‘Boer is in my bloed,’ sê TLU Jongboer

Nicky van der Linde, TLU se Jongboer van die Jaar (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Nicky van der Linde (36), TLU se Jongboer van die jaar, is ʼn boer in murg en been, nes sy pa, oupa en oupagrootjie was. Sy agtjarige seun volg ook in dié voetspore en boer graag saam met sy pa.

“Boer is in my bloed. Ek het nie geleer om te boer nie, dit het natuurlik gekom,” vertel Van der Linde op sy plaas Cyrus net buite Standerton in Mpumalanga.

Van der Linde is op 6 September as TLU Jongboer van die jaar aangewys.

Die plaas val onder die Geelbos-boerdery wat vir generasies al in die Van der Linde-familie is. Van der Linde se oupagrootjie het die boerdery in 1950 begin en is van geslag na geslag oorgedra.

Geelbos-Boerdery is al vir generasies in die Van der Linde-familie [Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media]

Vandag boer Van der Linde grootliks met mielies en sojabone, asook Afrikanerbeeste en maak ʼn sukses daarvan deur gebruik te maak van die jongste tegnologie en internasionale beginsels.

Maroela Media het dié pragplaas in die uitgestrekte geel vlaktes van die hoëveld besoek. Met die intrapslag was die plaas se netheid opvallend, nes die beoordelaars van die TLU Jongboer-kompetisie uitgelig het.

Die plaas blink van hoek tot kant. Die moderne implemente en trekkers staan in ’n netjiese ry in die stoor en is blink gepoets.

En dit is nie net vir die besoek gedoen nie, sê Van der Linde.

“Die implemente is my trots en dit word gereeld blink gevryf. Dit is soos om jou skoene daagliks te politoer.”

 ʼn Boer soos sy pa

Wat Van der Linde vandag van boer en die boerdery weet, is danksy sy pa, David van der Linde (70), wat in Desember verlede jaar sy stryd teen kanker verloor het.

“My pa het by my van ʼn jong ouderdom af ʼn liefde vir boer gekweek. Ek het elke dag saam met hom in die bakkie rondgery en op die plaas vuil geword. Hy het my ʼn paar keer uit die kleuterskool gehou – sonder my ma se medewete – sodat ek saam met hom kon boer.

“My seuntjie (ook David van der Linde) volg dieselfde pad as ek. Hy het elke derde dag saam met sy oupa in die trekker of bakkie gery, terwyl hy van die boerdery leer.”

Van der Linde se pa was ʼn stoere Afrikaner-beesboer en ’n groot gees in die beesboerderybedryf. Hy was deel van die paneel wat in die laat 1980’s die Veeverbeteringswet geskryf het. Hy het vir talle jare as president van die Afrikaner-beestetelersgenootskap gedien en het ook Springbokkleure in interrasbeoordeling.

“Dit is ’n voorreg om met hom geassosieer te word.”

Soos sy pa se vaardighede in beesboerdery natuurlik gekom het, is dit weer vir Van der Linde tweede natuur om ʼn saaiboer te wees.

“Ek is ʼn ysterman en lief vir die grond. Dit is pragtig om daai saadjie in die grond te sit en dan te sien hoe dit deur genade en geloof ontkiem. Dit voel soos ʼn nuwe begin.”

[Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media]

Strooptyd is vir Van der Linde die hoogtepunt van die jaar omdat hy dan sien “hoe die vrug van sy harde werk gepluk word”.

Hy het sy eie stroper en planter waarmee slegs hy ry.

“Jy as boer moet self in die land spook en nie net die boerdery op ʼn afstand dophou nie. Op die land sien jy waar het jy regte besluite of foute gemaak.”

Van der Linde het in 2006 voltyds saam met sy pa begin boer. In 2012 het hy beheer van die saaiboerdery oorgeneem, terwyl sy pa in beheer was van die beesboerdery.

Van der Linde het ná skool eers sy vlerke gaan sprei en het BAgric aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer. Hy is “eintlik soontoe om rugby te kan speel”, danksy ʼn kontrak om junior rugby vir die Vrystaat te speel. Hy het ook vir die universiteit se o. 19-span uitgedraf.

Die grootste les wat Van der Linde by sy pa geleer het, was om sy sente twee keer om te draai. Daarom probeer Van der Linde vandag so ekonomies as moontlik te boer.

Nicky en sy gesin: Sy vrou, Adri, en twee kinders, David [8] en Ariana [6] [Foto: Verskaf]

“Om fisies te boer is maklik. Die finansies is die grootste uitdaging. Jy sukkel om die finansies te laat klop met die hoë insetkoste en rentekoers. Jy betaal te veel vir saad, kunsmis en gif en kry te min vir jou mielies.

“Vroeër jare was dit makliker. Jy het ’n vaste mark gehad en aan die begin van die seisoen het jy jou prys gemaak en dan geweet hoeveel geld jy gaan kry. Nou verander die mark omtrent uurliks en jy kan nie meer so beplan soos in die verlede nie.”

Op ’n persoonlike vlak het Van der Linde by sy pa geleer om ʼn ware heer te wees wat mense met respek behandel. “Veral teenoor jou werkers,” sê Van der Linde.

Altesaam 90% van die werkers op die plaas werk reeds sedert Van der Linde se pa se tyd op die plaas. Party is selfs al drie generasies op die plaas.

“Goeie kommunikasie en samewerking is die geheim tot enige boerdery se sukses. Menswaardigheid en respek is die hoeksteen daarvan.”

Dinamies en vooruit

Volgens die beoordelaars van die Jongboer-kompetisie het Van der Linde as boer uitgestaan omdat hy as dinamiese boer sy eie stempel op die boerdery afdruk.

Hulle was veral beïndruk met die presisieboerdery was hy as bestuursfilosofie op sy plaas toepas.

Met presisieboerdery gebruik Van der Linde tegnologie om inligting oor sy boerdery in te samel om op die lang termyn effektiwiteit, produktiwiteit en winsgewendheid van ’n bepaalde produksie-area te verbeter.

Van der Linde het oor die jare stuk-stuk toerusting aangeskaf en stelselmatig met sy presisieboerdery begin. Meeste van die toerusting word van die buiteland af ingevoer.

[Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media]

“Die toerusting kos baie geld, maar op die lang duur gaan ek spaar.”

Die beoordelaars was ook in hul skik oor Van der Linde se projek om in sy eie graansilo’s te belê, wat vir hom en van sy medeboere tot groot voordeel kan wees.

Van der Linde beoog om in Maart volgende jaar die silo-projek in werking te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oom Charles ·

Baie geluk, Nicky! Wens jou elke moontlike sukses vir die toekoms. Dis manne soos jy en jou familie wat ons nodig het. Mag jy elke nuwe uitdaging met die hulp van Bo trotseer en te bowe kom en mag klein David eendag met vertroue en ‘n groot glimlag die leisels by jou oorneem!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.