Borgtog vir 11 van metropolisie wat glo aanrand

‘n Foto van een van die mans wat glo deur TMPD-beamptes aangerand is.

Al 11 beamptes van die Tshwane-metropolisie (TMDP) wat vroeër die maand in hegtenis geneem is vir die beweerde aanranding van drie lede van die publiek is borgtog toegestaan.

Tien van die groep van nege mansbeamptes en twee vrouebeamptes is Maandag in die Pretoriase landdroshof borgtog van R2 000 elk toegestaan. Die verdagtes is Lebogang Lekoadi (35), Busana Nhlanhla (43), Humbule Khadammbi (35), Clemens Mokabene (37), Lefalela Nelson Matuba (44), Kabelo Lenyai (29), Siphamanala Sibanyoni (29), Tshikani Dennis Valoyi (38), Phangani Chauke (34) en Edgar Chuene (41).

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die elfde verdagte, Richard Masilela (45), is Dinsdag afsonderlik borgtog van R3 000 toegestaan weens ’n hangende korrupsiesaak teen hom in die Bronkhorstspruit-landdroshof.

Die 11 beamptes is Vrydag in hegtenis geneem in verband met ’n voorval vroeër die maand waar drie lede van die publiek glo by ’n skutwerf in die Pretoriase middestad aangerand is.

Maroela Media het vroeër berig die drie mense is glo aangerand toe hulle probeer het om ’n voertuig terug te kry wat op 2 Oktober deur TMPD-beamptes geskut is.

Mahanjana sê een van die klaers, Bheki Shezi, het sy motor op 2 Oktober omstreeks 22:30 in Kerkstraat in die Pretoriase middestad geparkeer voordat die voertuig deur die TMPD geskut is.

Shezi en twee vriende is toe na die metro se skutwerf om die voertuig te gaan haal.

Veiligheidsbeamptes het die mans glo toegang tot die perseel geweier en die metropolisie om hulp genader. Dit is toe dat die beskuldigdes na bewering uitgekom en die klaers met onder meer sambokke aangerand het.

Die TMPD se verweer is dat die mans met geweld die voertuig probeer terugkry het.

Shezi en sy vriende is ná die voorval toegelaat om vir die voertuig te betaal en is met die motor vort, waarna hulle ’n klag van aanranding teen die beskuldigdes aanhangig gemaak het.

Die onafhanklike polisieondersoekeenheid (Opod) ondersoek die voorval.

Die groep metropolisiebeamptes sal na verwagting weer op 3 Desember in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anel ·

Kan defnitief nie aanranding gewoon wees nie. Eerder met die doel of poging tot moord. Dank die spul af en, gooi hulle is die tronk en gooi die sleutel weg. Dis wat hulle met hul eie mense maak, wat maak hulle nie met ander bevolkingsgroepe nie? Geen wonder niemand vertou meer die staat se beskermingsdienste nie. Hoekom moet die mense belasting betaal sodat ons die lot moet vrees? Ek dink die publiek moet die reg hê om aan te dring dat diesulkes, wat veronderstel is om ‘n diens te lewer, as hulle oortree, ontneem word van hul pesioen en tronk toe moet gaan. ALLE STAATSDIENSWERKERS!!!

Deon ·

Dis vir my opvallend dat hier, net soos die gyselaars drama, dat daar van die aangeklaagdes is wat ook by “ander” kriminele sake betrokke is.

SomeOne ·

klomp bangg…e, 11 teen 3, julle behoort julle te skaam, maar julle weet ook nie wat die woord beteken nie

Heinrich ·

Van wanneer af is sambokke deel van die toerusting wat polisie gebruik in die uitvoering van hulle pligte? Tien gewapende polisie beamptes kon nie twee oproerige knape onder beheer bring nie? Our people het toe geen respek vir die polisie nie en our people wat polisie uniforms aan het, het geen idee hoe om wetstoepassing te doen nie. Met trots geborg deur die ANC wat nou eers nog ‘n straat of dorp moet gaan hernoem.

Vernon ·

Dis omdat die Metro lede onbevoeg is,heel waarskynlik nie eers n wettige matriek nie. Oo wee red ons tog van hierdie narre spul in Pretoria…

JohnnyS ·

Ongelukkig is dit al taal wat sommiges verstaan. Onthou die storie het ‘n ander kant ook.

Philip ·

In my jeugjare is daar altyd verwys na die munisipale amtenare as spietkops sonder enige arrestasie vermoens wat skool padpatrollies gemonitor het.Ons het in ons jongmansdae na die ouens verwys as ducktails wat nie n motorfiets kon bekostig nie en nie kon spel nie en jou knaend gevra het hoe jy woorde spel as hy n boete aan jou uitreik

Kokerboom ·

Wat soek die krimineel Mahanjana in diens as hy ‘n klagte teen hom het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.