Bokkaptein Siya Kolisi ondergaan knie-operasie

Siya Kolisi is SA Rugby se speler van die jaar. (Foto: Rodger Bosch/AFP.)

Die Springbokkaptein, Siya Kolisi, het Vrydag ʼn operasie aan sy knie ondergaan, het ʼn vertroulike bron Vrydag aan AFP bevestig.

Dié operasie kom net vier maande voor die Wêreldbeker-rugbytoernooi.

Die 31-jarige flank is verlede naweek tydens ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd in Durban beseer, wat vrese laat ontstaan ​​het dat hy die Wêreldbekertoernooi in Frankryk, wat op 8 September begin, kan misloop.

“Nadat talle spesialiste geraadpleeg is, het Siya vandag ʼn operasie in Kaapstad ondergaan,” het die bron op voorwaarde van anonimiteit aan AFP gesê.

Volgens die eNuus-joernalis Percivale Young het Kolisi se vrou, Rachel, ook bevestig dat haar man ʼn operasie ondergaan het vir ʼn gedeeltelike skeur aan sy voorste kruisligamente. Kolisi sou vandag ʼn nasionale orde van pres. Cyril Ramaphosa ontvang het, maar kon die seremonie uiteraard nie bywoon nie.

Kolisi word met die Nasionale Orde van Ikhamanga vereer, ʼn toekenning wat aan Suid-Afrikaners wat op die gebied van kuns, kultuur, letterkunde, musiek, joernalistiek en sport uitblink, toegeken word.

Kolisi is vandeesweek meegedeel dat ʼn operasie hom vir tot nege maande kan uitskakel, wat beteken dat hy dalk nie tydens die Wêreldbekertoernooi sal kan speel nie.

ʼn Afsonderlike bron het egter aan AFP gesê daar is “hoop” dat die voorspeler betyds kan herstel om Suid-Afrika te lei wanneer hulle die titel verdedig wat hulle vier jaar gelede in Japan gewen het.

“Die oortuiging vroeg vandeesweek was dat ʼn operasie Siya uit die Wêreldbeker sou haal, maar dit lyk nou of daar hoop is dat hy dalk betyds kan herstel.

“Ons gaan baie positiewe én negatiewe reaksies ná die operasie lees, maar die waarheid is dat niemand nou seker kan wees hoe lank sy herstel sal neem nie,” het die bron gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.