Blomme, briefies vir Mia neergelê

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Mia, ons is baie jammer jy moes so gaan. Ons weet jy het jou hele lewe voor jou gehad.”

Só lui een van die briefies wat Woensdagmiddag saam met blomme vir Mia Kühn (16) by Hoërskool Garsfontein in Pretoria se hoofingang in Jacqueline-rylaan neergelê is.

Mia se liggaam is Dinsdag omstreeks 08:00 op die skool se rugbyveld ontdek. Dit volg nadat haar ma haar Maandag om middernag vir die laaste keer lewend by hul huis gesien het.

Wat tussen middernag en 08:00 die volgende oggend gebeur het, bly egter steeds ʼn raaisel.

Mia en haar pa, Gustav Kühn (Foto: Gustav Kühn/Facebook)

Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, het Donderdagmiddag aan Maroela Media bevestig dat die nadoodse ondersoek voltooi is, maar sê die polisie wag nog vir die amptelike verslag.

Die polisie het reeds Dinsdag bevestig dat dit ʼn onnatuurlike dood is en ʼn geregtelike doodsondersoek is geopen.

ʼn Foto van Mia met haar naam daarby en Dinsdag se datum (4 Julie) is by die blomme teen die muur by die skoolhek vasgeplak. Langs die foto is ʼn papier waarop staan: “Ons gaan jou mis liewe Mia”.

“Jou glimlag het sonstrale in ʼn donker wêreld geskyn. Mag jy nou met jou engelvlerke in die wolke verdwyn, jy sal vir ewig bly voortleef in ons gedagtes,” het een van haar vriendinne in ʼn brief geskryf.

Saam met dié brief was ʼn foto van Mia en ses vriendinne.

“Sweef soos ʼn engel by onse Liewe Jesus. Lag lekker… Gaan jou mis, ons Ginger,” lui nog ʼn brief.

Vriende van Mia het Woensdag aan Maroela Media vertel hoe aansteeklik Mia se glimlag was en dat sy “altyd haar familie en vriende bo haarself en haar eie probleme gestel het”.

“Sy het ʼn mens altyd laat glimlag en het mense wat hulp nodig gehad het altyd probeer help. Sy het baie vinnig geweet as daar fout was en sou altyd haar bes probeer om hulle te help. ʼn Mens kon nie hartseer by haar wees nie, want sy het altyd ʼn manier gevind om ʼn mens gelukkig te maak. Sy was altyd vol energie en het haar lewe ten volle geniet,” vertel Sian Maier.

Mia en Sian is al van vierjarige ouderdom vriendinne.

Mia se stiefma, Janine Kühn het op 22 Junie ʼn inskrywing op Facebook gemaak oor Mia se 16de verjaardag:

“Happy sweet 16 to the coolest, craziest cat in the building! Lief jou my Mienks,” het sy geskryf.

Mia en haar stiefma, Janine Kühn (Foto: Janine Kühn/Facebook)

Daar is nog geen besonderhede oor ʼn gedenkdiens vir Mia nie.

Maroela Media het na Mia se ouers uitgereik, maar hulle wil in dié stadium geen kommentaar lewer nie. Mia word ook oorleef deur ʼn ouer suster, Nicole (20).

Mia se pa, Gustav, ’n rolprentvervaardiger, het op Facebook ʼn emosionele gedig aan Mia opgedra:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan Tredoux ·

Nee. Ek voel dat as daar berusting en vrede vir die familie kom, dit n beledeging vir enige oorledene is. Mens kom nie oor die verlies van jou kind nie. Mens sal nóóit vrede en rus hê nie. Die lewe verander ten volle. Laat die mense rou en so geestes-eelte kry.

Lillian ·

Wat sê ‘n mens vir ‘n iemand wat sy kind aan die dood moes afstaan op so wrede manier? Mag jul vrede en berusting vind. Vir Mia, rus sag my liewe kind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.