Bonitas skitter tydens pandemie

Omdat talle sogenaamde gekose prosedures weens Covid-19 opgeskort is en daar minder traumagevalle en medies-verwante uitgawes was, het die fonds selfs verder geld bespaar. (Foto: Steve Buissinne/pixabay)

Die Bonitas- mediese fonds het ʼn skitterende vertoning agter die rug, ten spyte van die Covid-19-pandemie wat dit ʼn nagmerriejaar vir talle ander bedrywe gemaak het.

Die groep het meer as 333 000 hooflede en net meer as 710 000 afhanklikes, wat altesame 14% van die mark vir oop mediese fondse en ʼn algehele markaandeel van 8,3% verteenwoordig.

Die fonds se finansiële verslag vir 2020 spog met aansienlik versterkte reserwes van R6,1 miljard en die groep het verlede jaar afgesluit met ʼn ongekende surplus van R1,7 miljard. Dit is die hoogste wat nóg deur die fonds verklaar is en word hoofsaaklik toegeskryf aan onderdrukte nie-Covid-19-verwante eisuitgawes.

“Die surplus is ook positief beïnvloed deur die doeltreffende implementering van ons strategiese pilare, proaktiewe risikobestuur en verantwoordelike raadsbesluite in ʼn unieke – hoewel onbestendige – jaar,” sê Luke Woodhouse, hoof‑ finansiële beampte van Bonitas.

Woodhouse sê die fonds se doel op mediumtermyn is om solvensievlakke bo die verpligte minimum van 25% vol te hou en om betekenisvolle, strategiese besluite te neem oor bestaande reserwes. Dít ten spyte van onsekerheid veral rakende die koste van behandeling en die langtermynuitwerking van Covid-19, nie-Covid-19-gebruike en die verspreiding van entstowwe.

Bonitas se reserwes staan nou op R6,1 miljard, waar dit ʼn jaar tevore op R4,3 miljard gestaan het. Die fonds het ʼn netto surplus van R1,7 miljard (in vergelyking met R186,1 miljoen in 2019) en ʼn solvensieverhouding van 32,7% (pleks van die 24,9% waarop dit in 2019 gestaan het).

Die fonds sê strategiese aankope het hospitaal-onderhandelde besparings van R346 miljoen tot gevolg gehad (dit was R370,4 miljoen in 2018).

Omdat talle sogenaamde gekose prosedures weens Covid-19 opgeskort is en daar minder traumagevalle en medies-verwante uitgawes was, het die fonds selfs verder geld bespaar.

Die netto getal eise het sedert 2019 met 4,7% verminder tot R14,3 miljard.

Bonitas sê hoewel Covid-19 aansienlike kapasiteitsbeperkings op die gesondheidstelsel geplaas het, het druk op alle ander gebiede van gesondheidsorg as gevolg van oormatige gebruik en inflasie van mediese koste op ʼn langtermynbasis verlangsaam. Dit het geskied teen die agtergrond van onsekere markte, rekordlae-rentekoerse, verhoogde werkloosheid en ʼn afname in inkomste.

Die fonds sê ook die aansienlike surplus in kapasiteit was sistemies binne die hele gesondheidsorgbedryf.

Hoewel sekere kategorieë soos hospitaalopnames aansienlik afgeneem het en ʼn groot getal gekose prosedures gekanselleer is, sê Bonitas daar was ʼn merkbare toename in medisyne-eise en koste.

Die fonds waarsku egter dat onderbediening op die lange duur egter tot hoër mediese koste kan aanleiding gee. Die kombinasie van hierdie faktore het gelei tot minder eise en ʼn omgewing waar Bonitas aktief volgehou het om koste te bestuur, bestuurde sorg te bevorder en na die vertoning van beleggings om te sien.

Die fonds sê die grootste kosteaandrywers was Covid-19 verwant. Dit sluit in hospitaalopnames, beleggings in persoonlike beskermingstoerusting, patologiekoste, tuisversorging, gesondheidsteun aan lede in die werkplek, medikasie en die uitstel van gekose prosedures.

Die pandemie het ook gelei tot ʼn merkbare toename in navrae van mense wat by ʼn mediese fonds wou aansluit en Bonitas het in dié tyd 37 814 nuwe lede bygekry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JohanR ·

Ek is met Discovery, wat lyk my is besig om agteruit te boer. Moet ek Bonitas toe trek?

Jacques ·

Daai winste wat die mediese fondse verklaar, is mos nie vir hulle aandeelhouers nie, dit behoort aan die lede, of hoe? Dis een rede waarom medies so absurd duur is.

SwartBees ·

Dit maak tog meer sin dat daai extra geld terug geploeg word aan sy lede, So kan die lede gelde nie so skerp styg nie en kan minder bevooregte mense ook gebruik maak van medies.

Elinette ·

Dis vir my absoluut belaglik – “wetgewing” bepaal dat iemand wat nie lid van ‘n mediese fonds was vir 6 jaar of meer, omtrent dubbel-belas word as hulle aansoek doen om lidmaatskap van ‘n mediese fonds en kan nie binne die eerste 12 maande enige iets eis vir chroniese medikasie of -voordele nie. Dis dáárom dat ek maar elke keer in die ry moet gaan sit by ‘n staatskliniek om my chroniese medikasie te kry. Ek kan eenvoudig nie mediese fonds bekostig nie.

Alet ·

Jy is doodreg. My broer het maar eindelik by Bonitas aangesluit en sy kinders het klippe gekou om ledegeld te betaal. Eers na jaar sou hy kon eis. Het gangrene in sy voet gekry 5 maande na hy aangesluit het en kinders moes verder klippe kou om dit te betaal vir privaat hospitaal omdat hulle nie hulle pa in staatshospitaal wou laat opereer nie. Bonitas het nie saak gehad of dit lewensbedreigend was of nie. My broer is oorlede dieselfde dag wat hulle hom sou uitplaas rehab toe.

Mariana ·

Jy is nie die enigste een nie en hulle spog lekker met hul winste en dit terwyl hul lede astronomiese bedrae moet opdok.

Agge nee ·

Al hierdie wonderlike groei en prestasie e tog is ledegeld verhoog. Sou die lede nie bly gewees het as dit in hierdie moeilike tyd onveranderd gelaat was nie? Ek glo so.

LANA is ELANè ·

Maw geen verhoging vir hul lede die jr? Discovery is onbekostigbaar met AL hul produkte en jaarlikse verhoging kan jy maar weet is ‘n gegewe, ongeag hul prestasie en hulle is redelik traag om eise uit te betaal, soek altyd na rede waarom hulle nie gaan uitbetaal nie.

Francois Le Cochon ·

Wat vir my werk is ‘n goedkoper plan met perke en dan ook ‘n ” gap cover”. Dit is beter as ‘n duur alomvattende plan sonder perke. Ek betaal nou wel in, maar oor ‘n jaar betaal ek nogsteeds minder.

Elize ·

Wees verseker die ANC gaan hulle kloue in hierdie miljarde inslaan en net vat

pieter ·

Ja dis goeie nuus vir hulle , net jammer die lede geld is baie duur , verhogings in lede geld elke jaar en voordele
Word Al hoe minder.

Johan ·

Vryheid het n prys nè. Neem mense se vryheid om te beweeg bv. weg en daar is minder wat seerkry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.