Boyce Lloyd nie langer hoof van KWV

Anita en Boyce Lloyd. (Foto: Mynhardt.co.za)

Die omstrede Kaapse huisvrou Anita Lloyd se man, Boyce, sal van volgende maand nié meer as uitvoerende hoof van die KWV dien nie.

Die maatskappy het Donderdag aangekondig dat John Loomes op 1 Junie die leisels by Boyce sal oorneem.

Die aankondiging volg kort nadat “huisvrou” Anita die oë laat rek het met haar uitlatings op kykNET se Die Real Housewives van die Wynlande. Dit is egter nie duidelik of Anita se deelname aan dié werklikheidstelevisiereeks ʼn rol in Lloyd se vroeë uittrede gespeel het nie.

KWV het Donderdag geen melding van die reeks gemaak nie en gesê die verandering in leierskap by KWV vorm deel van ʼn “noukeurig georkestreerde leierskapsoorgang wat in Julie verlede jaar reeds begin het om ʼn soomlose oorhandiging te verseker”.

Loomes dien sedert September verlede jaar as die voornemende uitvoerende hoof van KWV en was in sy tydelike rol as bedryfshoof verantwoordelik vir die meeste funksies en rapporteringslyne.

John Loomes, KWV se nuwe uitvoerende hoof. (Foto: Verskaf)

KWV sê Loomes se verantwoordelikhede is in Januarie verder uitgebrei en hy bestuur KWV al die afgelope vyf maande doeltreffend. “Loomes het ook sy gereedheid getoon om volle verantwoordelikheid as uitvoerende hoof vanaf 1 Junie te aanvaar.

“John is ʼn hoogs gerespekteerde leier wat reeds ʼn belangrike rol in KWV se groei gespeel het,” sê Boyce op sy beurt.

Boyce is in 2016 as uitvoerende hoof van KWV aangestel.

Hy is egter deesdae vir ander redes as sy werk in die nuus weens sy vrou se deelname aan Die Real Housewives van die Wynlande.

Anita is bekend vir haar soms gekruide taal en omstrede uitlatings soos “ek sal van die dak af spring indien ek nie geld het nie”.

Anita het tydens die eerste episode van die reeks opgemerk dat sy Mammon, die god van geld, dien en soms sonder om te skroom Londen toe vlieg om by Harrods te gaan inkopies doen.

Anita het intussen gesê dit is slegs ʼn karakter wat sy voor die kamera vertolk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Piet Snot ·

Ai, die vrou moes gedink het voor sy die karakter begin speel het. Gewone mense weet nie: ons dink dis die real housewife wat ons sien.

Stofdonkie ·

Sy sal dus nou bietjie meer moet skroom voor sy op die vliegtuig wil klim om te gaan inkopies doen by Harrods

Harley Davidson ·

Baie skerp gedoen, nou kan haar man op vroeë pensioen gaan met volle betaling en voordele, baie baie skerp.

ES ·

Ek wil my ook verbeel hierdie is haarfyn beplan. Nou kry Boyce sy aftreepakket sommer bietjie vroer.

Albie ·

Siestog,geld kan ook nie alles regmaak nie! Jy bly maar soos jy geword het toe jy opgroei,geld of te not!

kragaap ·

As my vrou so op TV gepraat het sou ek ook bedank het. Skaamtelose gedrag. Geld beteken nie klas nie.

Minnie ·

Daar is n ouderdomsbeperking op die reeks.
Dalk maar iets anders kyk vir n uur of so.

AH ·

Ek dog dis ‘n realiteits reeks, nou lees ek sy vertolk ‘n rol? Ek probeer al van die begin van die reekse verstaan wat die doel daarvan is. Is daar iets te leer daaruit? Is dit om on gewone huisvroue se neuse daarin te vryf of is dit vermaak? Ek het nog nie die antwoord gekry nie. Ek het dit nog nooit gekyk nie, sien net die advertensies en wonder wie so desperaat is vir kykstof dat hulle daarna kyk. Op die ou einde is dit “each to his own”.

Minnie ·

Kyk jy die reeks of nie? Jy weerspreek jouself nou.
Dis vermaak…..net soos enige ander reekse. Natuurlik vertolk hul rolle. Niemand leef regtig soos hulle dit uitbeeld nie.
Ons sien mos nie hul hele lewe nie. Al wat ons sien is beplande geleenthede. Hul almal besit besigheide / loopbane.
Maar…..jy kyk mos nou nie so help nie iemand verduidelik vir jou nie. Ha ha ha

PS. Meskien moet jy dit kyk, dis lekker lag vir een uur per week.
Ons het so min om oor te lag deesdae AH !

ES ·

Ek dink nie dit maak enigsins ‘n verskil in hul lewens nie. Boyce se aftrede is bietjie vroeg, maar ek is seker dit kom met ‘n helse aftreepakket – dit gaan niks aan hulle bankrekening maak nie, net nog ‘n paar Gucci en Louis Vuitton’s meer.

Minnie ·

Dis baie duidelik van die 1ste episode dat sy mense se been trek. Sy dra pruike en skeer gek met almal. Ek dink sy is skreeusnaaks, behalwe haar kru taal. Dit is onnodig.
Natuurlik is dit toneelspel deur al die vrouens. Dis vermaak vir die publiek. Ha ha
Geen mens met genoeg breinselle sal duur juwele in laaie berg nie, maar sal n kluis gebruik.
Sy was op geen stadium disrespekvol teenoor KWV nie. Al die vrouens het “gespog” met al hul skatte en geld…..sy het maar net saamgespeel.
As haar man nou kan aftree wens ek hul n rustige aftrede saam toe. Hul lyk albei asof hul op aftree ouderdom is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.