Boere vies oor kragvermindering

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Talle boere in die Waterberg-streek naby Lephalale in Limpopo is bekommerd dat sogenaamde lasvermindering wat die afgelope week op die kraglyn ingestel is, hul produksie in die wiele gaan ry.

Dit is ʼn stap wat die boere boonop groot finansiële verliese kan laat ly.

In hierdie stadium word krag tussen vier en ses ure per dag op die netwerklyn afgeskakel, selfs al betaal boere getrou hul kragrekeninge.

’n Boer op ʼn plaas sowat ses kilometer buite Lephalale, sê die lasvermindering gaan die grootste uitwerking op die besproeiing in die komende planttyd hê.

“Ons sal nie gewasse kan natmaak sonder spilpunte nie. Met die somer wat om die draai is, sal die gewasse vrek indien dit nie voldoende besproeiing ontvang nie. Dit beteken dan dat ons nie kan produseer nie,” sê dié boer op voorwaarde van anonimiteit.

Daar is talle wildplase, lodges en selfs ’n krokodilplaas in die omgewing wat groot verliese kan ly indien die lasvermindering langer volgehou word.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê die lasvermindering het ook ’n rimpeluitwerking op plase as sake-entiteite, sowel as op die landboubedryf in die geheel.

“Wanneer die spilpunte weens die lasvermindering nie werk nie, kan dit nie net die boer se opbrengs negatief beïnvloed nie, maar dit kan hom ook geld uit die sak jaag omdat hy nie die water waarvoor hy betaal het, kan gebruik nie. Die water wat nie gebruik word nie, vloei in die kanaal en gaan verlore,” verduidelik Van Zyl.

Hy sê die kragonderbrekings het ʼn enorme uitwerking op boere se produksie en winsgewendheid.

“Groenteboere het krag nodig vir hul koelkamers, melkboere vir hul melkerye en veeboere wat elektriese pompe gebruik om water vir hul diere te pomp, benodig krag daarvoor.”

Hy sê verder gee Eskom nie vir hierdie boere afslag op lyngeld nie en hulle betaal steeds die volle heffing ondanks die lasvermindering.

“Boere moet begin kyk na alternatiewe kragopwekking.”

Alternatiewe kragopwekking het weer ander uitdagings, wat insluit die peperduur brandstof vir kragopwekkers.

“Boere kan ook nie eintlik spilpunte bedryf op hernubare kragbronne soos sonkrag nie omdat die sonkrag nie die groot hoeveelheid krag vir die spilpunt kan voorsien nie.”

Inwoners van Marken, ʼn dorp sowat 70 km van Lephalale, het sowat ʼn maand gelede ook onder lasvermindering van tot agt ure per dag deurgeloop.

Plaaslike ondernemings moes ten duurste van kragopwekker gebruik maak en die Marken Primary School het leerlinge noodgedwonge huis toe gestuur.

Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, sê lasvermindering word ingestel in gebiede waar kragtoevoerpunte oorlaai word weens onwettige kragverbindings en ander vorms van diefstal van elektrisiteit.

“Lasvermindering word van 05:00 tot 09:00 en 17:00 tot 22:00 ingestel,” sê hy.

Mantshantsha sê indien kragtoevoer nie in dié tyd afgeskakel word nie, word Eskom se infrastruktuur erg beskadig weens die oorlaaide netwerk.

“Die skade sluit in ontploffings van transformators, mini-substasies en ander toerusting,” sê hy.

Die organisasie Sakeliga beplan om ’n aanmaningsbrief op Eskom te beteken in ʼn poging om ʼn einde aan die kragvermindering te bring. Tian Alberts, regs- en skakelbeampte van Sakeliga, sê Eskom moet nog daarop reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Aai ·

Mense mense ons moet verstaan om dinge in plek te kry vir die toekoms gaan daar sulke verwagtinge wees.

Andre ·

Voedseltekorte? Klink soos VSA se metodes. Of is dit klimaatsverandering, ons bly mos blykbaar op ‘n bol gesmelte rots.

Casper ·

Hoekom moet boere gestraf word vir onwettige verbindins en diefstalle.Jy het ‘n grondwetlike reg tot basiese dienste.

Agge nee ·

Nou wat doen Eskom aan die onwettige kragverbindings? Net mooi niks, want hulle is te bang. Gaan kragvermindering hierdie verbindings laat verdwyn? Belaglik!!!!

Samuel ·

Hoekom die boere en ander mense wat hulle kragrekening betaal straf? Het kriminele dan meer regte as wetsgehoorsame burgers?

Anel ·

Ek dink dit is ‘n manier om boere se plase te onteien sonder vergoeding. Maar die spul dink net nie. Waarmee gaan hulle hul pense vul as daar nie kos is nie????

Nie Verbaas ·

Is dit nou n besluit van ons “super intelligente” regering?

Pieter ·

Jy weet nie waarvan jy praat nie.
Jy sal saam swaarkry as daar voedsel te korte is, of is jy ook een waai daai wat sê Woolworths sal voorsien waar die boere nie kan nie

Frank ·

Punt 1: Lephalale is langs die berugte Medupi kragsentrale
Punt 2: Mantshantsha, Google asb Lephalale en Marken en sê vir my wats die kans op grootskaalse kragdiefstal!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.