Canal+ moet Multichoice ʼn oorname-aanbod maak

(Foto: Maroela Media)

Suid-Afrika se Oornamereguleringspaneel het beslis dat die Franse uitsaaireus Canal+ verplig is om onmiddellik ʼn aanbod te maak om ander MultiChoice-aandeelhouers uit te koop.

Canal+ is MultiChoice se grootste aandeelhouer en het onlangs die 35% aandelekerf verbygesteek, wat ʼn aanbod ingevolge art. 123 van die Maatskappywet verpligtend maak.

“[D]ie paneel beslis dat Canal+ onmiddellik stappe moet doen om aan die vereistes van art. 123(3) van die wet en regulasies te voldoen deur ʼn aanbod aan die oorblywende minderheidsaandeelhouers van die MultiChoice-groep te maak,” lui die beslissing.

Maroela Media het vroeër berig dat Canal+ R105 per aandeel aangebied het om die maatskappy oor te neem. MultiChoice het dié aanbod verwerp en gesê dat dit “die groep se toekomsvooruitsigte aansienlik onderwaardeer”.

In daardie stadium het Canal+ 31,67% van MultiChoice se aandele besit. Dit het egter kort daarna tot 35,01% gestyg.

Die Suid-Afrikaanse Wet op Elektroniese Kommunikasie kompliseer sake egter aangesien dié wetgewing beperkings op die buitelandse besit van plaaslike uitsaailisensies plaas.

Dit beteken dat Canal+ sy aandele in MultiChoice na enige vlak kan verhoog, terwyl sy stemreg tot ʼn maksimum van 20% beperk is.

Canal+ voer in die lig hiervan aan dat die maatskappy onder geen verpligting is om ʼn aanbod te maak nie omdat “MultiChoice se Memorandum van Inkorporasie (MOI) die vermoë van ʼn buitelandse aandeelhouer beperk”.

Die paneel het egter steeds beveel dat Canal+ ʼn aanbod moet maak, en dui in sy beslissing aan dat  Canal+ se argument nie geldig is nie aangesien die stemreg slegs sake geld wat met die uitsaailisensies verband hou en vir alle ander sake sal Canal+ sy volle stemreg hê.

Die buitelandse beheerbeperkings is van toepassing op die ondernemings wat MultiChoice beheer en wat kommersiële uitsaailisensies het, maar die MultiChoice-groep het ook ander beduidende ondernemings regoor die Afrika-vasteland met plaaslike uitsaailisensies wat deur M-Net en MultiChoice in Suid-Afrika gehou word.

Canal+ het ʼn periode van vyf dae nadat die beslissing gevel is om die paneel te nader.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piet ·

Ek wonder net hoekom jy ‘n maatskappy sal wil oorneem as daai land se regering beperkings op jou gaan plaas. Ek sou nie eers bele het in die spulletjie as ek Canal+ was nie.

Marthinus Johannes ·

Eers sê hulle nee, en nou Wil hulle hul forseer. Iemand het seker nou seker geld geruik. Offer hulle 1sent per aandeel. Take it or leave it.

Cassie Carstens ·

Daar is te veel herhalende programme vir die prys wat mens moet betaal, veral Mnet intekenare. Ek hoop Canal+ neem oor – dalk kom ons intekenare prys af of ons sien beter gehalte uitsendings.

SwartBees ·

Canal+, julle gaan ‘n kat in die sak koop. Verkoop julle andele en laat vaar die transaksie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.