Brink wil Tshwane uit finansiële verknorsing kry   

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane. (Foto: Tshwane-metroraad)

Dit is geen geheim dat die Tshwane-metro deur beduidende finansiële uitdagings in die gesig gestaar word nie, maar burgemeester Cilliers Brink hoop dat die nuwe begroting waarin uitgawes aansienlik verminder is, die bedrywighede in die stad sal stabiliseer.

“Dit sal van kritieke belang wees as ons enige beduidende finansiële volhoubaarheid vir die toekoms wil bereik,” het Brink Dinsdag tydens ʼn mediakonferensie oor die metro se geldsake gesê.

Volgens Brink is een van die groot uitgawes uitstaande BTW-betalings wat die metro aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) skuld in verband met die omstrede kragmeterkontak wat die ANC-raad in 2013 met PEU/TUMS aangegaan het vir die voorsiening en bestuur van slim meters.

“Dit was ʼn kontrak wat van die begin af onwettig was en onder die vorige ANC-administrasie deur die raad gedwing is.”

Die kontrak is later ongrondwetlik verklaar en ter syde gestel.

“Eers in Junie 2021, toe die SAID ʼn eis uitgereik het vir ʼn bedrag van R2,9 miljard vir ʼn onbetaalde BTW-aanspreeklikheid, tesame met boetes en rente ter waarde van R1,8 miljard, het die volle implikasies van hierdie onregmatige kontrak en wanbestuur duidelik geword. Die SAID het die stad effektief met ʼn R4,7 miljard-aanspreeklikheid gekap. Dit is nooit formeel aan die destydse politieke leierskap bekend gemaak nie. In plaas daarvan het die destydse finansiële hoof ʼn betalingsplan met die SAID beding.”

Tans betaal die metro R91 miljoen per maand en volgens Brink is ongeveer R2,2 miljard reeds aan die SAID betaal.

“Wat ons opgegrawe het, is ernstige finansiële wangedrag en wanvoorstelling. Ons sal hierdie hele proses aan ʼn omvattende forensiese ondersoek onderwerp. Totale wanbestuur van hierdie aanspreeklikheid het ʼn gat van R2,9 miljard in die fiskus geblaas en ʼn verdere potensiële R1,7 miljard se boetes en rente. Sodra ons hierdie ondersoek afgehandel het, sal ons dit gebruik as die basis om die SAID te nader om te probeer om die boetes te verminder.”

Eskom en Rand Water

“Ons ontken nie ons moeilike finansiële situasie nie, en ons ontken ook nie dat ons ʼn verpligting het om Eskom en ander krediteure soos Rand Water te betaal nie.”

Die Tshwane-metro skuld Eskom meer as R1,6 miljard.

“Ons verskaf voortdurend betalingsplanne aan Eskom, waarby ons ons bes doen om by te hou. Ons staar egter aansienlike inkomstedruk in die stad in die gesig. Dieselfde geld vir Rand Water. Ons is voortdurend in gesprek met die entiteit om te verseker dat ons ons lopende rekening bedien.”

Brink het beklemtoon dat die watertekort wat in die stad ervaar word, niks te doen het met enige kredietbeheer of beperkings deur Rand Water nie. “Dit hou suiwer verband met infrastruktuuruitdagings aan die kant van die watervoorsiening.”

Die Tshwane-metro is ernstig daaroor om sy afhanklikheid van Eskom te verminder, en daarom sal die stad voor die einde van September versoeke vir voorstelle oor die verkryging van alternatiewe energie gepubliseer hê, het Brink gesê.

Groot fokus op invordering

“Ons finansiële herstel sal eenvoudig nie plaasvind sonder om ons inkomste te verbeter nie. Ons het besluit om ʼn aggressiewe invorderingveldtog van stapel te stuur om dalende inkomste te stop.”

Volgens Brink is die teiken om te verseker dat daar weekliks 1 000 wanbetalers ontkoppel word. Die fokus is volgens Brink op diegene wat R50 000 of meer skuld. Van 12 tot 30 Junie is meer as 3 000 wanbetalers reeds ontkoppel.

“Daar lê nog ʼn berg voor ons terwyl ons poog om die stad se finansies te stabiliseer, maar ek het dit my prioriteit gemaak om te verseker dat ons die publiek op die hoogte hou van wat ons in die gesig staar en wat ons doen om die stad vorentoe te neem.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Stofdonkie ·

Nee, jy is verkeerd, daar is te veel mense wat salarisse kry, daar is steeds te min mense wat daar werk. Slegs mense wat daar werk moet salarisse kry dan sal dit beter gaan.

JvR ·

Weerens. Waarom n BTW rekening aan n regerings instansie? Ek is dankbaar die transaksie self is van die baan. Maar hou op om munisipaliteite soos ondernemings te bestuur, en hanteer dit soos n munisipaliteit. Dan sal daar onmiddelik verbetering wees.

Carl ·

In ondernemings word geld gemaak omdat daar wins is. In ‘n stadsraad moet dit net so bestuur word. Dienste moet verksaf word. DA is nie gekwalifiseer om dit te doen nie.

JvR ·

Munisipaliteit is nie n onderneming nie. Dit is deel van regering. Net soos elektrisiteits betalings moet, soos in die ou dae, direk na eskom gaan, en nie n laaaang draai maak in munisipaliteits rekening nie. Munisipale dienste se geld hoort in munisipale rekening. Soos erf belasting en die ander dienste wat hulle lewer. Dalk is jy na 1994 gebore? Want in die 70’s het dit so gewerk,

Harley Davidson ·

Hierdie is ‘n skerp burgemeester as hy ‘n ordentlike kans gegun word kan hy Pretoria regruk en weer voorspoedig maak.

Carl ·

Wanneer dit bankkrot is sny jy alle koste. En sien dit nie. Hy is te jonk en het te min ondervinding.

JvR ·

Jy is reg. Maar teoreties kan n munisipaliteit nie bankrot wees nie. Want alle geld is staats geld. Ja. Tenders is n groot skelm spul. En vroeër jare het geld nie uit staatskas na privaat sektor gegaan nie. DOW het alles hanteer. En is salarisse betaal daarvoor.

Danie ·

As daar net meer mense soos hy was.Met goeie ondersteuning kan hy en die raad n groot verskil mask. Sterkte mnr.

Patch ·

Ek stem. Hy moes al hierdie gemors erf en probeer sy bes. Alles gaan nie oornag verander net omdat ons ‘n nuwe burgermeester het nie. Dit gaan tyd en baie geduld verg.

Chris dupreez ·

Sterkte, ons hoop jy word toegelaat om dit reg te kry. Die anc/eff sal jou wil uitkry en die ondersoeke staak. Om te dink die persoon wat verantwoordelik was vir die bedrog met die meters in 2013, is nou die minister van elektrisiteit.

Mellivora ·

Probleem is dat nie al die “skuld” geldig is nie.
Het ‘n dispuut verklaar met Tshwane oor meterlesings wat te hoog geskat is.
Al wat hulle gedoen het is om na maande al die meters te kom vervang en weier steeds om die rekening te krediteer met die meer as 28000 (agt-en-twintig duisend) eenhede waarvoor ons te veel aangeslaan is plus die rente wat in totaal nou al meer as R90000 beloop.

Christo ·

Heeltemal korrek. Sit met n R1.2 miljoen rekening wat hulle nie regstel nie. Hulle is ondern wanindruk oor hoeveel gelde aan hulle verskuldig is

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek het dieselfde probleem gehad voordat ek Pretoria verlaat het. Hulle skuld my nog geld, welliswaar heelwat minder as vir jou.

Patch ·

Mnr Brink, ek haal my hoed vir jou af. Jy het ‘n reuse taak om te verrig om sodoende Tshwane weer op die been te kry. Jy word deur baie gekritiseer maar daar is soveel mense wat waardeer wat jy probeer vermag en kan sien dat jy die eerse betrokke buergermeester weer in jare is. Ek hoop dat jy nog lank in daardie stoel sal sit en ons pragtige Jakarandastad weer kan ophef.

Patch ·

Sou jy hierdie werk wil doen? Miskien moet die Pretorianers jou kies as burgermeester dan sien ons of jy dit beter kan hanteer as wat hy die laaste paar maande probeer. Of sal jy graag eerder weer ‘n ANC burgermeester wil hê, dan sal ons hoor hoe jy kla. Geen die man ‘n kans, ek dink hy het potensiaal.

Christo ·

Jy dink nou presies soos die ANC. Maak nie saak of die knaap die werk kan doen nie, solank hy net nie `n ANC mannetjie is nie

Genis ·

Doen asb daadwerklikke ondersoeke ivb met die tenders wat die kaders so kry… Daar word baie geld verdoesel… Wil jul my werklik se, die stadsraad kanie self watermeters, elektrisiteit en credit control doen nie?

Elmarie ·

Ek glo hy gaan sy bes probeer en minstens is hy positief – anders as party wat hom hier net kritiseer. Ongelukkig gaan eff en anc hul uiterste bes doen om alles in die wiele te ry wat hy probeer. Pleks mense meer positief wees en agter hom skaar nou is hy kammig te lig in die broek. Nee wat met sulke negatiwiteit kom mens nêrens.

Althes ·

Jy is neerhalend teenoor hom. Hy is jonk en dinamies en het ñ visie. En jy?

Republikein in die Wes Kaap ·

Die kern probleem is voltydse politici wat in die stadsraad sit. Voor 1996 was almal deeltyds, selfs die burgermeester. Die belange van die inwoners was primêr, politiek was sekondêr. Die gewone amptenare het verslag gedoen aan ‘n stabiele stadsraad wat hul rolle vertstaan het. Haal politiek uit die som en dit sal beter gaan.

skurweberg ·

Dankie tog dat ons iemand in die stoel het wat weet dat ‘ n mens ‘n prioriteitslys moet hê en nie net jou eie belange nie.

Johann ·

So Brink…weet jy van die CHAOS as dit kom by terugbetalings na die berekening van finale munusipale rekeninge ná die verkoop van ‘n eiendom? GEEN stelsel of sisteem wat verseker dat MY geld aan MY betaal word nie! GEEN verwysings nommer! Transaksie afhanklik van die “registrasie” van die oordrag prokureur by COT? GEEN rente op die bedrag betaalbaar…na meer as n JAAR!

Antoinette ·

Here, ons bid vir bonatuurlike insig en wysheid vir Cilliers Brink. Gee hom die Gees van Wysheid en Openbaring in Kennis van U, verligte oë van sy verstand om U wil te verstaan en dit deur te voer. Ek bid dat enige mond gesnoer sal word deur U openbaringe. Dankie Here.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.