Brandstofpryse dalk laer in Julie

Argieffoto

ʼn Laer internasionale olieprys in Junie baan dalk die weg vir ʼn beduidende daling in die brandstofprys in Julie. Die daling kon boonop heelwat groter gewees het, as dit nie vir die swak rand was nie.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) verwag ʼn daling van 86 sent per liter in die prys van petrol, ʼn daling van 68 sent in die prys van diesel, asook ʼn daling van 58 sent in die prys van paraffien. Die AA grond sy vooruitskattings op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds.

Dit kan welkome verligting wees, nadat die brandstofprys verlede maand gestyg het.

“Junie was in die laaste kwartaal die swakste maand vir olie, met die prys van Brent-ruolie wat teen die middel van die maand op sowat $60 per vat gestaan het,” het die AA in ʼn verklaring gesê.

Hernieude spanning in die Midde-Ooste en ʼn afname in Amerikaanse olievoorraad het egter druk op die kommoditeit geplaas, het die AA gesê.

Op die tuisfront het die twis oor die Reserwebank se mandaat beleggers ongemaklik gemaak. In ʼn stadium het die rand-dollar-wisselkoers meer as 60 sent gestyg.

“Hoewel die geldeenheid teen die einde van die maand teen die dollar versterk het, was die gemiddelde wisselkoers sowat 11 sent swakker, wat beteken brandstofverbruikers het ʼn selfs groter daling gemis.”

Die olieprys gaan in die derde kwartaal vanjaar waarskynlik die grootste prysbepaler wees, en spanning tussen die VSA en Iran kan ernstige gevolge inhou.

“Suid-Afrika se ekonomie gaan baie sleg geraak word as daar, soos vroeër die afgelope dekade, teruggekeer word na ʼn olieprys van meer as $100 per vat. Onder sulke omstandighede gaan enigiets wat die rand beduidend raak, brandstofverbruikers duur te staan kom,” het die AA gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piet ·

Waar is die rand so danig so swak… hy is op die oomblik R14-17 teenoor die dollar… Laagste wat hy nog in n lang tyd was…

Judge Dredd ·

…en 2 weke terug was hy amper R15/dollar – daar is jou antwoord.

ChrisE ·

Wat is SASOL se koste om een liter brandstof te vervaardig? Kan iemand vir my verduidelik wat die impak sal wees indien die mpy die sg 40% wat hulle sou vervaardig aan die mark kan lewer.

Kobus ·

Twyfel oor verlaging sal liewer koolstof belasting of iets dergliks weer verhoog

Adri ·

In hierdie land van ons kan brandstof verdubbel in prys in een maand. Wanneer die pensioenfondse leeg is sal petrol meer belas moet word. Wanneer almal wakker word en hul geld oorsee belê dan gaan die Rand verder verswak. Ek het my geld in die buiteland belê, toe ontdek ek die bank het dit in Zimbabwe belê, Wat nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.