Brande in Noord-Kaap geblus

(Foto: Verskaf)

Ná vyf dae se swoeg en sweet om die uitgebreide brande in die Kuruman-omgewing in bedwang te bring, is die brande teen Dinsdagaand ten volle geblus.

Volgens Eben Anthonissen, voorsitter van omgewingsake by Agri Noord-Kaap, was die brand Dinsdag omstreeks 14:00 sowat 90% geblus en die vlamme was teen sonsondergang heeltemal dood.

Nou begin die nasorgwerk om te keer dat die brand weer opvlam, verál te midde van die sterk wind wat in die gebied woed. Die sterk wind van meer as 30 km/h – wat ook heeltyd van rigting verander – het brandbestryders opdraande gegee ten opsigte van brandbestryding.

Satellietbeelde sal na verwagting Woensdag geneem word om die presiese omvang van die skade vas te stel.

Drie brande het Donderdagoggend tegelykertyd weens weerlig ontstaan en sowat 66 plase geraak en 130 000 ha weiding is vernietig. Die hoeveelheid vee wat in die brande doodgebrand het, moet nog bepaal word.

“Een van die boere se plaas het 95% afgebrand en sy diere loop op verskillende plase,” sê Anthonissen.

Jan Joubert het Dinsdag aan Maroela Media vertel dat sowat 83% van sy plaas tussen Kuruman en Daniëlskuil vernietig is.

Volgens Anthonissen het goedhartige boere weiding vir die geraakte boere beskikbaar gestel en Agri Noord-Kaap werk saam met die departement van landbou om voer in die hande te kry vir hierdie boere.

“Ons het voerskenkings van private donateurs in Upington, Hopetown en Luckhoff gekry en ook van departement van landbou se voerbanke in Jan Kempdorp. Ons is in die proses om nog soveel moontlik vragte te reël.”

Anthonissen het namens Agri Noord-Kaap sy dank uitgespreek aan die Vrystaatse Sambreelbrandbeskermingsvereniging (FSUFPA) wat Maandagmiddag vir koördinering geaktiveer is.

“Sedert die vereniging Maandagaand ʼn basis opgerig het, het hulle daarin geslaag om die brand binne 18 ure heeltemal in bedwang te bring. Die koördinering was baie suksesvol.”

Hy het ook die provinsiale rampbestuursentrum en provinsiale departement van landbou bedank vir hul finansiering van grondspanne van Working on Fire (WoF), asook lugsteun.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) is ook sedert Sondag op die toneel om vee wat in die brande seergekry het, te behandel en ook genadedood toe te pas waar nodig.

Volgens Joubert kom brande dié tyd van die jaar algemeen in hul omgewing voor, maar die omvang van hierdie brand is erger as dié van vorige jare. Oorvloedige reën die afgelope seisoen en oorvloedige hooi op die veld het die ramp vererger.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Danie ·

Sterkte daar ons bid vir reen dit is al wat gegee sal word.

Christine ·

Nou wil ek graag weet of die brandstigters al vasgetrek is? Daar is ‘n video op sosiale media waarin’ n Man sê dat die brande moedswillig gestig was. Wat doen die polisie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.