‘BSV’ se Daandré glo vanjaar is die jaar vir liefde

Daandré. (Foto: Verskaf)

Daandré, ʼn 26-jarige boer van Brits, is een van die tien boere wat liefde wil vind in die 16de seisoen van kykNET se maatsoekreeks, Boer soek ʼn vrou.

Marciel Hopkins bied vir ʼn vierde keer die program aan, en dié seisoen sal vanaf Julie 2024 op die kassie verskyn.

Kykers sal dan die boere se liefdesreis kan volg, en die seisoen, wat uit 13 episodes bestaan, sal oudergewoonte fokus op die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het.

Daandré het die toptien van die vorige seisoen net-net misgeloop – iets waaroor hy vandag bly is omdat baie dinge in daardie tyd gebeur het wat te veel van sy aandag in beslag geneem het.

Vanjaar is egter die jaar vir liefde, sê dié groenteboer van die Noordwes.

“Ek vertrou op die Here dat die tyd reg is vir my om my trouvrou te ontmoet, want om alleen te wees, is nie meer lekker nie.”

Daandré en sy familie woon al 21 jaar op die plaas, en hy sê sy liefde vir boer kom van sy pa en oupa af. Dit is ʼn familieboerdery, wat aan sy pa en oom behoort, en waarby hy en sy broer ook betrokke is.

Hy is verantwoordelik vir die pakhuis, bemarking en die aankoop van produkte wat deur die pakhuis moet gaan, maar hy erken die ure op die plaas maak hom moedeloos.

Seisoentyd beteken groot druk op die pakhuis, maar dit is vir hom belangrik om balans tussen werk en vrye tyd te handhaaf.

“Jy kan nie net werk, werk en werk nie,” sê dié donkerkopboer.

Daandré. (Foto: Verskaf)

In sy vryetyd hou hy daarvan om staproetes te doen, bergfietsrenne te ry, te kampeer en te reis.

Tussendeur erken Daandré dat hy by tye té eerlik kan wees, en wanneer iemand hom omkrap, is hy geneig om te onttrek. Hy krop ook soms sy emosies op omdat hy nie van konflik hou nie.

Hy glo wel hy is ʼn baie lojale mens wat reguit praat, en hy beskik oor hope dryfkrag wanneer hy iets aanpak.

Hy het ongeveer drie jaar gelede ʼn nuwe belangstelling in plante ontwikkel en sy liefde vir broodbome ontdek.

Nadat hy sy eerste saailinge geplant het, is hy behoorlik deur die broodboomgogga gebyt en gaan sy kwekery net van krag tot krag.

Daandré sê hoewel hy nog nie ʼn verhoudingsgeskiedenis het nie en nog nooit in ʼn vaste verhouding was nie, is hy wel romanties. Vir hom is dit ʼn piekniek vir twee by kerslig langs die dam onder die maanlig.

“Ek het nie baie meisies in die verlede gehad nie. Ek kan hulle waarskynlik op my een hand tel. Party mense sien dit as ʼn slegte ding, want jy het nie ervaring opgedoen nie, maar in my oë – hoekom moet jy ervaring opdoen om liefde te vind? As jy regtig weet wat jy soek, gaan sy jou paadjie kruis.”

Daandré sê ook hy het ʼn groot liefde vir die Here. “My passie is daarin, en veral onder die jeug.

“Elkeen het ʼn ander ervaring, en dit hang af waar jou geloofsvlak lê. Ek soek iemand met goeie familiewaardes en ʼn sterk geloofsagtergrond. ʼn Mens help bou aan mekaar se geloof.”

Daandré draai ook nie doekies om nie. As hy die regte vrou vind, gaan daar kort voor lank voor die kansel gestaan word, en binne vyf jaar sal daar ook hopelik twee kinders wees.

“Daar is soveel goed wat ek wil doen, plekke wat ek wil sien, maar ek wil dit nie alleen doen nie. Ek wil dit met iemand spesiaal deel. Jy kan nie die vreugde van sulke dinge alleen ervaar nie.”

Wil jy vir ʼn boer skryf?

Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.