Binnelandse sake kap terug oor skorsing van amptenaar

(Argieffoto)

Die departement van binnelandse sake het teruggekap oor wat hy bestempel as “onakkurate en skeefgetrekte” mediadekking oor die voorlopige skorsing van adv. Amanda Ledwaba, hangende ʼn ondersoek na bewerings van growwe wangedrag teen haar.

Siya Qoza, woordvoerder van die departement, sê die departement het ʼn regsplig om alle bewerings van wangedrag te ondersoek, en dat Ledwaba geen uitsondering is nie. “Adv. Ledwaba moet dus nie verwag om anders as enige ander werknemer behandel te word nie,” het Qoza gesê.

Ledwaba word daarvan beskuldig dat sy haar mag misbruik het in die ondersoek na die burgerskap van sekere buitelanders.

Qoza sê die departement, asook ander wetstoepassingsowerhede soos die Valke, ondersoek Ledwaba en ander mense binne en buite die departement vir verskeie beweerde misdade wat oor ʼn lang tydperk gepleeg is.

Ledwaba is ook die geleentheid gegun om te sê waarom sy nie geskors moet word nie en Qoza sê die proses is in ooreenstemming met wetgewing en die dissiplinêre kode vir senior bestuurders in die staatsdiens gedoen.

“Die gesamentlike poging om die departement te dwing om te swig voor druk van buite deur sekere inligting aan die media bekend te maak, gaan nie die departement in sy stryd teen korrupsie van stryk bring nie. Weens die ernstige aard van die bewerings wat ondersoek word, sal dit onverantwoordelik van die departement wees om die ondersoek in die gedrang te bring deur sensitiewe inligting daaroor bekend te maak,” het Qoza gesê.

Hy sê dreigemente is reeds gemaak teen werkers wat betrokke is by die departement se ondersoek.

“Daar is geen waarheid in bewerings deur die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) dat adv. Ledwaba geviktimiseer word om sekere mense te beskerm nie.”

Qoza sê die departement het inteendeel sy volle samewerking aan Ledwaba gegee in die ondersoeke na identiteitsbedrog.

“Die departement beskou die uitreik van bedrieglike dokumente in ʼn ernstige lig en gaan nie huiwer om stappe te doen nie. Dit sluit in die afdanking van amptenare wat daarby betrek word en die indien van strafregtelike klagte.

“Dit is betreurenswaardig dat adv. Ledwaba en haar meeloper, die VSA, kies om die media te gebruik om haar skorsing te pak en ongegronde bewerings te maak pleks daarvan om inligting aan die departement en owerhede deur te gee sodat die ondersoek so gou moontlik afgehandel kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Ek was self indiens in die department en het ‘n paar keer Adv.Ledwaba se hulp gevra en ek sal nooit kon dink sy sou by ongeruimdhede betrokke wees nie.Ek verstout my deur te sê ek dink sy is onskuldig.Ek ken ook haar sister baie goed en het lank saamgewerk voor ek met pension is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.