Breër ekonomiese herstel ‘skrale troos’ vir klein sakelui wat steier

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

“Daar is aanduidings dat Suid-Afrika se ekonomie geleidelik herstel, maar terselfdertyd weet ons dat die breër ekonomiese herstel ʼn skrale troos is vir klein sakeondernemings wat weens die pandemie ly.”

Só het pres. Cyril Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief gesê nadat hy Sondag aangekondig het dat vlak 4 van die afsonderingsregulasies vir die volgende twee weke van krag sal bly. Hoewel restaurante en ander eetplekke teen ʼn beperkte kapasiteit weer aansitetes mag bedien, gaan ander sektore, soos die drankbedryf, steeds gebuk onder dié beperkings.

Ramaphosa het tydens sy toespraak onderneem om sakeondernemings te ondersteun deur alle bedryfslisensies en permitte wat sedert verlede jaar Maart uitgereik is, tot einde volgende jaar te verleng. Daarbenewens sal nuwe bedryfslisensie en permitte wat vanaf 1 Julie uitgereik is ook tot einde volgende jaar geldig wees.

Geen lisensiegeld is betaalbaar nie.

“Sekere ondernemings wat aanvanklik nie onder die aangepaste vlak 4-regulasies bedryf kon word nie, sal onder streng gesondheidsregulasies mag heropen. Dit sal nie net die druk van sake-eienaars verlig nie, maar ook dié van die werkers, veral in die gasvryheidsbedryf.”

Volgens Ramaphosa het onderhandelinge by Nedlac tot meer praktiese en finansieel volhoubare verligtingsopsies gelei om die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se tydelike verligtingskema (Ters) na ander sektore toe uit te brei.

Die presidensiële stimulus, wat deel van die ekonomiese herstelplan is, het glo ook vrugte afgewerp en duisende mense gehelp.

“Deur die stimulusprogram is meer as 300 000 jongmense as onderwysassistente in diens geneem en meer as 100 000 bestaansboere is geregistreer om tegniese ondersteuning te ontvang. Meer as 30 000 jongmense het geleenthede in die kulturele, kreatiewe en sportsektor gekry. Gegradueerde persone het ook geleenthede in die ontwikkeling van infrastruktuur, gesondheidsorg, omgewingsbewaring en ʼn aantal ander sektore gekry.”

Ramaphosa het egter erken dat dit ʼn moeilike besluit was om strenger regulasies aan te kondig om die beweging van mense, asook die bedryf van sekere ondernemings en openbare byeenkomste, te beperk.

“Ons prioriteit is steeds om lewens te red en die nodige ondersteuning aan ondernemings te bied sodat nog werksverliese nie weens die regulasies volg nie.

“Die regering sal voortdurend in gesprek tree met sakeondernemings om ʼn uitweg te vind en die lewensbestaan van mense te beskerm tydens hierdie onsekere tye,” het Ramaphosa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jerry ·

Ek wil net reg verstaan waar die regering sy info van herstel kry. Ek is seker die is fopnuus.

VaalDonkie ·

Kom vertel daai grappie hier waar die besighede een na die ander toemaak. Dis net die groot ouens soos Takealot, Mr Delivery, en ander wat lekker pond omdat hulle die geld het om vinnig ‘n koerierdiens en stoorplek aanmekaar te slaan.

Baardman ·

Jy droom CR. Jou eie persoonlike ekonomie is seker buite gevaar, maar die land wat jy regeer brand af en jy en jou kaders is te slap om in te gryp.

annie ·

Eintlik spog CR met hoeveel werksgeleenthede die pandemie geskep het. En hoeveel geld na swartbemagtiging gevloei het. ‘n Prez wat ander se ellende voordelig kan aanwend is al die bulle op sy plaas werd. Viva vir so dapper kryger!

Nozi ·

Kan iemand asb net hierdie man laat weet dat daar geen ekonomiese herstel gaan wees nie. Blykbaar weet hy nie die land is besig om vinnig deur sy people af gebrang te word nie.

Johann ·

Ja shure en my ouma is n Olimpiese Surf Kampioen….ongelooflik hoe hy homself GLO terwyl hy LIEG!

Danny ·

Hand om die blaas vir mense se heuning om die mond smeer. Tevergeefs steier ons alma voort vir ons eie bestaan, sonder hulp. Net teenstand.

Alleen Wolf ·

Hy gee net om vir die myn befryf waar sy biljoene le, die res skeel hom min.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.