Bokke se 33 aangewys

Die Springbokke se Wêreldbeker-groep is vandag aangekondig. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Jacques Nienaber het dit as een van die taaiste keurprosesse nóg beskryf, maar die Springbok-span wat sy wêreldtitel in Frankryk gaan verdedig, is bekend.

Die groep van 33 spelers sluit 12 spelers in wat hul Wêreldbeker-buiging in Frankryk kan maak, maar daar is geen teken van ervare strydrosse soos Handré Pollard, Lukhanyo Am en Lood de Jager nie.

Am het ʼn kniebesering in die Springbokke se jongste oorwinning teen Argentinië in Buenos Aires opgedoen en hy sal waarskynlik vir vier weke op die krukkelys wees.

Pollard het op sy beurt nog nie voldoende van sy kuitbesering herstel wat hy in die aanloop tot die Engelse Premierliga-halfeindstryd tussen die Leicester Tigers en die Sale Sharks opgedoen het nie.

Handré Pollard het nie voldoende van sy kuitbesering herstel nie. (Foto: Charly Triballeau/AFP. )

Hoewel die Tigers ʼn week later gesê het die Springbok-losskakel behoort nie te lank op die krukkelys te wees nie, sal hy steeds werk saam met die Bokke se mediese span moet doen.

Daarteenoor sal De Jager spesialisbehandeling vir ʼn borsprobleem ondergaan.

Die Springbok-bestuurspan hou egter duim vas dat die drie spelers terug op die oefenveld vóór die aanvang van die toernooi is. Hulle is op bystand indien nog ʼn beseringspook sy kop in die Bok-kamp uitsteek.

“Enige speler in die aanvanklike oefengroep sou homself uitstekend van sy taak gekwyt het, maar beserings het ʼn rol in die finale spankeuse gespeel. Die wedstrydgereed-uurglas het egter ook ongelukkig vir ʼn paar kampioenspelers leeggeloop,” het Nienaber gesê.

Die Springbok-afrigter is egter tevrede met die diepte van die groep nadat hy 38 spelers ʼn kans in die span se laaste vier toetse gegee het.

“Ons het ʼn groep gekies met spelers wat in verskillende posisies kan speel – ʼn vereiste in ʼn taai Wêreldbeker-uitdaging.”

Siya Kolisi is terug op sy pos as kaptein en hy sal op die steun van ervare spelers soos Eben Etzebeth, Willie le Roux, Faf de Klerk, Duane Vermeulen en Steven Kitshoff staatmaak.

Onder die spelers wat hul Wêreldbeker-buiging kan maak, is Ox Nche, Deon Fourie, Jasper Wiese, Kurt-Lee Arendse en Grant Williams.

Die Springbokke speel hul eerste Wêreldbeker-wedstryd op 10 September teen Skotland in Marseille.

  • Springbokke se Wêreldbeker-groep:

Stutte: Steven Kitshoff, Vincent Koch, Frans Malherbe, Ox Nche en Trevor Nyakane.

Hakers: Malcolm Marx en Bongi Mbonambi.

Slotte: Eben Etzebeth, Jean Kleyn, Marvin Orie en RG Snyman.

Losvoorspelers: Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (kaptein), Kwagga Smith, Marco van Staden, Duane Vermeulen en Jasper Wiese.

Veelsydige voorspelers: Deon Fourie en Franco Mostert.

Skrumskakels: Faf de Klerk, Jaden Hendrikse, Cobus Reinach en Grant Williams.

Losskakels: Manie Libbok en Damian Willemse.

Senters: Damian de Allende, André Esterhuizen en Jesse Kriel.

Vleuels/heelagter: Kurt-Lee Arendse, Cheslin Kolbe, Willie le Roux, Makazole Mapimpi en Canan Moodie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Charles ·

YAYYYYYY! YAAAYYYYYY!! YAAAAYYYYYYYYY!! GO go GO go GO go GO go!!!!

Ek verkies gholf.

piet ·

Kolisi is reg om te speel. Mag nie meer spelers vat nie want die getal is vasgestel deur Wereld Rugby vir die toernooi.

Euodia ·

Stem saam! Daar is ander wat die kapteinskap kan oorneem soos Vermeulen en selfs Kitshoff.

Sobymykoolkop ·

Seker om dieselfde rede toe hulle daai oordeelsfoutjie gemaak het om ń beseerde Bob Skinstad saam te vat.

Jack Russ1 ·

As ek nou ‘n wilde raai moet vat, dan het dit seker maar te doen met hoe ernstig die spelers beseer is en waneer daar verwag is dat die speler weer reg gaan wees om te speel.

Andrè ·

Nou wat van Evan Roos,is Jasper Wiese of selfs Thor Vermeulen regtig ñ beter speler,of gaan dit nou weer ñ speler wees wat ons aan ñ ander land moet afstaan

piet ·

AB’s of Frankryk. AB’s is definitief beter as ons en Frankryk het tuisvoordeel en ‘n spogspan hierdie keer. Ierland is ‘n buiteperd.

Andre ·

Begin hulle al weer om te kniel, nou vir ‘n pet soos op tv gewys? Gaan maar voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.