Borgtog vir twee van polisie wat glo bande, kragopwekkers buit

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

Twee Oos-Kaapse polisiebeamptes is op borgtog van R500 elk vrygelaat nadat hulle in besit van vermoedelik gesteelde staatseiendom van sowat R1 miljoen betrap is.

Ao. Johannes Gerber en ao. Lawrence Plaatjies, albei verbonde aan die polisie se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies op Graaff‑Reinet, het Donderdag – dieselfde dag as wat hulle in hegtenis geneem is – op aanklagte van diefstal en die besit van vermoedelik gesteelde goedere in die landdroshof op die dorp verskyn.

Ao. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê die twee is ná ʼn week lange ondersoek deur ʼn span speurders verbonde aan die provinsiale teenkorrupsie-eenheid aangekeer.

Die span het Donderdag omstreeks 06:00 op die private wonings van die twee polisiebeamptes toegeslaan en beslag gelê op staatseiendom met ʼn waarde van sowat R1 miljoen.

Dié eiendom sluit volgens Nkohli in splinternuwe motorbande, vrieskaste, ʼn vrieskas, yskas en diesel-kragopwekkers.

Genl.maj. Lillian Mene, provinsiale polisiehoof, het ook ʼn streng waarskuwing aan diegene in polisiegeledere gerig: “Daar is geen ruimte vir korrupte beamptes in die polisie nie. Ons volg ʼn benadering van geen genade nie om te verseker ons kry diegene wat met die gereg bots, voor stok.”

Die saak teen Gerber en Plaatjies is tot volgende maand uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Otto ·

R500 borgtog is seker ‘n behoorlike waarkuwing dat misdaad nie geduld sal word deur SAPS nie …………..

Duck ·

Aag siestog, los hul maar, die pay is seker te min nou wil hul so ‘n bietjie aanvul

Leon ·

Hy gaan seker die R500 nog afbetaal oor 2 jaar. Hoop nie hy maak ń saak van naamskending ook nie!

Ben ·

R500 vir ñ miljoen rand se goed……. Dis ñ “bargain”
What a joke…..

Philip ·

R500 borgtog vir miljoen rand se diefstal, voorwaar n streng waarskuwing dat korrupte polisiebeamptes nie geduld word nie, as die situasie nie so ernstig was nie kon ‘n mens vir die onbeholpe klomp narre gelag het, maar die skepsels verwag respek…

Anel ·

Wat maak hulle met vrieskaste en kragopwekkers? Perlemoen. Dis maar hoe my kop wonder! Ek sê nie dat dit so is nie, maar mens kan mos maar wonder. En is hulle nou afgedank of geskors met voordele? En dan is hulle ook nie meer jonk nie! Hoe dom kan ‘n mens nie wees nie!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.