‘Mia het altyd geglimlag’

Mia Kühn (Foto: Gustav Kühn/Facebook)

Sy het “altyd geglimlag”.

Só beskryf die 16-jarige Mia Kühn, ’n gr. 10-leerder van Hoërskool Garsfontein in Pretoria wie se liggaam Dinsdagoggend by die skool ontdek is, se nabye vriende haar.

Te midde van die smart waarin dié skoolgemeenskap gedompel is, en die skok en hartseer oor haar dood, is daar ook talmende vrae oor die gebeure.

Mia se ma het haar Maandag om middernag die laaste keer lewend tuis gesien.

Die skool het Woensdag op Facebook sy medelye met die Kühn-familie en hul geliefdes betuig.

“Ons is saam met die familie so verskriklik baie hartseer en ons gebede vir versterking en vertroosting gaan uit na hulle. Dra as gemeenskap hulle asseblief ook op in u gebede en ondersteuning,” skryf die skool.

Volgens kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, word ’n geregtelike doodsondersoek ná Mia se dood gedoen.

Matome Chiloane, LUR vir onderwys in Gauteng, het Dinsdagmiddag tydens ’n media-inligtingsessie by die skool bevestig Mia het weens onnatuurlike oorsake gesterf, maar kon in daardie stadium nie bevestig of enige ander party of vuilspel by die jong meisie se dood betrokke was nie.

’n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van haar dood moet bepaal.

Die polisie gaan ook ondersoek instel na hoe die leerder toegang tot die skoolgrond verkry het. Die skool is omring deur ’n hoë, geëlektrifiseerde heining.

Die staat se patologiedienste was op die toneel om die liggaam van die toneel te verwyder (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Intussen koester Mia se vriende hul maat se nalatenskap met groot liefde.

Vriende Hanro du Preez, Sian Maier en Nadia Reyneke beskryf Mia as ’n vriendelike meisie, wat “altyd haar familie en vriende bo haarself en haar eie probleme gestel het”.

“Sy het ʼn mens altyd laat glimlag en het mense wat hulp nodig het altyd probeer help. Sy het baie vinnig geweet as daar fout was en sou altyd haar beste probeer om hulle te help. ’n Mens kon nie hartseer om haar wees nie, want sy het altyd ’n manier gevind om ’n mens gelukkig te maak. Sy was altyd vol energie en het haar lewe ten volle geniet,” vertel Sian.

Vir Hanro was Mia ’n baie goeie vriendin wat “’n manier gehad het om altyd ’n glimlag op ander mense se gesigte te sit, alhoewel sy deur moeilike tye gegaan het”.

Van links: Liezl Malan, lid van die beheerliggaam, Matome Chiloane, LUR van onderwys in Gauteng, Retief Smith, adjunkhoof, en kapt. Anna Bain van die Garsfontein-polisiestasie (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Sy was die snaaksste vriend in die groep het altyd grappe gemaak,” vertel hy.

Volgens Nadia het Mia altyd lewe in die klas geblaas met haar “aansteeklike lag”.

“Mia het ʼn manier gehad om selfs die verveligste klasse interessant te maak en om jou gemaklik te laat voel en te laat ontspan. As jy een van Mia se vriendinne was, was jy baie gelukkig,” sê sy.

Volgens Hanro het Mia in gr. 8 hokkie gespeel en in gr. 9 tennis. In haar vrye tyd het sy graag skaatsplank gery.

Volgens haar vriende was Mia kreatief en baie kunstig.

Sian, wat al van laerskool met Mia vriende is, vertel sy het daarvan gehou om verskillende geregte te maak en het ook baie daarvan gehou om te teken.

“Sy sou altyd vir ons die kos skool toe bring wat sy gemaak het en dit vir ons gee om te proe. ’n Mens kon sien dat Mia ʼn passie gehad het vir die goed wat sy kon skep,” vertel Sian.

Maroela Media het vroeër berig Mia en haar ma het om en by middernag gaan slaap. Toe sy haar dogter gisteroggend in haar kamer gaan soek het, was sy skoonveld.

Kort nadat die ma haar dogter as vermis by die polisiestasie aangemeld het, het sy die nuus ontvang dat ’n liggaam op die rugbyveld gevind is. Die liggaam is as dié van Mia geïdentifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

miche ·

As haar Ma haar nog om middernag gesien het en sy later dood gevind is op die rugbyveld…beteken dit iemand wat sy wel geken het, het haar ontmoet daar?

George ·

10 teen een, daai ouderdom push jy die boundries, glip uit wanneer jy kan, kry vriende, ontmoet mense. Moontlik iets in die lyn, en toe gebeur daar iets, n ongeluk of fratsongeluk of so, en niemand het geweet wat om te doen nie

Hannelie ·

My hart gaan uit aan haar ouers. Dit is verskriklik, en die vrae wat altyd onbeantwoord sal bly. Baie sterkte.

Danie ·

Hartseer en sterkte aan familie hoop julle vrae word gou beantwood.Mag Mia in vrede rus.

Nettie ·

‘n Mens kan mens nie indink hoe die familie moet voel nie. Sterkte aan almal, ook die vriende. Mag God gee dat julle antwoorde en berusting vind.

SomeOne ·

toegang tot rugby veld met pale en bome in die middel van die sport area;
op google maps is daar n paar voertuig ingange met elektriese motors en moontlik “numeric keypads” wat toegang redelik maklik maak, wanneer laas is al die kodes gewysig, ‘n paar voetganger hekke wat met slotte gesluit word wat toegang bietjie moeiliker daar stel

Lillian ·

Ek sidder om te dink dat dit een van my kinders kon gewees het…. My hart gaan uit na haar geliefdes

Wonder ·

Sjoe die is baie baie erg, maar ek kan nie dink dat sy alleen was nie, sy moes saam iemand gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.