Borgtog vir nog ʼn verdagte in Thabo Bester-saak

Joel Makhetha en sy regsverteenwoordiger, Tshepo Thusi, in die landdroshof in Bloemfontein (Foto: Becker Semela/GroundUp)

Deur Marecia Damons en Becker Semela, GroundUp

Nog ʼn G4S-tronkbeampte wat glo die veroordeelde moordenaar en reeksverkragter Thabo Bester in Mei verlede jaar uit die Mangaung-gevangenis in Bloemfontein help ontsnap het, is op borgtog vrygelaat.

Joel Makhetha en Moeketsi Ramolula het Dinsdag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn. Makhetha is op borgtog van R10 000 vrygelaat. Ramolula het sy borgtogaansoek laat vaar.

Makhetha en Ramolula is twee weke gelede in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by Bester se ontsnapping. Hulle staan tereg op aanklagte wat verband hou met lykskending, hulp aan ʼn gevangene tydens ʼn ontsnapping en korrupsie.

Albei was tronkbeamptes en is vroeër vanjaar deur G4S geskors.

Tydens hul borgtogverhoor het Ramolula se prokureur, Adriaan Janse van Rensburg, aan die hof gesê sy kliënt het intussen besluit om sy borgtogaansoek te laat vaar.

Makhetha se prokureur, Tshepo Thusi, het aan die hof gesê dat Makhetha saam met sy lewensmaat in Botshabelo in Mangaung woon en dat hy vier kinders, tussen nege en 24 jaar oud, moet onderhou.

Thusi sê Makhetha is met betaling geskors en verdien R17 244 per maand. Hy het verder aangevoer dat Makhetha geen vorige veroordelings of hangende sake teen hom het nie.

Makhetha het in sy beëdigde verklaring gesê dat hy “sterk emosionele bande in Botshabelo het en dit is hoogs onwaarskynlik dat hy sy verhoor sal ontduik”.

“Ek is by die huis in hegtenis geneem en het tydens my inhegtenisneming my volle samewerking aan die polisie gegee,” het Makhetha aangevoer.

Hy sê hy weet ook nie wie die staat se getuies is nie en sou hul identiteit aan hom bekend gemaak word, sal hy nie met dié getuies inmeng nie.

Makhetha het sy paspoort aan die polisie oorhandig en beoog om die aanklagte wat teen hom aanhangig gemaak is, teen te staan, het Thusi gesê.

Die staatsaanklaer, adv. Sello Matlhoko, het nie Makhetha se borgtogaansoek teengestaan nie. Hy het ook aan Thusi ʼn lys van die 18 staatsgetuies gegee wat volgens hom reeds verklarings afgelê het.

“[Thusi] het bevestig dat die getuies wat reeds verklarings afgelê het, onbekend is aan die beskuldigde. Daar is dus geen waarskynlikheid dat hy met die getuies sal inmeng nie. Daar is ongeveer 18 getuies met wie hy nie mag kommunikeer of inmeng nie,” het Matlhoko aan die hof gesê.

Landdros Estelle de Lange het gesê ʼn skedule 5-oortreding staar Makhetha nietemin in die gesig. Om te bepaal of dit in die belang van geregtigheid is om Makhetha op borgtog vry te laat, het De Lange gesê dat sy art. 64 van die Strafproseswet in ag moet neem.

Die artikel handel daaroor of die beskuldigde wat om borgtog aansoek doen ʼn vlugrisiko is, of die aansoeker gaan probeer om getuies te beïnvloed of te intimideer, of die persoon die funksionering van die strafregstelsel in gevaar stel, die openbare orde versteur of die openbare vrede of veiligheid ondermyn indien hy of sy op borgtog vrygelaat word.

“Ek vind dat geen van hierdie faktore in hierdie aansoek aanwesig is nie,” het De Lange gesê en borgtog van R10 000 aan Makhetha toegestaan.

Sy borgtogvoorwaardes verbied hom om met enige getuies kontak te maak. Hy mag nie Bloemfontein verlaat sonder die toestemming van die ondersoekbeampte nie en moet elke Maandag tussen 08:00 en 16:00 by die Bloemspruit-polisiekantoor aanmeld.

Tot dusver is 12 mense aangekla in die Bester-ontsnappingsage. Hulle sal na verwagting op 8 Augustus saam in die hof verskyn. Altesame 16 aanklagte staar die beskuldigdes in die gesig.

  • Die berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Op die ou einde sal almal vry gaan en nooit die binnekant van ‘n tronk sien nie!

Sê maar net ·

Almal kry net borgtog…skandelik en onaanvaarbaar. Dit wil my voorkom dat misdadigers meer regte as slagoffers in hierdie land het. Ons regstelsel is ook in die drein af…..

Papsak ·

Ja in hierdie reenboog land gaan dit lekkerrrr mos jaag aan en almal loop nog vry rond niemand word gevang of toe gesluit nie beste van als

SjN ·

As regte prosedures en protokol uitgevoer was moet die hele afdeling betrokke gewees het?

Shakespeare ·

Almal wil hê die kriminele moet tronk toe. Het julle al gedink hoeveel duisende tronke gebou sal moet word as al die kriminele tronk toe moet gaan ? Net die regering en saamlopers sal ten minste 100 tronke moet hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.