Brief aan Ramaphosa: Solidariteit verwerp ‘immorele’ Nasionale Gesondheidsversekering’

(Argieffoto: Ibrahim Boran)

Solidariteit sê in ʼn brief aan pres. Cyril Ramaphosa en sy minister van gesondheid, Zweli Mkhize, hoewel hy universele gesondheidsorg – en billike en rasionele pogings – steun om gehalte gesondheidsorg aan alle Suid-Afrikaners te voorsien, is dit duidelik dat die voorgestelde nasionale gesondheidsversekering dít nie gaan verseker nie.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, sê die regering het nie oop kaarte gespeel oor die voorgestelde stelsel nie, veral nie wat betref die koste daaraan verbonde nie, om nie te praat van die skending van vryheid en menseregte wat dit teweeg gaan bring nie.

In sy brief sê Hermann die wetsontwerp beloof welvaart, maar gaan waarskynlik niks anders as lyding tot gevolg hê nie.

Hy sê Solidariteit het op eie onkoste van die voorste kenners op die gebied gevra om ʼn kosteberekening van die wetsontwerp dit te doen. Dit het deel van Solidariteit se voorlegging oor die NGV gevorm.

Hermann sê die verslae wys die NGV is bloot nie ekonomies lewensvatbaar nie en dat net die tekort in kosteberekening op sowat R260 miljard staan.

Prof. Jannie Rossouw, ʼn gerekende ekonoom, het aangedui dat belasting met meer as 10% opgestoot sal moet word net om dié tekort te dek.

Hermann sê die minister van finansies, Tito Mbowni, het dit Woensdag ook duidelik gemaak dat die regering nie naastenby die geld het om die stelsel, soos dit in die wetsontwerp beskryf word, in werking te stel nie.

(Argieffoto: pixabay)

Mboweni het in sy begrotingsrede gesê ʼn verhoging in belasting gaan ekonomiese groei verder strem. “Hoeveel ekonomiese groei moet ons bereid wees om prys te gee ter wille van staatsbeheerde, gemonopoliseerde gesondheidsorg,” vra Hermann die president en die minister in sy brief.

“Hoeveel werkloosheid moet ons aanvaar sodat die regering ʼn ideologiese oorwinning kan vier?”

Prof. Alex van den Heever, ʼn vooraanste gesondheidsorg-ekonoom en beleidskenner, het in navorsing vir Solidariteit bevind die wetsontwerp in sy huidige formaat gaan verwoestende uitwerkings hê.

“Dit is my gevolgtrekking dat die voorstelle vir nasionale gesondheidsversekering soos dit tans voorgehou word nie in werking gestel kan word nie, irrasioneel en ongrondwetlik is,” het Van den Heever bevind.

Volgens Hermann het Solidariteit se navorsing onder gesondheidswerkers gewys dat hulle bykans eenparig in hul verwerping van die voorstel is. Dokters, verpleërs en ander gesondheidsorgwerkers glo nie die NGV gaan werk nie en hulle wil ook binne die stelsel werk nie. “Hulle sal eerder emigreer as om daaraan onderwerp te word,” skryf Hermann.

Die ingang na die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Soweto. (Foto: Thabiso Makelo/Panoramio)

Hy sê dit is nie omdat gesondheidsorgwerkers nie mense wil help nie, maar juis omdat hulle wíl. “Dié stelsel gaan dit vir hulle onmoontlik maak. Daar is ʼn wesenlike risiko dat die NGV gaan veroorsaak dat gesondheidswerkers en die nodigste vaardighede en spesialiste die land gaan verlaat.”

Hermann sê gegewe dié terugvoer is dit moeilik om te sien hoe die regering die publiek se gesondheid en gesondheidswerkers se welstand steeds as ʼn prioriteit sien. Hy sê óf geen van dié terugvoer is in ag geneem nie, óf dit is bloot verwerp.

“Jy verwerp ekonomiese werklikhede wat wys die stelsel kan nie finansier word nie. Jy verwerp praktiese werklikhede wat onbetwisbaar bewys die regering kan nie gesondheidsorg bestuur nie. Jy weier om enige van die terugvoer te aanvaar van die einste beroepslui van wie jy verwag om die dienste te lewer.”

Hermann sê ook die sakesektor, insluitende banke, versekeringsmaatskappye, myne, ouditeursfirmas en sakekamers, asook mediese fondse en administrateurs, die farmaseutiese bedryf, private hospitaalgroepe en vakbonde het die voorstel reeds verwerp.

Toekomsberaad-Dirk-Hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Reint Dykema)

Hy sê volgens die regering se eie vooruitskattings groei die ekonomie nie naastenby vinnig genoeg om die voorstel te finansier nie en boonop het alle loodsprojekte tot dusver misluk.

Hermann sê ook volgens die regering word nagenoeg R250 miljard jaarliks op minder as 20% van die bevolking bestee, maar dat dít die gedeelte van die bevolking is wat toegang het tot private mediese versekering. Nóg R220 miljard word op die res van die bevolking bestee.

“Jy versuim om te noem dat dieselfde 20% wat aan mediese fondse behoort, ook die meeste belasting betaal om sukkelende staatsdienste te finansier. Dié geld behoort nie aan die staat nie. Vir die regering om deurlopend burgers se swaarverdiende geld te wil eis, is om hulle arbeid te eis – en ʼn regering wat aanspraak maak op sy burgers se arbeid, is een wat van hulle slawe van die staat maak,” sê Hermann.

Hermann sê die regering reageer boonop op kritiek asof hy in ʼn oorlog gewikkel is met organisasies wat burgerregte bevorder en beskerm. Dit wil ook nie ontken dat Suid-Afrika ʼn gesondheidsorgkrisis beleef nie en dat gewone Suid-Afrikaners die spit afbyt in ʼn korrupte stelsel waar hulle of hulle geliefdes soms selfs met hul lewens boet.

“Om met die proses voort te gaan is nie net onraadsaam nie, dit is ook immoreel. Solidariteit gaan, in die belang van alle Suid-Afrikaners, die voorgestelde NGV teenstaan, selfs tot in die hoogste hof as dit nodig is. Ons is nie net oortuig van die wetsontwerp se immoraliteit, onpraktiese aard en onbekostigbaarheid nie, maar ook van sy ongrondwetlikheid.”

Hy sê die NGV gaan Suid-Afrika ʼn sieker, armer en minder vooruitstrewende land maak.

“Die NGV verteenwoordig die regering se oënskynlike oplossing vir alle probleme, naamlik om meer mag en kapitaal vir homself op te eis, ten spyte van die talle en ooglopende mislukkings.”

Hermann vra Ramaphosa en Mkhize om die implementering van die wetsontwerp dadelik te staak, of Solidariteit gaan geen ander keuse hê as om die howe te nader nie.

“Ons gaan nie toelaat dat ons lewens in gevaar gestel word bloot ter wille van ideologiese oorwinnings nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johan Venter ·

Baie dankie Dr Dirk, ons bid julle alle sukses toe, ons hoop en vertrou julle vaar beter hiermee as die SAL se vrywillige sakeredding waartoe julle toegestem het na julle dit aanvanklik teengestaan het. Duidelik het julle oordeel julle toe versaak of daar was ander redes wat julle van besluit laat verander het. En nou, so week of so gelede, sien ons dat die SAL sal oor die volgende 3 jaar R16.4 miljard in reddingsboeie toegestaan word.

gatgogga ·

Ja, Johan. Ek ondervind dieselfde. Ek wonder of Maroela onpartydig is en vryheid van spraak in die media wil bevorder.

Johan Venter ·

En die kruks van die storie is dat ek is by die 99% van die tyd in my kommentare ‘n aktiewe uitgesproke ondersteuner van die hele Solidariteitbeweging.

Johan Venter ·

Nie probleem met die afduimpies nie, ek sou egter eerder waardeer het as hulle ‘n kommentaar kon plaas waarin hulle my korrigeer. Die feite is:
1. Solidariteit het, na hulle aanvanklik op ‘n sakeredding deur ‘n hofbevel aangedring het die ANC en SAL se vrywillige sakeredding aanvaar.
2. Die ANC regering/Tito Mboweni het nou met die begroting aangekondig dat die SAL sal oor die volgende 3 jaar nog reddingsboeie van R16.4 Miljard ontvang.

katerinadiekat ·

Is daar n artikel iewers wat in leketaal verduidelik hoe die NGV mense gaan raak wat tans op mediese fondse is en
toegang het tot privaathospitale? Want soos ek dit tot dusver verstaan, gaan dit beteken dat iedereen met n ID boek na enige hospitaal sal kan gaan. Selfs privaat hospitale. Dus sal die massas toesak op privaat hospitale en die gewag om n dokter te sien sal eindeloos wees. Dit sal onnodige sterftes veroorsaak onder mense wat ten duurste betaal vir n mediese fonds, juis omdat hulle in geval van siekte of nood n dokter so gou as moontlik wil kan sien.

Strandloper ·

Dankie Dr. Dirk Hermann. Weereens n bewys van n te kort koming van plein “common sense” en verantwoordelikheid in alle opsigte van die huidige regeering.

Oujongvrou ·

Ek wens uit my hart uit al die briewe wat op afrikaanse nuusblaai geplaas word wil stop. Ramaposa, die hele ANC, lees dit nie. So wat op dees aarde help dit.?? Behalwe om ons te ontstel. Mnr Dirk Hermann sit julle energie liewer daarin om die Kaap af te stig van die res. Hier is n lughawe, genoeg hawens ens. Maar nou skryf julle briewe. Ai tog

Moedeloos ·

Oujongvrou bly liewer op jou rak sit want jy het nie n clue wat hier buite aangaan nie. Mnr Herman is sekerlik kundig genoeg om sy brief in engels te skryf vir CR en die Kaap sal nooit afgestig kan word nie.

gatgogga ·

Meneer Ramaphosa is definitief nie bekwaam om ‘n land se ekonomie te behartig nie.
Met sy Landgryp sonder vergoeding en nou weer die Nasionale gesondheidsorg moes hy ons seker al miljarde aan beleggings gekos het.

Johan Venter ·

Absoluut, en ook word die uiters swak vertoning van die rentekoerse direk aan die onvermoeë van die ANC regering gekoppel wat nie idee het hoe om ‘n land te bestuur nie, hulle almal het meestersgrade in afbreek en planne maak. Hulle is ongelooflik mededeelsaam soos in als wat mens het moet jy met HULLE deel , andersins het jy ‘n keuse by wyse van regulasie of soos ‘n grondgrype.

Pieter J ·

Die ANC politici gee nie om wat word van gewone mense nie want hulle almal gaan op die belastingbetaler se koste na die buiteland indien hulle mediese sorg nodig het soos wat JZ die afgelope tyd na Kuba gegaan het.

Vriendelike Frikkie ·

Dit gaan my verstand te bowe dat daar nog mense en instansies is wat nie die uiteinde van die ANC se plan kan of wil sien nie. Totale kommunisme. Niks anders nie. Elke “toegewing” wat gemaak word is net ‘n troosprys vir die opposisie. Hierdie speelplan is al telkemale met groot sukses regdeur Afrika toegepas. In elke geval was die foute met die planne ooglopend, maar dit is nog steeds deurgevoer met katastrofies gevolge. Om op te som , die NGV gaan ingestel word, ons gaan 10x meer probleme hê as nou, dit gaan weer op Apartheid of Jan geblameer word. Die haat teenoor die Blankes gaan net meer aangeblaas word.
Geen brief skrywery gaan werk nie, dit laat net die skrywer beter voel. berei eerder voor om al die gemors wat kom te probeer oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.