Brandstapel-video ‘kom neer op oorlogsmisdaad’

(Skermgreep uit die video)

Die minister van verdediging, Thandi Modise, sal antwoorde moet gee oor waarom daar nog nie opgetree is teen soldate van die Suid-Afrikaanse weermag wat hulle moontlik aan ’n oorlogsmisdaad in Mosambiek skuldig gemaak het nie.

In ʼn gru-video wat tans op sosiale media die ronde doen, kan gesien word hoe Suid-Afrikaanse soldate teenwoordig is waar lyke op ’n brandende hoop gegooi word. Die soldate kan uitgeken word aan die Suid-Afrikaanse weermag-uniform met die landsvlag daarop.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het, volgens die weermag, moontlik in November 2022 in Mosambiek plaasgevind waar Suid-Afrikaanse soldate ontplooi is. Die verklaring lui voorts dat die soldate “onbekend is” en dat die voorval ondersoek sal word.

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die minister sal moet vasstel waarom die voorval, wat vermoedelik maande gelede reeds plaasgevind het, nou eers onder die weermag se aandag kom nadat dit reeds wyd op sosiale media versprei is.

“Alles dui daarop dat hierdie voorval ’n oortreding is van die Geneefse Konvensie wat op ’n oorlogsmisdaad neerkom. Die regering en die weermag sal daarom vinnig teen die soldate moet optree om aan die internasionale gemeenskap te wys hulle het erns met die voorval,” sê Groenewald.

Suid-Afrikaanse soldate is jare reeds deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se ingrypingsmag in Cabo Delgado in Mosambiek.

“Daar sou aanvanklik sowat 1 495 soldate ontplooi word, maar luidens die media was daar teen April verlede jaar nog net 500 ontplooi. Die soldate se teenwoordigheid in Mosambiek het Suid-Afrika se belastingbetalers net verlede jaar R2,8 miljard uit die sak gejaag,” voeg Groenewald by.

Intussen sê Kobus Marais, die DA se skaduminister van verdediging en militêre sake, die party is gewalg deur die optrede van die soldate wat sonder respek of menswaardigheid met die liggame van oorledenes omgaan in Cabo Delgado.

“Ons verwerp die gedrag met die minagting wat dit verdien. Dit is niks minder as oorlogsmisdade teen die mensdom nie,” sê Marais. “Ons soldate, onder beheer en bevel van SAMIM is steeds lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag onder toesig van die parlement. Hulle moet te alle tye en omstandighede hulle gedragskode en internasionale standaardepraktyke en protokolle nakom.”

Marais sê die minister en die hoof van die weermag moet onmiddellik ʼn raad van ondersoek instel om so gou as moontlik gefinaliseer te word.

“Die betrokke soldate en hulle bevelvoerders moet herroep en geskors word om onbeperkte ondersoek na hierdie aangeleentheid en die oënskynlike verfoeilike praktyk waarvolgens die liggame van dooies ontslae geraak word, te ondersoek.”

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

Die party eis ook dat die minister so vinnig as moontlik besonderhede oor die voorval sal verskaf aan die parlementêre komitee oor verdediging en bevestig onder wie se gesag en jurisdiksie die liggame verbrand is en of dit burgers of soldate was.

Marais sê dit is net nog ʼn verleentheid en ʼn internasionale flater onder leiding van die minister Modise en pres. Cyril Ramaphosa. “Hulle het duidelik geen respek vir menseregte nie.”

Pikkie Greeff, nasionale sekretaris van die weermag se vakbond Sandu, sê die vakbond is uiters besorg oor die video.

“Die skending en mishandeling van liggame word streng verbied en is ʼn ernstige oortreding van internasionale wetgewing oor gewapende konflik. Indien die video eg is en daar bevind word dat lede van die SANW by dié aktiwiteite betrokke was, sal dit neerkom op ʼn baie ernstige en skandelike breuk van internasionale wetgewing. Dit sal heeltemal onaanvaarbaar wees.”

Greeff sê Sandu veroordeel die optrede ten sterkste. “Dit is heeltemal teenstrydig met die waardes en beginsels van die SANW en Sandu.”

Volgens die vakbond is dit noodsaaklik dat die SANW die voorval ondersoek en dat diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word.

Die burgerregteorganisasie AfriForum eis ook ’n onmiddellike en vinnige ondersoek na die skynbare oorlogsmisdade.

AfriForum het in ’n brief aan minister Modise geëis dat die bevelvoerder van die Suid-Afrikaanse magte in Mosambiek onmiddellik herroep word om oor die skokkende gebeure te getuig.

Volgens die organisasie is dit nie die eerste keer dat Suid-Afrikaanse soldate van menseregteskendings beskuldig word nie. Verskeie SANW-soldate is van seksuele wangedrag tydens operasies in die DRK beskuldig. Dan was daar ook die geval van Collins Khosa, wat in sy eie agterplaas hier op eie bodem deur soldate doodgeslaan is.

“Ons is bewus daarvan dat die SANW gesê het die voorval word deur die magsbevelvoerder van die SAOG-sending in Mosambiek ondersoek, maar ons voel dit is eenvoudig nie genoeg nie. AfriForum konsulteer tans met ons regspan om ook ander moontlike optrede te ondersoek,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Erica ·

Hoekom die soldate? Loots eerder n ondersoek na wie opdrag gegee het dat hul ontplooi word.

Lurock ·

Waaroor al die kabaal. Daar sal met daai soldate en hulle bevelvoerders en die minister en die President net mooi sokkerball gebeur. Jy en ek sal maar net aanhou en aanhou betaal is die wet van Transvaal.

Harley Davidson ·

As die afrikaans sprekende mense net ‘n leier gehad het wat ons kan verteenwoordig soos malema sy party verteenwoordig, maar die leiers wat ons het hou hulself net besig met onbenullighede om salaris te kry, daar word elke dag teen Groenewald se mense gediskrimineer maar hy is besorg oor die weermag, wat ‘n grap

Francois ·

Winnie Mandela quote – “With our boxes of matches and our necklaces we will liberate this country.”

Johannes ·

Soos Bertie sê: Is dit nie die norm van Afrika nie. Waar sien en leer hulle dit. Dis hoekom SA nie Russiese optrede in Oekraine veroordeel nie.

Porseleintjie ·

Gedragskode en protokol. Hulle het mos presies SA sn gevolg, dan nie? Ons almal sien nou die vrugte van wat jy saai sal jy maai. Nie die slagoffers nie, maar soveel siek partye se beleid in hierdie land.

Heinrich ·

Ek is seker die SANW het nog nooit eers van die Geneefse Konvensie gehoor nie

Mathys ·

Ons kan net se dit is kultureel van aard en enige iemand wat anders dink is propvol vooroordele, dit behoort die vrees van die afbeelding in hulle in te jaag

Niklaas ·

Ons landspresident sal tekere gaan oor Mazelspoort se 3 blanke mans wat volgens hom erge rassitiese dinge aanvang. Maar hy is absoluut verbasend tjoepstil oor hierdie baie erger aangeleentheid , waar SA se trots , die nasionale weermag , na bewering ondenkbare dinge aanvang !

Johan ·

Wie gee om, dis Afrika. In ons eie Piesang Republiek is daar baie meer goed wat aandag moet kry, Mosambiek is inelkgeval n politieke ashoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.