Byna 100 trokke per uur op N3 deur Heidelberg

Polisielede en soldate op patrollie op die N3 naby Heidelberg in Gauteng. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Sowat 1 800 vragmotors het die afgelope 24 uur reeds uit Gauteng met die N3 en sy alternatiewe roete na KwaZulu-Natal gereis. Teen Sondagoggend is gemiddeld 93 vragmotors per uur by Heidelberg opgeteken.

Nadat dié belangrike roete weens die afgelope week se geweld etlike dae lank gesluit is en talle vragmotors op die N3 aangeval, geplunder en uitgebrand is, het dit Vrydag weer vir verkeer heropen.

Alles van medisyne tot kos en brandstof kan nou weer na KwaZulu-Natal vervoer word.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, was Sondag saam met verskeie ander ministers by die Heidelberg-weegbrug van waar vragmotors na KwaZulu-Natal vertrek het. Pres. Cyril Ramaphosa was in Soweto waar hy met opruimingswerk na etlike dae se stroop- en plundertogte gehelp het.

Gordhan sê die groot getal vragmotors wat reis is tekenend van groot sakeondernemings se bereidwilligheid om betrokke te raak.

“Dit is ʼn bewys van die belang van die N3, maar ook van die interafhanklikheid tussen verskillende provinsies en produksieaanlegte landwyd,” sê Gordhan.

Hy sê die hawe in Durban is operasioneel en dat goedere nie net die land ingebring kan word nie, maar nou ook vir uitvoer na die hawens geneem moet word omdat dit uiters noodsaaklik vir die ekonomie is.

“Sektore soos die landboubedryf, veral die sitrusbedryf, moet nou heelwat sitrus uitvoer na die noordelike markte,” sê die minister.

In hierdie stadium moet die petrol, diesel en graan wat by die hawe opgehoop het, egter eers verwerk word.

Maroela Media het vroeër berig sowat 6 000 vragmotors gebruik elke dag die N3 en verliese wat gely is omdat die belangrike roete dae lank gesluit was, het miljarde rand beloop.

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, sê die ekonomie is die afgelope week op verskeie maniere skade berokken, onder meer deur die beskadiging van fabrieke en verskaffingskettings wat onderbreek is.

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, by die Heidelberg-weegbrug in Gauteng. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

“Dit gaan tyd neem om die fabrieke te herbou. Wat wél vinniger gedoen kan word, is om te verseker daar is basiese voedselitems en medisyne in winkels in KwaZulu-Natal.

“Die heropening van die N3 is ʼn belangrike eerste stap om dit te doen,” sê Patel.

Talle Suid-Afrikaners het die afgelope paar dae self ingespring om nie net met opruimingswerk te help nie, maar ook om selfs kwesbare gebiede, winkels en sentrums te help beskerm.

Daar is ook reeds begin met die verspreiding van onder meer kospakkies na KwaZulu-Natal vir diegene wat deur die oproer geraak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Tiptol ·

Die afgelope paar dae was hard en het mens moeg en moedeloos laat voel. Maar die mense se saam staan, saam werk en opstaan gee moed en wys ons kan.

Harley Davidson ·

Ek stem gladnie saam,ons stap 2 tree vorentoe en 10 agtertoe.,en van onoselheid glo ons ons is aan die wenkant terwyl die teendeel eintlik van toepassing is.

Blikkantien ·

Miskien moet die vlak vier staat van inperking nou maar opgehef word, siende dat our people in elk geval net doen wat hulle wil. Die trokke kan dan ook sommer deurnag ry.

Johan ·

Nou vra jy vir gesonde verstand om in te tree, dit is n bitter skaars item selfs onder ons medici in SA. Dalk noudat die UK begin wakker word sal dit oorwaai na ons toe. Die regulasies werk net mooi niks behalwe om die ekonomie te knyp, nie omdat dit nie kan werk nie, net omdat slegs n bitter klein deeltjie hul daaraan steur. Dit is wat die “pro regulasie” bende nie kan verstaan nie.

Werner ·

Dit moes in die eerste plek nie tot hoer gekom het nie.Glo nie dis verby nie wag maar.

JohanR ·

Gedurende die bos oorlog in Rhodesia het militêre konvooie vanaf Fort Victoria na Beit Brug in convoy gery om motoriste te beskerm. Kan ons nou maar se dat Suid Afrika is in ‘n terroriste oorlog?

Dries ·

En so voorsien die boere maar nogsteeds die kos. Wat n skande dat Ramaphosa nogsteeds nie n woord sê oor plaasmoorde nie. Besef hy regtig nie dat die boere die belangrikste skakel tussen honger en versadig is nie

Johanncb ·

Dit gaan tyd neem om Suid-Afrika in alle opsigte te herbou! Die sielkundige uitwerking is groot! Die gepeupel, opgestook deur voormalige “leiers”, het ontsaglike skade aangerig, sonder om aan nagevolge te dink!

Johan ·

Jys 100% reg, niemand in SA dink ooit aan nagevolge nie…kyk maar hoe swak is die covid hanteer…en steeds gaan die ondeurdagte regulasies net voort.

annie ·

Het vanoggend se aardbewing toe darem vir Gordhan en Patel onder die bed uit gekry nà laasweek se petaljes. Gelukkig vir hulle was die meeste opruimingswerk reeds deur die pres gedoen. Die twee ministers se proviant was seker ook amper gedaan nà die lang laaglè.

Jack ·

Die aanvallers sal weer probeer maar omdat hulle onsigbaar is in die nag moet trokke na 1800 nie loop nie en voor 0600 begin nie. Lafaards kom in die nag om te plunder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.