Bozwana-sluipmoord: Vier sewe jaar later skuldig bevind

Die motor waarin Wandile Bozwana geskiet is. Foto: SAPD

Vier mans is skuldig bevind aan die moord op die bekende Noordwes-sakeman, Wandile Bozwana.

Bozwana en ʼn vennoot, Betty Mpho Baloyi, het op 2 Oktober 2015 omstreeks 15:50 in ʼn geel Renault Clio in Garsfonteinweg, Pretoria, gery toe daar skote op hul motor afgevuur is. Bozwana is vier keer in sy rug getref en vyf keer in sy sitvlak. Die vrou is twee keer in haar middel geskiet en het die aanval oorleef. Bozwana het kort daarna in ʼn hospitaal aan sy wonde beswyk.

Vusi Reginald Mathibela (36), ʼn taxibaas ook bekend as Vusi Khekhe, Sipho Patrick Hudla (40), Matamela Robert Mutapa (46) en Bonginkosi Paul Khumalo (42) is intussen in die Pretoriase hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op Bozwana.

Al vier mans is skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade, poging tot moord en die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Hulle is op verskillende datums tussen 2015 en 2016 in verband met die moord in hegtenis geneem.

Drie van hulle was sedertdien in aanhouding, terwyl Mathibela in Desember 2016 borgtog van R50 000 toegestaan is nadat hy homself vroeër die jaar by die Brooklyn-polisiestasie oorgegee het. Hy is toe weer in 2019 in hegtenis geneem nadat hy sy borgtogvoorwaardes oortree het en hy is sedertdien in aanhouding. Al vier mans het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hulle.

Adv. Jennifer Cronjé, staatsaanklaer, het aan die hof gesê dat sy getuienis aangebied het om die skuld van die vier mans bo redelike twyfel te bewys en dat al vier mans ʼn gemeenskaplike doel gehad het om die oorledene dood te maak. Daily Maverick berig Mathibela het Bozwana daarvan verdink dat hy ʼn verhouding met sy vrou gehad het en dat hy toe die huurmoord gereël het.

Die hof het gehoor dat Hudla, Mutapa en Khumala die oorledene en sy vennoot op die betrokke dag van Mandela Square in Sandton agtervolg het in opdrag van Mathibela. Toe hulle by ʼn verkeerslig in Garsfonteinweg stilgehou het, het die drie mans uit hul BMW geklim en op Baloyi se motor losgebrand voor hulle van die toneel gevlug het.

Die saak is tot 4 Augustus uitgestel vir vonnisverrigtinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.