Bou van kerksaal gestaak ná bouers gru-vonds ontdek

Van die menslike oorskot wat in ‘n ongemerkte graf in die kerk se terrein gevind is. (Johan Viljoen)

Geskryf deur: Johan Viljoen

Die bou van ’n nuwe saal by die historiese Swartland NG Gemeente op Malmesbury moes op die nippertjie gestaak word nadat kontrakteurs 28 grafte in die oënskynlik leë gedeelte van die kerkterrein aangetref het.

Die gemeente moes gevolglik inderhaas vir ’n noodpermit by die Wes-Kaapse Erfenisraad aanklop om die beendere te kan verwyder en met bouwerk voort te gaan. Die nodige permitte is intussen uitgereik. Hiervolgens moet die beendere wat uitgegrawe is, in ’n massagraf herbegrawe word. Die bou van die kerksaal gaan nou voort.

Volgens argeoloog Jonathan Kaplan is die identiteit van die oorledenes en wanneer hulle begrawe is, nog onbekend.
Daar is ’n sterfteregister by die NG Kerk se argief op Stellenbosch vir die tydperk 1840 tot 1910, maar daar kon nog nie met sekerheid vasgestel word of van dié inskrywings met van die betrokke grafte verbind kan word nie.

“Dit sou wel moontlik wees om met toetse die ouderdom van die beendere vas te stel.”  Maar dit kan ’n duur proses wees.

Die kerkterrein is in gebruik sedert die eerste kerk in 1751 voltooi is. Dié is intussen vervang met die huidige moederkerk wat oor jare vergroot is.
Die gemeente het nou besluit om ’n saal op die kerkterrein op te rig omdat die kerksaal wat ’n straatblok verder is, permanent verhuur word.
As deel van die aanvanklike ondersoek en aansoekproses moes die kerkraad ’n radartoets laat doen om vas te stel of daar nog grafte op die terrein is waar die bouwerk sou begin. Dit het nie enige definitiewe grafte of beendere uitgewys nie.

Kontrakteurs het 28 grafte in die oënskynlik leë gedeelte van die kerkterrein aangetref. (Foto: Johan Viljoen)

“Die kerkraad het aanvanklik toestemming van die Wes-Kaapse Erfenisraad verkry om een dubbelgraf met grafsteen van ʼn pa en dogter – JP Coetzer (1892) en Anna van Dyk (1897) wat bo mekaar begrawe is – te skuif nadat geen nasate opgespoor kon word nie.
“Daar was geen ander grafstene of ooglopende tekens van grafte op die res van die stuk grond nie,” het Denzil Holloway, voorsitter van die kerkraad, gesê.
Eers toe die kontrakteurs met ’n klein slootgrawer begin grawe, is nog oorskot ontdek.

Volgens argeologiestudent Anja Huisamen is die meeste van die oorskot wat hulle nog in hul oorspronklike plekke kon kry, in die tradisionele sogenaamde Christen-posisie ontdek: op hul rug uitgelê met arms lank oormekaar. Die reste van kiste is ook by die beendere gevind. Die oorskot van een persoon is egter in ’n half sywaartse posisie sonder tekens van ’n kis ontdek. Dié beendere dui ook op ’n persoon kleiner as die res. Dit is onseker of dit ’n volgroeide persoon was.
Kaplan sê dit laat hom wonder of van die grafte nie ouer is as die eerste kerkgebou nie.

Die nuwe kerk is in 1860 ingewy. Die gebou het enkele jare later ineengestort en is herbou voordat die toring later bygevoeg is. Dit het ook later ingetuimel en moes herbou word. Die nuwe kerk was aanvanklik kleiner voordat die twee vleuels bygevoeg en in 1899 ingewy is.
“Die grafte is besonder diep (meer as twee meter) en dit is ook vir my ongewoon. Dit laat my wonder of die grafte nie uit die vroeë 1700’s dateer nie,” sê Kaplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martie ·

Die oop terrein langs die kerk was die kerkhof. Ondermeer is ‘n paar Coetzers daar begrawe, byvoorbeeld Jeremias Petrus * 1.2.1829 † Januarie 1892 en sy dogter Anna Maria Jacoba Eksteen * 15.10.1873 † 3.11.1897 (24). Nog kinders van JP is daar begrawe en selfs sy ouers en van sy broers en susters. Daar moet ook grafte wees van die Vercueil en Eksteen families.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.