
Brasilië se pres. Luiz Inacio da Silva, China se pres. Xi Jinping, pres. Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika, Indiese eerste minister Narendra Modi en Rusland se minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov. (Foto: GCIS)
Die staatshoofde van die vyf Brics-lidlande het teen Woensdagmiddag nog agter geslote deure vergader in wat vermoedelik ʼn bespreking is oor watter lande toegelaat moet word om by die blok aan te sluit.
Volgens Naledi Pandor, minister van buitelandse sake, is ‘n dokument wat die riglyne en beginsels uitstippel vir lande wat vir Brics-lidmaatskap in aanmerking wil kom, reeds aanvaar nadat daar oor die proses ooreengekom is.
Soos Maroela Media verstaan is ʼn gemeenskaplike Brics-geldeenheid nié in hierdie stadium op die agenda nie.
Al vyf Brics-lidlande – Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika – was dit vanoggend eens dat die blok moet uitbrei.
Meer as 20 lande waaronder Saoedi Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate, Argentinië, Indonesië, Iran en Ethiopië het amptelik aansoek gedoen om by die Brics-alliansie aan te sluit.
Luiz Inácio Lula da Silva van Brasilië sal graag wil hê dat Brasilië se buurland (en grootste handelsvennoot), Argentinië, een van die suksesvolle aansoekers is.
“Dit is baie belangrik vir Argentinië om deel van Brics te wees,” het Da Silva Dinsdag op die beraad gesê.
Ramaphosa sal heel waarskynlik wil sien dat nog Afrikalande voortaan deel van Brics sal wees.
Indien die groepering uitbrei, sal dit maar die tweede keer wees sedert sy ontstaan. Die Brics-blok het in 2009 met vier nasies begin en die daaropvolgende jaar uitgebrei met die byvoeging van Suid-Afrika.
Dalk moet die “agter geslote deure” blywend wees, dan sal sommige lande vry wees van patetiese presidente
Hou hulle maar daar…
Dit wil voorkom asof BRICS+ voordele bring vir SA boere, vir nuwe uitvoermarkte.