Boer sterf tydens Delmas-plaasaanval

Gustav en Elma Rappard (Foto: Elma Rappard/Facebook)

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het ʼn voorval ten sterkste veroordeel waar die 76-jarige Gustav Rappard Sondagoggend dood is tydens ʼn plaasaanval in Delmas, Mpumalanga. ʼn Groot soektog is na die verdagtes van stapel gestuur.

Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, sê die egpaar was omstreeks 11:00 in hul huis op die plaas toe hulle ʼn motor se toeter by die hek gehoor het.

Gustav het na buite gegaan om ondersoek in te stel en sy vrou Elma sê sy het ses mans gesien wat aangedui het dat hulle hooibale wil koop. “Gustav het vir hulle gesê dit is Sondag en hy kan hulle nie help nie, voor hy teruggekeer het huis toe.”

Oomblikke later het die man vir sy vrou gesê hy gaan hulle maar tog help. Dit is met dié keer dat hy na buite gegaan het waar die mans hom oorval en verwurg het.

“Vier gewapende mans het daarna die huis betree en kontant van die vrou geëis. Sy is met toue vasgebind nadat sy vir die aanvallers gesê het hulle het nie enige kontant nie.”

Die verdagtes het die huis deursoek en het later met twee selfone van die toneel gevlug.

Elma het in daardie stadium nie geweet wat met Gustav gebeur het nie. Sy kon na die bure se plaas toe loop om hulp te ontbied. “Ná ʼn soektog is mnr. Rappard se liggaam in die skuur gevind. Die polisie en paramedici is ontbied.”

Gustav is op die toneel dood verklaar.

Manamela het ook ʼn beroep op beamptes gedoen om die oortreders vinnig aan te keer. “Die verdagtes moet vinnig gesoek en vervolg word. Dit is ʼn absolute skande dat nadat verdagtes weerlose slagoffers geteiken en hulle beroof het, hulle hulle ook koelbloedig vermoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

casper ·

En so word ons stelselmatig uit gemoor sonder enige vervolging.

piet ·

Dis mos nie waar dat die aanvallers nie vervolg word nadat hulle aangekeer is nie. Hoekom verkondig jy sulke leuens?

SjN ·

Hou op veroordeel en tree daadwerklik op Lt Genl, klomp rowers wat weet toepassing van wetgewing ontbreek en val sagte teikens aan. Sterkte en simpatie aan die betrokke geliefdes.

Dup ·

Die aanvalle op plase kan en moet as ñ vorm van terrorisme beskou word.Elke plaasaanval het ñ indirekte en direkte invloed op die omliggende gemeenskappe en die landbou as ñ geheel.Dit is duidelik dat ons regering nie die politieke wil het om daadwerklik op te tree nie.Plaasboere moet net sien en kom klaar sonder enige noemenswaardige ondersteuning.

piet ·

Dis gewone misdaad maar die slagoffers is meer kwesbaar weens die omstandighede (afgelee gebiede, ensovoorts).

Niklaas ·

Moet maar net nie enige voornemende “koper” of vreemdeling besoeker vertrou nie. Veral as jy alleen is en hulle is ‘n aantal. Dit is maar net te gevaarlik. Wees ekstra paraat om te oorleef in hierdie land.

Roek ·

Ek stem saam , moet nie handel dryf met vreemdes op plase nie, PUNT !!!

Chris ·

Elke dag is ‘n dag nader dat daar net een boer te veel vermoor word. Die persone wat die dade pleeg is lafaards. Elke hond kry sy dag, ‘n brak kry ‘n langnaweek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.