Boerboel-telers gou weer in hof

Een van die honde wat in Mei by die teelfasiliteit aangetref is. (Foto: Tuinroete-DBV)

Die eienaars van ʼn boerboel-telery by Hartenbos in die Wes-Kaap sal Dinsdag in die hof verskyn op verskeie aanklagte ingevolge die Wet op Dierebeskerming.

Aanklagte teen die eienaars van die telery sluit volgens die DBV in die versuim om diere in hul sorg van die nodige kos en veeartssorg te voorsien. Hulle word ook aangekla omdat hulle die hondjies wat hulle verkoop het, se sterte afgesny het.

Maroela Media het in Mei berig inspekteurs en amptenare van die Tuinroete-DBV het 60 verhongerde boerboele by die fasiliteit gered waar hulle volgens die organisasie beperk was tot klein geëlektrifiseerde kampe sonder behoorlike slaapplek of voldoende skuiling.

Die DBV het die teelfasiliteit besoek nadat klagtes oor die omstandighede waaronder die honde gehou word, ontvang is. Verskeie honde was erg vermaer en dit het gelyk asof talle van hulle sukkel met onbehandelde beserings en pynlike druksere.

Die DBV sê die hofdatum is gerusstellende nuus nadat die organisasie onophoudelik gewerk het om die honde wat gered kon word te rehabiliteer en nuwe tuistes vir hulle te vind, asook eerstehands beleef het hoe diegene moes ly wat eindelik nie gered kon word nie.

“Geen diere moet ooit aan misbruik, verwaarlosing of uitbuiting vir gewin onderwerp word nie. Die Tuinroete-DBV is vasbeslote om geregtigheid vir hierdie boerboele te verseker en om te sorg dat alle gevalle van dierewreedheid onthul word,” sê Cheri Cooke, ʼn senior inspekteur by die DBV.

Die organisasie het mense bedank wat gehelp het deur kos of geld te skenk of as vrywilligers hul tyd opgeoffer het om met die rehabilitasieproses van die boerboele te help.

“Ons doen opnuut ʼn beroep op alle diere-eienaars en telers wat hulle in ʼn posisie bevind waar hulle nie behoorlike versorging aan hul diere kan gee nie, om die diere se welstand eerste te stel en na die plaaslike DBV vir ondersteuning uit te reik.

“Ons doen ook ʼn beroep op mense om nie telers te ondersteun nie, maar eerder een van die talle diere wat gered is – en leef in die hoop om ʼn permanente tuiste te kry – aan te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Magda G ·

Sluit die eienaars vir lank toe. Laat hulle ook vir so 5-7 daesonder kos bly. Geen dier behoort die behandeling te ky.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.