Binnelandse sake verloor 77 jaar se werksure in 5 jaar

(Argieffoto)

Die departement van binnelandse sake het binne vyf jaar meer as 77 jaar in werksure verloor weens hul stelsels wat alewig van lyn was én beurtkrag.

Hierdie data hou egter slegs verband met ure wat sedert 2019 gedurende die verwerking van aansoeke vir slim ID’s verlore gegaan het.

Dít beteken dat dekades meer werksure moontlik óók verlore gegaan het indien die verwerking van paspoort- en visumaansoeke in berekening gebring word, wys die DA daarop.

Die opposisieparty is glo oorval met klagtes oor die departement se sukkelende stelsel en het eindelik vrae aan die minister van binnelandse sake daaroor gestel.

LP Adrian Roos sê dit blyk uit die minister se antwoorde dat die groot aantal verlore ure inderdaad grootliks te wyte is aan die departement se stelsels wat van lyn was.

Dié sogenaamde stelselprobleme was in die 2022-’23-boekjaar die oorsaak van 41 691 verlore ure – met ander woorde 17 jaar.

Beurtkrag was gedurende die betrokke boekjaar daarvoor verantwoordelik dat ongeveer 9 322 ure (vier jaar) by die departement se kantore verlore gegaan het wat die vervaardiging van slim ID’s betref.

Die departement pak glo die skuld op die Staatsinligtingstegnologie-agentskap (Sita) aangesien die agentskap die departement van onder meer sy netwerk verskaf.

Roos sê Sita is dalk gedeeltelik verantwoordelik vir die verlore ure, hoewel dié agentskap se verbindingsverslae interessant genoeg toon dat konnektiwiteit na die departement van binnelandse sake tot gemiddeld 99,5% in 2023-’24 toegeneem het.

Roos wys dan daarop dat die departement self in Augustus 2021 opgemerk het dat hul diensooreenkoms met Sita voorsiening maak vir 95% konnektiwiteit.

“So hoekom, met die verbeterde verbindings, gaan ure steeds verlore weens stelsels wat van lyn is? Trek amptenare die kragproppe uit?” vra Roos.

Die DA het nou ʼn skrywe aan die minister gerig waarin ʼn behoorlike ondersoek na die verlore ure geëis word.

Die DA het ook geëis dat die minister in die openbaar verklaar hoe sy departement van plan is om die 77 jaar in verlore ure in te haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Roedolf Johannes ·

Daar is nie meer dissipline wat toegepas word nie.Elkeen doen net wat hy wil.Alle Staats instansie val uitmekaar uit

Corne123 ·

As jy 5 jaar lank elke dag niks doen nie verloor jy 5 jaar kan nie Meer verloor nie

Danie ·

Dis maar een instansie.
“Ons is van lyn af” is n gewilde verskoning by veral die City of Cape Town.
Jy moet maar weer en weer en weer ry om jou besigheid te doen.

Kokerboom ·

Die Staatsdiens het geen “baas” of liewer ‘n hoof wat enige aansporeeklikheid aanvaar soos die HUB van ‘n openbare onderneming.Geen prestasiemeting. Elkeen in staatsdiens is ‘n “baas” en maak soos hy of sy wil. Tyd, koste, trots,dissipline en vele meer bestaan nie.(Met hier en daar uitsonderings natuurlik!)
Dis ‘n aaklige monster wat swaarverdiende belastingbetalersgelde verslind met minagting. Staatsdiens is soos ‘n groot vragskip waarvan roer defek is en doelloos ronddobber!

Papsak ·

Daar geen dissipline meer nie hulle weet nie wat dit is nie alles is al reeds verloor hulle agter die tyd !!!!

Juanita ·

Ek sal seker eendag dood gaan en nie ‘n slim ID hê nie, want by ons binnelandse sake staan die rye twee blokke in die straat af. Ek SAL NIE in daardie ry gaan staan nie.

ES ·

Dis omdat mense nie meer aanspreeklik gehou word vir hul swak werk nie. Mense het ook nie meer trots in hulle werk nie, hulle wil net elke maand salarisse trek. Sodra jy ‘n swak werknemer aanspreek dan dreig hulle jou met hul unies en voor jy jou kan kry is daar ‘n unieverteenwoordiger by jou besigheid se deur.

Rudolf ·

Persoonlik die “off line” situasie aanvaar toe ek Dinsdag in Malmesbury vir paspoort aansoek gaan doen het, Die fisiese aktiwiteit (foto en vingerafdrukke neem en besonderhede bevestig) vat nie langer as seker 10 minute nie, maar steeds drie ure daar spandeer. Privatiseer tog net die spul.

Martie ·

Dis maar so by alle departemente, staat of nie. Gaan wag maar by Nedbank vir 6 ure om ‘n Just Save rek oop te maak en jy het ‘n rekening daar. Maar die “ultimate” is die UIF kantore, daar lyk my is daar geen rekenaar verbinding ooit nie.

Cassie Carstens ·

Moet tog net nie vir die mense se hulle moet werk nie. Dis harde werk genoeg om daaglikse te sit en wag vir die pay op maandeinde.

Meermin ·

Nou stel dan 77 x 7 mense indiens wat WIL werk, om hierdie “5 jaar se agterstallige werk in te haal” werk skofte as dit moet, hou op met die flou verksoning van OFFLINE, is seker jou brein wat OFFLINE is, en nie die masjien waarmee jy moet werk nie. Kry mense wat wil werk, en laat hierdie mense maar op hopie gaan sit vir die volgende 77 jaar.

SjN ·

Nogal opvallend dat die ofline situasie net voor etenstyd en toemaak tyd by sekere staatsdepartemente plaasvind?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.