Cele: ‘Borgtog is ʼn onding’

Die minister van polisie, Bheki Cele. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Die minister van polisie, Bheki Cele, het Vrydag uitgevaar teen die toestaan van borgtog en sê dit is een van die hindernisse in die strafregstelsel.

“Borgtog is ʼn onding. Ons het hoeveel sake van verkragting en misbruik. Ons het 57 mense wat op borgtog vrygelaat is wat betrokke was by transitorooftogte. Sodra hulle vrygelaat word, kom hulle bymekaar en beplan nóg ʼn rooftog, of hulle gaan uit en misbruik hulle slagoffers verder,” het Cele gesê.

Hy het ʼn beroep op polisielede gedoen om moeite te doen met die manier waarop hulle verkragting- en ander slagoffers van misbruik behandel. Hy het polisielede onder meer gemaan om nie slagoffers se kleredrag te polisieer nie, of om slagoffers aan te moedig om dinge met hul misbruikers te gaan uitpraat nie.

“Hulle gaan die saak een of twee keer aanmeld, maar hulle gaan nie ʼn derde keer terugkom nie, want hulle gaan dood wees,” het Cele gesê.

Die polisie het ook onderneem om dié feestyd ʼn veel veiliger, aangenamer en draagliker tydperk vir inwoners van Johannesburg te maak.

Polisielede op patrollie in Johannesburg. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Cele was by die bekendstelling van die polisie se vakansie-veldtog in Joubertpark in die Johannesburgse middestad. Die gebied is berug vir misdaad, korrupsie en dwelms.

Die polisie se feestydveldtog is gemik op die vermindering van misdaad, verbetering van grensveiligheid, die skep van bewustheid by kuierplekke en padblokkades en stop-en-deursoekingsoperasies wat aan die orde van die dag gaan wees.

Voor die bekendstelling het Cele gesê hy en ander polisielede was Vrydag sedert 02:00 besig met klopjagte.

Daar is onder meer op nagemaakte goedere en onwettige immigrante gefokus. “Dit is belangrik dat die polisie en ander wetstoepassers die wet afdwing. Hulle kan ons nie met klippe bestook en dink dit gaan die einde daarvan wees, of ons van xenofobie beskuldig dat ons optree nie. Ons is nie hier om speletjies te speel nie, maar om ons werk te doen.”

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, het gesê polisielede uit alle distrikte is ontplooi om deel van die veldtog te vorm. Dit volg ʼn strategiese, eerder as taktiese benadering.

Mawela het gesê kwessies soos dwelms, geslagsgebaseerde geweld en mensesmokkelary is sake van kardinale belang vir die polisie.

Die hoof van die Johannesburgse metropolisie, David Tembe, het gesê polisielede moet hul pligte ernstig neem en meer doen as net vra vir lisensies of toets vir alkoholgebruik, omdat iemand dalk dood in die kattebak kan lê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

???? leser ·

cele, word y nou eers wakker, borgtog was al lankal ‘n onding
as dit ‘n buitelander is wat twak aangevang het en hy kom voor die hof, hulle gee hom borg en WEG is hy, al die moeilike werk ongedaan gemaak

BORG TOG ·

Comrade Cele, Jy moet onmiddelik werk maak van die opskorting van borgtog. Jy moet sommer ook aan die werkspring om nog sowat 50 nuwe plekke van aanhouding te bou. Die misdadigers se fasiliteite sal binne n maand nie die misdadigers kan hanteer nie. Se maar net.

Ig ·

Ek het in 1991 as aanklaer begin werk en toe ek min of meer in 1992 in die streekhof begin aankla het, het daar basies nie iets soos borgtog vir gewapende rowers bestaan nie. Nie eers geharde strafprokureurs het hulle tyd op dit gemors nie.
Dit het daai tyd geen sin gemaak dat enige bedrag borg iemand sou motiveer om sy verhoor te staan as hy 10 jaar tronkstraf in die gesig gestaar het nie. (Ek dink dit is deesdae 15 jaar minimum vir gewapende roof.)
Na my mening laat jy iemand op waarskuwing vry as ‘n boete of opgeskorte vonnis die waarskynlike vonnis vir die beweerde misdryf gaan wees of jy weier borgtog heeltemaal as direkte tronkstraf of inmenging met getuies ’n wesentlike moontlikheid is. Sulke duidelike riglyne sal ‘ n klomp tyd, koste en mannekrag in die strafregstelsel spaar.
Deesdae is die polisie se ondersoek dikwels so swak dat jy nie eintlik ‘n keuse het as om die beweerde rower borg te gee nie al is hy skuldig soos hel.
Minister Cele moet dus maar eers begin om te sorg dat sy polisiebeamptes hulle werk doen deur behoorlik ondersoekte sake hof toe neem.

LV ·

Ek stem 100 % met jou saam. Borgtog is nie n onding nie ,maar wel hoe die ondersoekbeampte hom/haarself voorberei om borgtog suksesvol te opponeer. So dis dalk waar die Minister moet begin. Deesdae is SAPD lede selfs te bang om in die hof te getuig.

Sarel ·

Polisielede in aanklagkantire is nie tiegerus om slagoffers van geweld,gesinsgeweld of verkragting by te stasn nie. Daar MOET altyd ‘n Spesialis persoon.opdiens wees.

wiehan ·

En stop ook parool, As hy 10 jaar kry moet hy 10 jaar tot op dag en datum sit. 25 Jaar is 25 jaar. Lewenslank is tot en met jou dood. Dan sal mense miskien begin dink.

Gert van Wierdapark ·

Ten einde laaste het die lig opgegaan dat borg-tog NIE voor die voet moet plaasvind nie. Hopelik sal dit in die Toekoms realiseer!?

Quentin X. Viljoen ·

“Put your money where your mouth is!” Hoekom PRAAT Cele reg, maar van aksies kom niks? DOEN net wat julle se!

Swanna ·

Hy is net soos sy presie. Maak net die regte lawaai sodat almal dink hulle is COOL maar lig nie sy baas op om niks daaraan te doen wat hy verkindig nie. BLA BLA BLA dis al.

A ·

Word die borgaansoeke ooit teegestaan met getuienis van die ondersoekbeampte ?

A Mac ·

Haai, Mnr. Cele? Het die lig vir jou aangegaan? Is dit nie iets wat die land se slagoffers al jare vra nie? Maar nee, die oortreder moet mos altyd menswaardig behandel word, al gaan hy dalk weer roof/moor as hy op borg uit is. En Mnr. Cele, begin ook sommer iets doen aan jou polisie beamptes wat nie behoorlik opgelei en gekwalifiseer is vir die werk wat hulle MOET DOEN, nie net saamloop om maandeinde salaris te kry nie.

Anneleen Geustyn ·

Die Suid-Afrikaanse Regstelsel het ons lankal gefaal en nou word die polisie geblameer. Die polisie arresteer misdadigers maar die hof staan borgtog toe.

Dries Bý ·

Waarom borgtog net om rond te loop vir kwaadgeld en tyd te mors ?

KrokodilBotha ·

Die mense praat net altyd. Onbevoegdheid is erger. Mag ek swape se ?

Johan Coetzee ·

Regtig? Na 25 jaar skrik die anc wakker? Ek glo nie, dit moet eers gedoen word.

JohanR ·

Hou dan op kerm en doen iets. Dit is hoekom jy die hoed dra, en die LEKKER groot geld verdien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.