Botsing by Kuruman eis 11

Die ongelukstoneel op die N14. (Foto: Facebook)

Elf mense is Sondag naby Kuruman in die Noord-Kaap dood toe ’n Audi en ʼn Volkswagen Polo reg van voor op die N14 gebots het.

’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat een van die motors moontlik ’n ander voertuig probeer verbysteek het en toe ’n aankomende motor getref het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici was omstreeks 16:50 op die toneel sowat 21 kilometer buite Kuruman. Twee motorwrakke het in die middel van die pad gestaan en wrakstukke het die toneel besaai.

Paramedici het ’n man aangetref waar hy leweloos buite een van die wrakke gelê het. Tien ander mense was nog in die twee motorwrakke vasgekeer, vyf slagoffers in elke voertuig.

Die N14 in die Noord-Kaap. (Foto: Kuruman Accident and Emergency News/Facebook)

Al 11 pasiënte het in daardie stadium reeds aan hul beserings beswyk.

“Niks kon vir hulle gedoen word nie en hulle is dood verklaar.”

Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê dit word beweer dat die Audi ten tyde van die botsing ses mense vervoer het en die VW Golf vyf.

Die identiteit van die slagoffers sal bekend gemaak word sodra hulle geïdentifiseer en hul naasbestaandes in kennis gestel is.

Die polisie in Mothibistad naby Kuruman ondersoek intussen ’n saak van strafbare manslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Mense het geen respek meer vir die wette van die land nie en ry soos maniakke. As ons verkeerspolisie meer sigbaar was en mense vervolg word wat oor sperstrepe verby steek, sal sulke voorvalle verminder.
Meeste bestuurders is ook vreeslik ongeduldig en vat kanse.

Maggies ·

Kan iemand dalk aan my verduidelik, asseblief?
Hoe word ‘n saak van Strafbare manslag ondersoek in so geval?
Al die mense wat in die geval hier betrokke was is dan dood.

CJSH ·

Standaardprosedure. Saak word oopgemaak en weer afgesluit. Papierwerk.

Manie ·

Strafbare manslag beteken jy het iemand se dood onbeplan veroorsaak en nie moedswillig nie, dis moord.

Kensy ·

Opset ontbreek by strafbare manslag, terwyl moord opstet insluit.

E ·

Die ondersoek moet bevind dat dit een van die bestuurders se skuld was en nie bv ‘n gat in die pad of ‘n dier of enige iets anders wat die oorsaak kon wees van die ongeluk. Versekering versoek ook ongeluksverslae voor hulle uitbetaal.

hantie ·

Dankie vir julle almal se verduidelikings, want Maggies ek het ook nie verstaan nie….gewonder of ek blond of net plainweg dom is ????

Leana ·

party het geen respek vir sperstrepe, weet nie hoe om ‘n flikkerlig te gebruik nie.. Geen respek vir van ons wat by ons spoed hou ens. klomp lewens onnodig daarmee heen net oor een haastig was…

Kensy ·

n Voorlopige ondersoek dui daarop dat een van die motors moontlik ’n ander voertuig probeer verbysteek het en toe ’n aankomende motor getref het….dit beteken dus daar moes n derde voertuig (getuie’s) wees?

marius ·

Reg van voor verduidelik alles . Daar is geen gevolge vir potensiele padmoordenaars nie want die regeerders van die hool gee nie ‘n duit om nie .

Pierre ·

maak nie saak nie my geld is op die party wat die ongeluk veroorsaak het

Janine ·

Jy is ook een van daai wat VW bestuurders summier blameer… Koddig. Ek ry my 1900 TURBO POLO al 15 jaar. Geen ongelukke (touch wood en dank die Here!).

Jixy ·

Nee Janine. Gaan lees die berig weer. Daar word eers verwys na n Polo en toe na n Golf. Ek blameer nie die tipe kar nie. Het nog nooit nie. Wat ek wel wonder is hoe 5 mense in n Golf pas (daarom die vraag) en hoekom mense anyway sulke kanse vat.

Roek ·

Spoed kos ongelukkig bloed , dit is verskriklik maar die wetstoepassing ontbbreek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.