Bronkhorstspruit het dalk gou weer water

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die Tshwane-metro het onderneem om binne die volgende paar dae – moontlik teen Donderdag al – watertoevoer na Bronkhorstspruit te herstel.

Die dorp sit sedert Sondag sonder water nadat die waterbehandelingaanleg noodgedwonge gesluit moes word weens ʼn foutiewe klep wat oorstromings by die pompstasie veroorsaak het.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die metro, sê indien alles volgens plan verloop sal inwoners se water teen Donderdag weer in die pype vloei.

“Die stad se tegnici werk onverpoosd om inwoners se watertoevoer te herstel,” sê hy.

Dele van Bronkhorstspruit, Ekandustria, Ekangala, Rethabiseng, Riamarpark, die Thembisile Hani -plaaslike munisipaliteit en Zithobeni sit sonder water.

Sedert die oorstromings by die aanleg is die pompmotors uitgedroog en getoets. Daar is egter aanbeveel dat dit nog ʼn dag lank uitdroog en ʼn bykomende afkoelperiode sal oornag geskied.

“Dié dele sal na verwagting Woensdag aanmekaargesit en getoets word voor gebruik hervat word,” sê Mashigo.

“Intussen is die aanleg se pompe gestroop, drooggemaak en word dit tans geïnspekteer. Afhangende van die ondersoek, sal die pompe later vandag weer aanmekaargesit word. Al die elektriese kabels, insluitend die skakeltoerusting, word nog getoets en sal gebruik word indien alles vlot verloop.”

Verskeie watertenkwaens, wat in oorleg met die wyksraadslede gereël is, sal voortgaan om water aan inwoners te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Herman ·

Hahahah nie in ons leef tyd nie ou maat. Maar ek stem saam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.