Boucher as nuwe breier aangewys

Mark Boucher. Foto: @OfficialCSA/Twitter

Mark Boucher is Saterdag as die nuwe afrigter van die Suid-Afrikaanse nasionale krieketspan aangewys.

Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika (KSA) se waarnemende direkteur van krieket, het Enoch Nkwe as die hulpafrigter aangewys.

Linda Zondi sal sy werk as hoofkeurder hervat. Faf du Plessis bly aan as toetskaptein terwyl Ashwell Prince die leisels neem van die Suid-Afrikaanse A-Span. Die toetsreeks tussen Suid-Afrika en Engeland begin op 26 Desember in Centurion.

“Ek het Boucher ingebring aangesien ek voel hy sal die taaiheid bring om ʼn jong en onervare Proteas-span gereed te kry,” het Smith gesê.

“Ek het ook die hoogste agting vir Enoch en ek wil vir hom ʼn pad oopmaak om te groei tot ʼn top- internasionale afrigter.”

Volgens Smith is daar ʼn duidelike behoefte om kontinuïteit en stabiliteit in die Proteas se bestuurspan te handhaaf. Die tegniese ondersteuningspersoneel word behou sowel as Volvo Masubelele wat as spanbestuurder voortgaan en Justin Ontong as veldafrigter.

“Ek gaan binne die volgende paar dae kolf- en boulkonsultante aanwys.”

Smith het ook bekend gemaak dat die Proteas-toetsspan en die Suid-Afrikaanse A-span Maandag bekend gemaak sal word.

“My toekomsvisie is dat ons moet terugbeweeg na uitnemendheid en dit sal die fokus vir die toekoms wees. Die publiek soek en eis ʼn Proteas-span van wêreldgehalte en ons moet dit vir hulle gee.”

Die 43-jarige Boucher is ’n veteraan van 147 internasionale toetse. Sy 532 vangskote en 23 stonkkanse agter die paaltjies is ’n wêreldrekord en dit sal nie sommer in toetskrieket oortref word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

André André ·

Dit lyk my Rassie se resultate met Die Bokke het die weg gebaan en het die minister van sport se oë dalk nou op skrees begin oopgaan, uiteindelik, hopelik sal dit nie lank vat voor dit hééltemal oop is nie. Laat die res van die kabinet dan notisie neem!

Laat Graeme en Mark hulle wys wat hulle met die Proteas kan vermag.

Dubbelloop ·

Ek is bly vir dit sovêr. Ek hoop Greame in samewerking met Boucher sal die res vd afrigtingspan so gekies word dat ons binnekort weer as een vd top spanne in wêreld krieket kan word. Ons moet ook nie dadelik “wonderwerke” verwag nie. Die spelers is daar, net goeie bestuur en afrigting en siedaar, die blommekinders gaan blom. Kom ons kyk wat gebeur. Sterkte aan Greame en Mark.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.