyd boer. Hy was op sy gelukkigste in die geselskap van die natuur, sy beeste en sy honde. Omdat sy beesboerdery nie te groot was nie, het dit altyd toegelaat dat hy ander werk ook kon doen, soos klasgee,” vertel Carmen.

Hy was vir 15 jaar ʼn ingenieursdosent aan die NWU. Hy het vir vierde- en finalejaarstudente klas gegee en ook meestersgraadstudente – asook een doktersgraadstudent – begelei.

Carl het ook ʼn ingenieursfirma bedryf waar hy konsultasiewerk gedoen het vir verskeie myne, fabrieke en kragstasies.

Carmen sê haar pa het ná sy aftrede alleen op die plaas gewoon en met beeste geboer.

Dr. Carl Nel en sy dogter, dr. Carmen Nel, veearts in Vryburg [Foto: Verskaf]

“My pa het twee labrador-honde gehad waarvoor hy baie lief was. Hulle is op die oomblik by my huis op Vryburg en ek het reeds ʼn moontlike nuwe huis vir hulle gekry by mense op ʼn plaas, waarheen hulle al twee kan gaan.

“Ek wens dat ek hulle kon hou, maar ek het reeds vier groot honde.”

Carmen sê dit was haar pa se wens dat sy die plaas moet oorneem en die boerdery voortsit.

“En dit is presies wat ek gaan doen. Ek sal na die beste van my vermoë dinge bestuur vanaf Vryburg, wat so 150 km weg is.”

Carmen het opgekyk na haar pa se hardwerkendheid en hoe hy alles met geesdrif aangepak het.

“Sy liefde vir die natuur en plaaslewe, en hoe hy my geleer het daarvan, sal ek vir altyd koester.”

Lewe kortgeknip

Dr. Carl Nel saam met sy kinders, dr. Carmen Nel, en Bernie Nel [Foto: Verskaf]

Sy dood was vir Nel se familie ʼn reuseskok. Daarmee saam kom ook woede en hartseer.

“Sy lewe is so grusaam kortgeknip. Hy was so vol lewe, vol planne vir die toekoms. Hy wou so graag kleinkinders gehad het.”

Volgens Carmen het haar pa se planne en idees ook nooit opgedroog nie.

“Hy het die afgelope vyf jaar ernstig daarop begin fokus om van sy patente te registreer, onder meer ʼn veiligheidstelsel wat ʼn deurbraak sou wees vir plaasveiligheid. Hy wou graag sy patente op die mark kry. Dit was ʼn groot doelwit vir sy beroepsloopbaan.

“Hy het sy lewe lank hard gewerk en bitter min gerus en ontspan. Hy het nou planne gehad om vakansie te hou en het die verkenning van die land se skoonheid ʼn prioriteit gemaak.

“Sy beesgetalle het baie toegeneem. En hy wou graag nog grond koop om op sy oudag net met die beeste doenig te wees.”

Nel word ook deur sy seun, Bernie Nel (25), ʼn forensiese ouditeur in Midrand, oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

Die kumulatiewe effek van die grusame sinnelose moorde maak ons net sterker in die afweer en oorwinning oor ons gemeenskaplike vyand die ANC

Althes ·

My innige simpatie met sy familie. Ek is bly sy dogter wil die plaas verder bestuur. Dit is nie maklik om na sulke trauma voort te gaan waar die moord gepleeg is nie.
Maar dat die moordenaars alles wegvat van jou, selfs om nie meer te boer nie, sal hul net algehele wenners maak.

Danie ·

Maar net nog n plaasmoord deesdae n alledaagse ding.Wanneer gaan die lyn getrek word?

Amelia ·

Ons het nie n “ware” leier nie daar is mense wat wel probeer en dan die ander wat nie wil verstaan nie sien of sien wat aangaan nie

Anna-marie ·

Danie, trek jy vir ons die lyn. Dan sal jy sien dis nie so maklik nie. Hierdie is deel van ‘n revolusie.

Yvonne ·

Die PRYS tag van die ANC etc.is om die nekke van elke boer….hoe bitter tragies het ons prag land nie geword nie…..Here wees Suid Afrika genadig????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.