Boewe teiken jonges wat aanlyn taxidienste gebruik

Argieffoto bloot ter illustrasie van ‘n aanlyn taxidiens. (Foto: Unsplash)

ʼn Veiligheidsmaatskappy in Pretoria waarsku mense om ekstra waaksaam te wees wanneer hulle van aanlyn taxidienste gebruik maak. ʼn Nuwe neiging het oënskynlik in die Jakarandastad begin kop uitsteek met boewe wat hulle as taxibestuurders voordoen net om hulle in ʼn lokval te lei.

Twee jong mans van Pretoria was slagoffers van dié slenter toe hul jolige aand uit amper in ʼn nagmerrie ontaard het.

Die twee mans is by ʼn bekende kuierplek in Pretoria-Oos deur ʼn motorbestuurder opgelaai – wat hulle gedink het die taxi is wat hulle bestel het. Hulle is egter minute later deur die einste bestuurder met ʼn skerp voorwerp gedreig en een van die mans se selfoon is geroof.

Die veiligheidsmaatskappy CSI sê soortgelyke voorvalle word gereeld in die stad aangemeld en verál onder jong mense wat laataand of vroegoggend deur taxi’s by kuierplekke opgelaai word.

‘Hy ken ons naam’

Een van die jong mans se hande na die onderonsie wat hulle met die boef gehad het (Foto: Verskaf)

Die een jong man het op voorwaarde van anonimiteit vertel hy en sy vriend het op die betrokke Saterdag gaan kuier en die Sondag omstreeks 01:00 ʼn taxi van ʼn bekende taxidiens bestel om hulle veilig huis toe te neem.

“Ons het na buite gestap en daar het ʼn wit Ford Figo by ons stilgehou. Die bestuurder het my vriend op sy naam geroep. Ons het gedink dit is ons taxi omdat die bestuurder my vriend se naam geken het,” vertel die jong man.

Hy sê daar was boonop niks verdag aan die motor of die bestuurder nie.

“Die bestuurder, in sy middel 40’s, was vriendelik en kalm. Ons het die pad na my huis vir hom beduie.

“Die man het op pad huis toe by Atterburyweg afgedraai en stilgehou. Hy het vir ons gesê dat hy gou ʼn draai moet loop. Hy het om die motor geloop en links en regs van hom gekyk. Dit is toe dat ek vermoed iets is nie lekker nie.”

Die jong man het sy vriend aangeraai om so gou moontlik uit die motor te kom. Sy vriend het voor in die passasiersitplek gesit en kon maklik uitklim. Die jong man se deur aan die agterkant van die motor was egter gesluit en hy moes na die voorste sitplek oorklouter om by die passasiersitplek se deur uit te klim.

In daardie stadium het ʼn tweede man uit die bosse te voorskyn gekom en by die kwansuise bestuurder aangesluit, sê die jong man. Die bestuurder het ʼn skerp voorwerp – wat soos ʼn mes of skroewedraaier gelyk het – uit sy broeksak gepluk saam met sy makker het hulle die jong man se vriend beetgekry.

“Die mans het ʼn ruk daarna my vriend gelos en my probeer gryp. Ek het probeer terugbaklei.”

Die jong man het iewers in die proses sy balans verloor en op die teerpad geval.

“Die ander man het iets vasgehou wat soos ʼn vuurwapen lyk en het gedreig om my te skiet. Ek het my selfoon vir hulle gegee, opgespring en weggehardloop.”

Die mans het in die motor geklim en weggejaag.

“My vriend was nêrens in sig nie en ek het met die pad op gehardloop om na hom te soek. Ek het hom sowat 700 meter van die toneel by ʼn aftreeoordkompleks gevind. Daar was ʼn veiligheidswag van CSI wat ons gehelp het.”

Die mans het besluit om nie die voorval by die polisie aan te meld nie.

Sindikaat

Dana Bloem, eienaar en uitvoerende hoof van CSI, sê die maatskappy se veiligheidswagte het die afgelope maand al op vier soortgelyke voorvalle in Pretoria gereageer. Hy vermoed die voorvalle is die werk van ʼn sindikaat waar diewe op kuierplekke en kroeë in die ooste van Pretoria toeslaan.

Hy sê die meeste voorvalle vind laatnag of vroegoggend (tussen 01:00 en 04:00) plaas. In die meeste gevalle word jong mense geteiken wat aanlyn taxidienste bespreek om van ʼn kuierplek huis toe te gaan.

“Die skelms teiken veral die jong mense ná ʼn aand uit omdat hulle weet die jonges fokus dan nie soos hulle moet nie. Die kans dat hulle dan in die verkeerde motor klim, is goed,” sê Bloem.

Volgens Bloem ry die boewe gewoonlik in motors wat lyk soos die taxi’s wat deur bekende taxidienste gebruik word.

“Die skelms wat hulle as taxibestuurders voorgee, is gewoonlik gewapen en is agter jou besittings aan. Mense moet nie dapper wees en dié skelms teengaan nie, want hulle is gevaarlik.”

Die taxidiens Uber sê maak hy gebruik van die beste tegnologie om bestuurders en kliënte ten alle tye veilig te hou. Die diens sê dit is belangrik dat kliënte die motorbestuurder se besonderhede voor die rit nagaan en dat mense hul gevoel moet vertrou wanneer ʼn situasie hulle ongemaklik maak.

Wees waaksaam

  • Maak seker jy wag op ʼn veilige en goed verligte plek, verkieslik saam met iemand wat jy vertrou, tot jou bevestigde bestuurder opdaag.
  • Wanneer die voertuig naderkom, maak seker die registrasienommer stem ooreen met dié van die voertuig wat op die app wys.
  • Kontroleer dat die voertuig se fabrikaat en kleur ooreenstem. ’n Foto van die voertuig se kleur en fabrikaat word op die app verskaf.
  • Vra jou bestuurder se naam en kyk na sy of haar foto op die app. Dié foto kan op die app vergroot word.
  • Teken in op die “verifieer jou rit”-kenmerk deur na die programinstellings te navigeer en op “verifieer jou rit” te klik. Van daar kan jy kies om die kenmerk te gebruik. Die opsie maak gebruik van ʼn PIN om te verseker jy klim in die regte voertuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nozi ·

Ek verstaan nie, hoekom nie die voorval by die polisie aanmeld nie. Nou gaan hierdie boewe maar net voor met dit waarmee hul besig is. As so iets met jou gebeur, meld dit aan!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.