Boere verloor geld met ‘papperypad’

ʼn Trok met ʼn vol vrag mielies het vier dae lank op die pad tussen Dealesville en Bultfontein vasgesit. (Foto: Bul Badenhorst)

Boere aan die S234 ly ernstige verliese weens reënwater en die beweerde onbevoegdheid van die Vrystaatse paaiedepartement.

Op dié pad, wat Dealesville en Bultfontein verbind, het daar na vermoede ʼn fontein ontstaan wat ʼn modderpappery veroorsaak wat nie wil uitdroog nie. Dit is plek plek-plek tot ʼn halfmeter diep. ʼn Groot vragmotor, wat 35 ton se mielies na ʼn meule op Bultfontein vervoer het, het onlangs vier dae lank daar vasgesit.

Volgens Bul Badenhorst, wat 40 km buite Bultfontein boer, het die pad twee maande gelede, met die groot reën, onbegaanbaar geword.

“Om in Bultfontein te kom moet ek nou met die Boshof-pad,  ʼn ompad van 82 km, ry en dan op ʼn serwituutpad met tien hekke wat ek moet oop- en toemaak,” het hy aan Maroela Media gesê.

“Dit het my altyd 40 minute geneem en nou duur dit twee uur om op die dorp te kom,” sê hy.

Benewens die ekstra tyd en brandstof ly sy boerdery ook skade.

“Nou die dag het ʼn koper ʼn transaksie gekanselleer omdat hy nie op my plaas kon kom om van my speenkalwers te koop nie. Ek het ʼn voerkraal en kan ook nie voer op my plaas kry nie en kan ook nie beeste slagpale toe stuur nie.

Dié S234 is heeltemal onbegaanbaar. (Foto: Bul Badenhorst)

Hy sê hy het al menigmaal die paaiedepartement gebel en e-posse gestuur, maar word net heen en weer gestuur – die slag as iemand wel antwoord.

“Op een slag het die departement laat weet dat hy ʼn enjin vir sy tru-grawer gekry het, maar net voor hulle dit kon stuur het die logboek weggeraak en nou wag ons nog. ʼn Man van die paaiedepartement het juis vanoggend met sy bakkie daar vasgesit.

“Hier is nou ʼn stootskraper op die pad besig, maar hy vee net die grond heen en weer. Hy maak nie die diep gate toe nie. Die paaiedepartement het ons laat weet dat hulle ʼn swaarder skraper sal moet kry.

“As ons môre net 10 mm kry, begin die gemors van vooraf.

“Ek het ook al ʼn beroep op die DA en VF Plus gedoen, maar daar is ook nie reaksie nie.”

Meer verkeer, meer probleme

Voertuie het begin om die S1037 as ʼn ompad te gebruik, maar daar het ook ʼn diep moddergat gevorm, ook weens ʼn moontlike fontein wat ontstaan het.

Witkop van der Westhuizen, wie se plaas aan die S1037 grens, het einde ten laaste hekke in sy heinings gemaak sodat die voertuie op sy plaaspad na sy opstal kan inry om ʼn ompad verby die gat te kry. “Die voertuie ry nou letterlik teen my huis verby, soms soveel as tien per dag. As hier ʼn vragmotor verbykom moet ons die heinings laat lê, want hulle is te groot om deur die hek te kom.

Daar ry ten minstens tien voertuie reg teen Witkop van der Westhuizen se opstal verby om die pappery op die S1037 te mis. (Foto: Witkop van der Westhuizen)

Hy sê hy het geen ander keuse nie, want hy het al ʼn trok vol sonneblom en meer as 15 voertuie, sommige van hulle 4 x 4’s en Land Cruisers wat met hulle pense op die middelman gaan lê het, uitgesleep. Hy het self al met ʼn trok vol speenkalwers op die pad vasgeval.

“Ek kan ook nie ʼn pad deur my veld maak nie, want alles is nat.

“Ek wil die mense help, maar hierdie raak nou ʼn groot sekerheidsrisiko. Dit was eers net ʼn reëling wat ek met die boere getref het, maar nou kom hier vreemde voertuie ook verby en daar het nou al een vir ʼn rukkie by my skuur stilgehou.”

Van der Westhuizen sê daar is ʼn gruisgroef op sy plaas wat destyds gebruik is toe die pad gebou is, skaars ʼn kilometer van die gat in die pad. Die boere het egter nie die toerusting om die klip uit te haal en te vervoer nie.

“Jy kan ook nie net gruis op die modder gooi nie. Dit sal ʼn groter gemors veroorsaak. Mense durf ook nie aan weerskante van die gat verbyry nie, want die veld is nat en die kans is net so groot dat jy daar sal vassit.

Witkop van der Westhuizen het reeds meer as 15 voertuie voor sy plaas uit die moddergat getrek. (Foto: Witkop van der Westhuizen)

Badenhorst sê hulle is ook skrikkerig om net in te spring en die pad te herstel, want as iemand dan verongeluk, kan hulle aanspreeklik gehou word.

Van der Westhuizen sê sy seun is ʼn prokureur en hy gaan nou ʼn 14 dae-ultimatum aan die departement stuur. As daar nie reaksie is nie, gaan hulle maar die risiko loop en inspring om die pad self te herstel.

Daar bestaan ʼn vermoede dat die paaie slegs permanent herstel kan word deur pype onder die pad deur te sit, of selfs ʼn laagwaterbruggie te bou.

Kyk: Op dieselfde dag wat die padskraper ingestuur is om iets aan die pad te doen, het dit vasgeval. (Video: Witkop van der Westhuizen)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marius ·

Die anc is totaal onbevoeg om ‘n land te regeer. Alles wat hul aanpak verander in chaos.

Kokerboom ·

Doen iets en praat minder! Vergeet politieke partye! Volg voorbeeld van boere in Oos Vrystaat

Blom ·

Kokerboom, dit is die probleem wat hierbo aangespreek word: Badenhorst sê hulle is ook skrikkerig om net in te spring en die pad te herstel, want as iemand dan verongeluk, kan hulle aanspreeklik gehou word

Kokerboom ·

Ek verstaan Blom. Die probleem bly dat boere teen hoë koste hul produkte by mark moet kry. Nêrens aanvaar hul aanspreeklikheid met so ‘n verbetering maar feit is ‘n verbeterde pad is minder gevaarlik as status quo. Kyk gerus na program Prontuit op Kyknet van afgelope Maandag.

JL ·

Groot frustrasie en ongelukkig het die “powers that be” geen begrip, insig en kennis oor hoe om die probleem aan te pak nie. Absolute onveboegdheid. Die koste aan tyd, diesel en sluitasie op voetuie word nie in ag geneem nie en die impak wat dit op boere en die gemeensksap het nie. Dit gesê; Om met groot vragmotor, wat 35 ton se mielies vervoer op die pad te ry is sommer net moeilikheid soek.

Hoekom ·

Ek weet ons word gedwing en jy kan nie uit jou eie uit ophou betaal nie maar hoekom ons nog belasting betaal gaan my verstand te bowe…

Swerwer ·

Die ANC kader het in hul lewe nog nooit gewerk nie dus is hul onbevoeg om enigiets te doen. Al wat hul ken is ontvang en ontvang, dit is mos hoe hul opgevoed is

Pieter ·

Laat weet die regering julle gaan nie belasting betaal totdat die pad reg gemaak is nie

Dries ·

Nie n opsie nie, hulle sal nie verstaan wat jy probeer sê nie., of hulle kan nie nou aandag daaraan gee nie, dis teetyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.