Boetiekhotel, motors gevat in tenderondersoek na werkers in premierskantoor

(Argieffoto)

Die batebeslagleggingseenheid in KwaZulu-Natal het beslag gelê op eiendom van nagenoeg R23,3 miljoen in sy ondersoek na amptenare in die kantoor van die KwaZulu-Natalse premier.

Die Nasionale Vervolgingsgesag sê die eenheid het ʼn hooggeregshofbevel bekom om beslag te lê op verskeie vaste eiendomme en voertuie wat behoort aan die finansiële hoof in dié kantoor.

Ziphathe Mboneni Cibane, sy medebeskuldigdes en die maatskappye waarby hulle betrokke is, word tans in die handelshof verhoor.

Cibane en drie ander werkers in die premier se kantoor, Nomusa Zakwe, Thobelani Makhatini en Sithembiso Msomi, het in Julie vanjaar saam met Gugu Kheswa van Phumalanga Communications in die hof verskyn waar hulle tereg staan op aanklagte van tenderbedrog en korrupsie.

In Oktober vanjaar het Pamela Hlongwa, Ashley Rose, Ntombimpela Mabel Majozi en Sybil Mataung by hulle in die beskuldigdebank aangesluit. Laasgenoemde vier is betrokke by die maatskappye Roren Engineering, Nto’s Catering, I Dot Q, Set Apart Group, Isidleke Enterprises en Inala Business Consortium.

Die staat voer aan die amptenare in die premier se kantoor – wat in die verkrygingsbestuurafdeling gewerk het – het saamgespan en onregmatig saam met die diensverskaffers gewerk om tenderprosesse te manipuleer.

Die eiendom waarop beslag gelê is, sluit in ʼn boetiekhotel en 40 voertuie.

Die NVG sê die bates word in kuratorskap gehou hangende die uitslag van die verhoor.

Die beskuldigdes is reeds op borgtog vrygelaat en verskyn weer in April volgende jaar in die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Klaas ·

Destyds, daar rondom die laat 1998, het die mense wat toe nog oor die nodige kundigheid beskik het, oudits op juis sulke kantore se begrotings en uitgawes gedoen en helse ongeruimthede is aan Nasionale OG, gerapporteer wie verkies het om niks aan die sake te doen nie. En ek vra weer:”Wie moet ons daarvoor bedank?” Maria, die magtige meisie van die AAA EN SEE! Sy het mos die deure vir bedrog wawyd oopgemaak.

JohanEtz ·

Ek het jare vir die OG gewerk voor 1994 – mits die roete van verslagdoening sedertdien drasties verander het? Klink dit onlogies dat in die kommentaar ‘n stelling gemaak word dat dit aan die OG gerapporteer is. Dis juis die OG wat sulke ondersoeke /daaroor verslag doen, waarna vêrder optrede deur ander gesag/gereg uitgevoer word….

Ou bees ·

Net daar nou wanneer word die res van die land se tender outjie voor die hof gebring?

Mrs H ·

Die wiel het gedraai.. ons sien nou hoe ondemokratiese wette soos BE, hulle nou aan die agter steuwels byt. Hahaha. Hulle behoort baie skaam te kry en alle BE wette se rakleeftyd tot verval te roep, aangesien daar GEEN ‘disadvantaged’ meer bestaan tussen die lewens wat ‘matter’ nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.