Bosasa betaal glo maandeliks miljoene se omkoopgeld

Angelo Agrizzi. Foto: Itumeleng English/ANA

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het Woensdag gehoor die omstrede fasiliteite-bestuursgroep Bosasa het glo maandeliks tussen R4 en R6 miljoen se omkoopgeld betaal.

Angelo Agrizzi, voormalige operasionele hoof by Bosasa, het voor die kommissie getuig dat Bosasa glo vakbondleiers in hul sak gekry het om hul sake te doen by Sasol en ander staatsbeheerde maatskappye, insluitend die Poskantoor en Lughawemaatskappy (ACSA).

Volgens Agrizzi het Simon Mofokeng van die vakbond CEPPAWU ʼn salaris ontvang van Gavin Watson, Bosasa se uitvoerende hoof, om druk te plaas op Sasol om vir Bosasa kontrakte te gee. Hy het ook gesê Mofokeng het maandeliks kruideniersware en kontantbetalings gekry en dat sy vrou later deur Bosasa aangestel is.

Watson het sy sakevennoot, Danny Mansell, uitgekoop by Bosasa nadat die verhouding tussen die twee versuur het, volgens Agrizzi. Hy het toe glo die aandele wat hy by Mansell gekoop het, gebruik as ʼn front vir swart ekonomiese bemagtiging.

Watson het glo ʼn veldtog van stapel gestuur om ʼn aantal kontrakte in die spyseniering- en fasiliteitebestuur-industrie te bekom. Volgens Agrizzi het Watson hom eendag gebel om ʼn vergadering met Mofokeng by te woon. Mofokeng moes glo in die tyd ʼn spysenieringstender vir Bosasa by Sasol bekom. Hy het hulle glo aangeraai om die prys vir die tender aan te pas.

“Watson het my gevra om met Mofokeng te ontmoet en druk op hom te plaas sodat hy druk op sy vakbond kon plaas om ʼn werkstilstand te bewerkstellig sodat Sasol se bestuur die tender vir Bosasa sal gee.”

Bosasa se spysenieringskontrak met Sasol was van 1999 tot 2002 in plek waarna dit ontbondel is en aan ʼn maatskappy wat deur Gregg Lacon-Allan besit is, verkoop is. Lacon-Allan het saam met Agrizzi by Molope Foods gewerk.

Angelo Agrizzi. Foto: Itumeleng English/ANA

“Ek is normaalweg aangesê om Mofokeng se kruideniersware maandeliks voor te berei. Watson het my beveel om verskeie goed, insluitend braaipakke en koeldranke te bring wat aan Mofokeng afgelewer moes word.”

Volgens Agrizzi is die koste hiervan as bedryfkostes in die maatskappy se boeke aangeteken en het elke bestelling tussen R10 000 en R15 000 gekos maar Mofokeng het soms nog vleis versoek.

Agrizzi het ook voor die kommissie getuig dat toe ʼn vyfjaarkontrak deur ACSA aan Bosasa toegeken is om veiligheid te voorsien in die parkade by die OR Tambo-lughawe in 2011, hy hope kontant na die lughawe sou vat om betalings te maak aan sekere individue wat vir ACSA gewerk het.

Volgens Agrizzi was daar ook gevalle waar direkteurs na Watson sou kom en geld sou vra vir kontant om as omkoopgeld te gebruik. Agrizzi sou dan na die inloopkluis stap om die geld te kry. Volgens hom was die omkoopgeld enigiets tussen R5 000 en R1 miljoen. Hy het getuig Bosasa het maandeliks tussen R4 en R6 miljoen in kontant aan omkoopgeld bestee.

“Dit was ʼn druppel in die emmer gegewe die maandelikse omset. Die kontant in Watson se inloopkluis is net vir omkoopgeld gebruik en vir niks anders nie.”

Agrizzi sal Donderdag met sy getuienis voortgaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Johann cb ·

Hierdie ontploffing gaan hopelik baie beserings veroorsaak!

Petro ·

Ek kyk tans Narcos op Netflix.. Die Bosasa spul operate presies dieselfde… Skokkend skelm en korrup… Mafia

Welcome in Africa ·

Geen “helde” gaan val nie. Geen van hierdie korrupte spul is ooit werklik aangekla nie en van hierdie staatskapping ondersoek gaan daar ook niks kom nie.

Frikkie ·

Nog niks oor die garnaalplaas op Krugersdorp wat na vore gekom het nie?

Johan ·

Daar sal niks met die gekotse Watsons gebeur nie . Die geld is na Anc. Hul beskerm hom .

Jan B ·

Die soustrein sal nooit ontspoor nie. Soos hulle afval klim daar net weer op!!!

Snowball ·

Is mos nou die einste Bosasa se donasies waaroor Ramaphosa so moes lieg en bontstaan…. ? party koop darem so lekker om. Gulsige spulletjie…

Pampoen ·

Sjoe skokkend.? Nou wonder ‘n mens net wat se wurms kan by die NSAW sê voort settingsfonds en Staats pensioen fonds uitkruip as daar ook ondersoeke gedoen kan word.

charmaine ·

Inloop kluis met miljoene!!!! Wow wonder wie se geld was dit?Nog Gupta en belastingbetaler se geld? Wens ek het geweet van n inloop kluis waar ek net kon gaan skep.
Hulle doen al hierdie goed nou voor verkiesing hulle speel die spel nice.

Spike ·

Die comrades en kaders sal niks oorkom nie. Hulle cover mekaar. Sien gisteraand cyril word ook betrek.

Justice ·

Daardie instapkluis het moontlik miljoene se belasting geld ook verdoesel – ek hoop dat die kanarie gaan aanhou sing.

thelsa ·

Die amptelike geldeenheid in SA is reeds laankal die ‘Bribe’

Karin ·

Vir hierdie man se part hoop ek hy word iewers mooi opgepas deur betroubare sekuriteitsmense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.