Brandstofpryse: Verbruikers, regering sal gordel moet stywer trek

Argieffoto (Foto: IADE-Michoko/Pixabay)

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) het die regering se aankondiging verwelkom dat hy die verligting vir die brandstofheffing in Junie en Julie sal verleng.

Die AA sê dit sal die finansiële druk op verbruikers effe verlig. “Alhoewel die verligting verleng word, gaan die groot verhoging in die brandstofprys steeds verbruikers se sakke en die ekonomie ruk.”

Maroela Media het vroeër berig die nasionale tesourie en departement van minerale hulpbronne en energie het in ʼn gesamentlike verklaring gesê die heffing sal in Junie steeds R1,50 minder wees. Van 7 Julie af word die vermindering na 75 sent aangepas. Die brandstofheffing keer in Augustus weer terug na sy normale koers van R3,93.

“Die aankondiging is ʼn welkome verwikkeling, maar die aangepaste brandstofpryse beteken steeds rekordhoogtes. Verbruikers sal geen ander keuse hê om hul gordels stywer te knoop nie.”

Die AA sê hy neem kennis dat die regering beperkte opsies het wat betref die krisis wat lande wêreldwyd raak – nie net Suid-Afrika nie.

Die departement van minerale hulpbronne en energie het aangekondig dat 95-oktaan-petrol Dinsdag ná middernag met R2,33 per liter styg, terwyl motoriste R2,43 per liter meer vir 93-oktaan-petrol sal moet opdok. Dít terwyl die prys van diesel met R2,10 per liter sal styg.

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, sê die brandstofprys kan rofweg in twee gelyke dele verdeel word: Die basiese brandstofprys waar die prys van ru-olie en die rand/dollar-wisselkoers die belangrikste rol speel. Dan is daar die koste van verspreiding en verhandeling, sowel as ‘n algemene heffing (belasting wat die nasionale tesourie as deel van die algemene begroting inreken) en die heffing wat die padongeluksfonds finansier.

“Elke faktor in die berekening kan fyner ingestel word. Die winsgrens vir groot- en kleinhandelaars kan besnoei word, maar dit sal ‘n klein verskil maak. Elkeen van hierdie koste-items beïnvloed die hele verspreidingsketting en besnoeiings kan tot ontwrigting lei,” voeg Boshoff by.

Die departement vir minerale hulpbronne en energie het twee maande gelede erken dat die mees uitvoerbare verskil in die belastingkomponent lê. In daardie stadium is ‘n deel van die strategiese brandsrofreserwe verkoop, om ‘n tydelike nie-verhaling van die brandstofheffing te finansier.

“Dit was ooglopend ‘n tydelike oplossing, in die hoop dat óf die ru-olieprys sal verlaag óf die wisselkoers meer gunstig raak. Dit het egter nie gebeur nie, wat beteken dat die herinstelling van die heffing by strukturele verhogings van die finale prys gevoeg word.”

Boshoff sê Suid-Afrika word deur ʼn ekonomiese ramp wat nie vir die Covid-19-pandemie terugstaan nie, in die gesig gestaar. Indiensneming, sowel as bestedingsvermoë van verbruikers kom onder ernstige druk. Weens dekades van ekonomiese wanbestuur is daar in die fiskus nie ruimte om hierdie uitdaging die hoof te bied, sonder om staatskuld te verhoog nie. Dit sal op sigself inflasiedruk skep.

“Al wat oorbly, is dat die regering, nes die res van Suid-Afrika, sy gordel moet intrek. Die beste plek om te begin, is die groot aantal staatsdepartemente wat nie ‘n sigbare verskil maak nie. Die VF Plus het telkens in die verlede daarop gewys dat die kabinet en gevolglik ook die aantal staatsdepartemente behoort te verminder.”

Hy sê die departemente vir kleinsakeontwikkeling, vroue, kinders en mense met gestremdhede en sport, kuns en kultuur voeg tans min waarde toe, maar dit kos die staat gesamentlik bykans R10 miljard per jaar. “Indien onproduktiewe departemente afgeskaf en korrupsie doeltreffend bekamp word, sal die staat minder afhanklik van die meer as R80 miljard wees, wat die brandstofheffing tans bydra. Die VF Plus se mening is derhalwe dat die brandstofheffing gehalveer moet word en dat die tesourie dringend terreine moet vind waar die nodige besparings gemaak kan word.”

Verder is die padongeluksfonds, wat tans ‘n hele R2,18 per liter uit die petrolprys ontvang, telkens in die nuus weens wanbestuur. Om dit reg te ruk, kan ook verligting in hierdie belasting bring.

“Suid-Afrika het die stadium bereik dat laer belastingkoerse moontlik hoër inkomste kan meebring. Negatiewe ekonomiese groei lei ook tot laer brandstofpryse, soos tydens die grendelstaat ervaar. Dan sterf ook hierdie gans wat die goue eiers lê.”

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het gesê sy organisasie is ook dankbaar vir die verlaging van die brandstofheffing vir nog twee maande.

“Ons wil vir almal wat meegedoen het in die toepas van positiewe druk en die rig van versoeke, dankie sê. Ons het versoek dat dit verleng moet word omdat landbou eenvoudig nie die ekstra kostes tans kan dra nie.”

Van Zyl sê dit plaas landbouers steeds nie in ’n posisie dat hulle ongekwalifiseerd volhoubaar kan produseer nie, want die insetkoste van veral brandstof en kunsmis maak dit bykans onmoontlik om winsgewend te boer en dit is nie ’n oplossing op die langtermyn nie, maar wel ’n verligting en daarvoor is ons dankbaar.

Dié stap is in belang van voedselsekerheid.

“Daar sal egter daadwerklik gesoek moet word aan ’n oplossing om die hoë koste van brandstof aan te spreek ten einde die seermaak van die ekonomie te beperk. Suid-Afrika bloei ekonomies in vele opsigte en ons sit tans met verbruikers wat reeds nie toue bymekaar kan bring nie. Die hoë insetkoste vir boere is reeds by ’n punt waar boere baie moeilik winsgewend in produksie kan bly in sekere kommoditeite. Die strategiese waarde van voedselsekerheid moet hier in ag geneem word. Dit is nie net brandstof wat die koste-knyptang veroorsaak nie, maar ’n samevoeging van verskeie aspekte wat die produksieproses negatief beïnvloed en daarom moet elk van hierdie punte aangespreek word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

KB ·

Hoe trek jy die gordel stywer?
Deur die betrokke ministers se salaris en byvoordele met 20% te sny vir elke swak besluit wat hulle neem (Hofsake werk nie meer nie)…ruk hulle in hulle beursie!

Marius ·

As die regering nie so geldgierig is nie sal ons baie minder vir brandstof kan betaal.

Pietertjie ·

Ek moes daai gordel lank gelede reeds verpand. Loop nou met my hande in my sakke om my broek bo te hou.

Jannie van Niekerk ·

Die eerste plek om te begin besnoei is by die onverdiende hoë salarisse en byvoordele van kabinet- parlements -en politieke munisipale raadslede. Indien hulle byvoordle in total afgskaf word en hulle salriss emet 95% verminder word gaan hulle nogsteeds soos miljarders kan lewe.

Mieke ·

Raak ook ontslae van die oormaat werkers by Eskom en ander staats instansies…, Hulle doen niks vir die salaris wat hulle maandeliks ontvang…

KatjieDeKat ·

Hoeveel stywer moet ons die gordel nou nog trek voor daar glad nie meer n middel lyf oor is, en ons inmekaar stort???

Anel ·

Maak die regering se salarisse minder en moet hulle ook die daardie massiewe verhoging gee nie. Hulle verdien niks daarvan nie. En laat hulle begin betaal vir alles wat hulle so verniet kry. Daar is mense wst nie werk of kos het nie, en die regeting verhoog die petrol prys en dan volg al die ander goed. Hoe dink hulle moet die armstes van die armes tot die gewone salaristrekker en penioenarisse oorleef? En dan moet obs bly wees oor R1.50? Asseblief!!!

Nico ·

Die padongelukkefonds word gebruik tot ander se voordeel, daar is geen beheer aangaande hierdie fonds. Die regering kan ook minder geld vermors, gee geld links en regs uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.