Botswana verbied vee vanaf SA

Botswana het die invoer van vee verbied nadat bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal uitgebreek het. (Foto: Maroela Media)

Botswana se departement van landbou-ontwikkeling en voedselsekerheid het die invoer van spleethoewige diere, waaronder vee en wild, asook verwante produkte van Suid-Afrika met onmiddellike inwerkingtreding gestaak.

Dít volg na ’n uitbreking van bek-en-klouseer onder vee in KwaZulu-Natal.

Maroela Media het die afgelope naweek berig dat dié siekte onder vee in Mtubatuba uitgebreek het.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in Suid-Afrika het gevolglik sekere gebiede in dié provinsie afgekondig vanwaar geen vee of wild tot verdere kennisgewing geskuif of vervoer mag word nie.

Die diagnose is Donderdag deur die Onderstepoort Veeartsenykundige Instituut se laboratorium bevestig.

Luidens Botswana se verklaring is alle invoere van “lewende spleethoewige diere en hul vars produkte” met onmiddellike inwerkingtreding tot verdere kennisgewing verban.

Sodanige diere en verwante produkte mag ook nie van Suid-Afrika deur Botswana vervoer word nie.

“Verder word die invoer van veldgras, produkte wat met die besmette diere se mis in kontak was en voertuie word ook nie toegelaat nie.

“Alle permitte wat vir die invoer van dié produkte uitgereik is, is onmiddellik gekanselleer,” sê Keabetswe Molebatsi, woordvoerder van Botswana se landboudepartement.

Dié departement het beloof om die publiek op hoogte te hou van verwikkelinge.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

Botswana se regering weet wat verantwoordbaarheid teenoor hulle mense beteken .

Jacobus ·

Interresant. 25 jaar gelede was invoere uit Botswana na die RSA verbied? Ook weens bek-en-klou.

Stof ·

So teleurgesteld. Ek wou so graag vir ‘n vriend in Botswana gaan kuier het, maar met my seer tand en ingroei-toonnael sal hulle my seker wegwys?

VaalDonkie ·

Intussen kos skaaptjops R199/kg hier by pick ‘n Pay. Jy sou dink bek en klou sou darem die pryse bietjie afbring

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.