Bylsma-vonnis waarskynlik uitgestel

Xander Bylsma gedurende ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die veroordeelde moordenaar Xander Bylsma (21) se vonnisoplegging sal waarskynlik volgende week uitgestel moet word te midde van die Covid-19-pandemie. Vonnisverrigtinge was veronderstel om eerskomende Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho in Noordwes te begin.

“Dit gaan in alle waarskynlikheid uitgestel word. Daar is ook nog nie nuwe datums bekend nie,” het Conrad Bester, Bylsma se prokureur, Woensdag aan Maroela Media bevestig.

Volgens Bester sal hy en Bylsma se advokaat, Sakkie Nel, wel Maandag in die hof wees, sou dit net vir ’n uitstel wees. Dit is egter nie in dié stadium duidelik of Bylsma in die hof sal verskyn nie. “Ons probeer nog reëlings tref.”

Bylsma is tans in aanhouding by die Rooigrond-gevangenis waar hy dié week sy 21ste verjaarsdag vier.

Volgens Bester is ’n voorvonnisverslag ná sy kliënt se skuldigbevinding aangevra, hoewel dit nie duidelik is of die verslag al gereed is nie.

Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht (Foto: Facebook)

Maroela Media het vroeër berig Bylsma is in Februarie vanjaar skuldig bevind aan die moord op sy voormalige vriendin Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht (16).

Hough en Engelbrecht is gedurende die nag van 25 en 26 Mei 2018 in die hoërskoolkoshuis op Stella vermoor. Hough se liggaam is die oggend van 26 Mei aangetref waar sy met ’n tou om die nek aan ’n trapreling gehang het. Engelbrecht se liggaam is in ’n badkamer met ’n handsaklus om haar nek aangetref.

“Die bewyse vertel ’n verhaal van gemengde gevoelens, jaloesie, teleurstelling en wraak,” het regter Ronald Hendricks vroeër vanjaar gedurende sy uitspraak gesê.

Volgens Hendricks is dit duidelik uit die bewyse in die binne- sowel as die hoofverhoor dat dit Bylsma is wat die meisies vermoor het en nié Brandon Victor, Sharnelle se kêrel ten tyde van die moorde nie. Bylsma het tydens die verhoor beweer Victor is die skuldige.

Lees alle berigte oor die saak op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Ja nee daar is NIKS agter daai oe nie. Kan net dink hoe bang die meisies was! Om te dink die ou kan weer eendag UIT die tronk uitkom. Die meisies is geen kans vergin om hulle 21ste verjaarsdae te vuur nie my ou.

sopbeen ·

Waar hy tans tuis gaan is moontlik die rede vir die gevoelose kyk.

antieke antie ·

ek glo nie dis net waar hy bly nie…. hy het nie grootgeword in n ‘crowed huishouding’ nie…. hy word eintlik as ‘bevoorregd’ beskou …. maar uit sy gedrag sou ek se
bedorwe brokkie’ klink of hy sy ouers maar hel kon gee met sy houding en gedrag…. as boetie nie sy sin kry nie dan val pappa en mamma om boetie sy sin te gee…. moontlik het mamma ook vir pappa gepressure dat ‘ hierdie seuntjie sy sin moet kry en niks mag hom ontse word nie … en so het hy die mag misbruik … ongelukkig het hy nie die mag in die wereld nie … saluut aan Sharnelle wat kon ontsnap uit sy mag …

Alida ·

Hoekom uitstel? Daar is mos spesiale permitte? Moordenaars word nie vrygelaat nie. Daar is al hoeveel keer daaroor berig. Ai tog.

antieke antie ·

daai klomp kriminele wat losgelaat word gaan weer misdaad pleeg…hopelik nie geweld teen ons kinders en swakker mense nie

Nico ·

Wat hy gedoen het is strafbaar maar hoekom die saak so lank uitrek. Hy is mos witman, wat van al die plaasmoorde, alles is doodstil

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.