MultiChoice sê ‘nee dankie’ vir R105-aanbod

dstv-02

(Argieffoto / Maroela Media)

MultiChoice het die Franse maatskappy Canal+ SA se aanbod om alle oorblywende aandele in MultiChoice teen R105 per aandeel te koop van die hand gewys.

MultiChoice sê die maatskappy is baie meer as R105 per aandeel werd, maar het tog die deur oopgelaat vir verdere onderhandelings sou Canal+ besluit om sy aanbod meer aanloklik te maak.

Canal+ plaas MultiChoice se waarde tans op R46 miljard.

Die Franse uitsaaireus, wat soortgelyk is aan DStv en ook in Afrika bedrywig is, is MultiChoice se grootste aandeelhouer en besit meer as 30% aandele in dié maatskappy.

Maroela Media het vroeër berig dat Canal+ verlede week ʼn nie-bindende aanbod gemaak het om die res van die aandele, wat nog nie in die maatskappy se besit is nie, teen R105 te koop.

MultiChoice sê egter dat hy ná deeglike oorweging tot die gevolgtrekking gekom het dat die R105-kontantaanbod “die groep en sy toekomsvooruitsigte aansienlik onderwaardeer”.

Die maatskappy sê ook dat gesprekke met Canal+ al meer as ʼn jaar duur en dat Canal+ se skriftelike aanbod aan MultiChoice se raad ná hierdie samesprekings aan hom gestuur is; ʼn aanbod wat Canal+ nou al “wyd in die openbaar en met die media bespreek het”.

MultiChoice sê sy besluit om die aanbod van die hand te wys berus onder meer op ʼn onlangse waardasie wat die maatskappy se waarde “aansienlik hoër” as R105 per aandeel geplaas het. MultiChoice het egter nie ʼn bedrag in hierdie verband bekend gemaak nie.

Dié waardasie sluit ook enige moontlike sinergieë uit wat dalk uit die voorgenome transaksie kan voortspruit.

“In hierdie verband het Canal+, na aanleiding van breedvoerige besprekings tussen die partye, herhaaldelik aan die publiek oorgedra wat hy as die voordele van die gekombineerde entiteit beskou, en dus die siening aanvaar dat daar inderdaad beduidende sinergieë is. Dié sinergieë moet by enige billike aanbod deur Canal+ ingereken word,” het MultiChoice Maandag gesê.

Die maatskappy sê hoewel hy oop is vir alle moontlikhede om aandeelhouerswaarde te verhoog, Canal+ se aanbod en brief nie ʼn grondslag vir enige verdere onderhandeling bied nie.

“In ooreenstemming met sy plig om in die beste belang van die maatskappy op te tree, bly die direksie gewillig om met enige party in gesprek te tree ten opsigte van enige billike aanbod wat aan toepaslike voorwaardes onderhewig is.”

Maroela Media het vroeër berig dat Canal+ se R105-aanbod op 1 Februarie 40% meer as die vorige dag se sluitingsprys vab R75 per gwone MultiChoice-aandeel op die Johannesburgse aandelebeurs (JSE) was. Canal+ se aanbod het die aandeleprys laat styg en die volgende dag met 28% (R93,24) opgejaag. Hoewel dit weer effens gesak het, staan die aandeelprys op die JSE tans op R90,30.

Canal+ voer onder meer aan dat die aanvaarding van sy aanbod ʼn belangrike volgende stap vir MultiChoice sal wees om sy volle potensiaal te verwesenlik.

“Saam met Canal+ sal MultiChoice die hulpbronne hê om in skaal, plaaslike Afrika-talent en -verhale, asook topklastegnologie te belê sodat dit in Afrika kan groei en met wêreldwye stromingsmediareuse kan meeding. Ons is onwrikbaar in ons oortuiging dat MultiChoice ʼn blink toekoms kan geniet as deel van ʼn gekombineerde groep met Canal+,” het Maxime Saada, voorsitter en uitvoerende hoof van Canal+, verlede week gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Goldy ·

Lekker monopolies, so word die superrykes al ryker en die res word uit die mark gedruk.

Wikkie ·

Ja-nee, ons noem dit karma.

Vir jare en jare moet die einste mense wie Multichoice kies om te onderdruk en teen te diskrimineer die duurrste pakket van DSTV uitneem sodat hulle toegang kan hê tot hul sport en ander kanale waarin hulle belangstel. En daardie duur pakkette subsideer die massas wat goedkoop pakkete uitneem en toegang het tot alles waarin hulle belangstel.

Vandag is Multichoice knie-diep in die knyp. Kry vir julle. Julle het gedink julle is untouchable.

koos10 ·

Soms, net soms, kyk mens terug en besef dat jy ‘n fout gemaak het. Met Multichoice se dalende intekenare en stygende kyk op versoek platforms, hoop ek nie dat die direksie se besluit hulle oor ‘n paar jaar gaan byt nie.

Janine ·

Herhaling op herhaling…… Soos sabc. 11 jaar terug gekanselleer, nie een dag spyt nie. Enigste sport wat ons kyk is F1, en dis ook nou klaar. hamilton weet hoe om als te verwoes, want NET ‘black lives matter’…….

Anel ·

Kry maar vir julle. Ons ook slnlankal nie meer tv nie. Baie beter dinge om te doen. Radio is nog gaanbaar. En ook, moennie met die Franse mors nie. Julle gaan tweede, derde en laaste kom. Môre, oormôre val daardie aandele so laag dat dit niks gaan beteken nie. Gierigheid gaan julle niks in die sak bring nie!!!

Vonkprop ·

Hulle het nee gesê, want hulle wil aanhou om plaaslike inhoud in ons kele af te druk.

Yolandie ·

Multichoice julle is maar lekker arrogant om te dink dat die offer nie goed genoeg is nie. Julle kykertalle het baie afgeneem agv julle beperkte vermaak. Laat die Franse maatskappy julle oorneem sodat daar ‘n slag iets ordentliks aangebied kan word vir die Suid Afrikaanse kykers. After all niemand kyk eers meer SABC nie.

Spook ·

Ons het self so jaar of wat terug van DSTV ontslae geraak. En ek belowe, mis hulle nie een minuut nie. Ons kyk nie eintlik sport nie en as ek sport kyk, is dit motorsport. Vroulief het ‘n paar kanale wat sy na kyk. Eendag sê sy vir my dis al die derde herhaling van dieselfde inhoud en ons besluit toe dat motorsport en herhalings is nie die geld werd nie.
Ons word oorval van aanbiedinge van DSTV vir enorme afslag as ons net weer die duur pakket opneem. Nee dankie, ek hou nie daarvan om sokkerkykers te subsidieer nie. Ek hou hul kykersyfers dop, en sedert ons gekanselleer het, het die duur pakket se kykers met ± 1 000 000 gedaal. Nog mense wat soos ons voel oor hulle uitbuiting. Rugby is nie so belangrik as wat DSTV dink dit is nie.

John ·

Multichoice moet asseblief beskikbaar word hier in Engeland want dan kan ons weer iets beter sien en Suid Afrikaaners sal nooit tevrede wees met wat die engelse hier aanbied nie.

George ·

@Janine, baie kortsugtig as jy toelaat dat een persoon vir jou n hele sport spoil.

George ·

Wat dink julle is netflix? Dis herhalings van ou programme, met die minderheid wat nuut en oorspronklik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.