Centurion-pad dalk gou heropen na ingryping

(Argieffoto: GroundUp)

Danksy AfriForum se privaatvervolgingseenheid en bekommerde sakelui sal Wierdaweg (M10) na verwagting teen einde September weer vir motoriste toeganklik wees.

Dit volg ná ’n groot sinkgat in November verlede jaar op die pad gevorm het en daar sedertdien besluiteloosheid was oor wie vir die herstel van die pad verantwoordelik is.

Die privaatvervolgingseenheid het ’n brief aan Kedibone Diale Tlabela, LUR vir paaie en vervoer in Gauteng, gestuur om die regering in kennis te stel van die nadelige gevolge wat die sluiting van hierdie pad vir sakelui inhou.

Die privaatvervolgingseenheid is deur die eienaars van Lots of Pots, Sasol Lyttelton Manor, Royal Elephant Hotel en die Kappie’ccino-koffiekroeg om hulp genader.

Die eenheid kon daarin slaag om ’n unieke samewerkingsverhouding tussen die plaaslike regering, sakelui, private kontrakteurs en diensverskaffers te bewerkstellig. Die omvang van die sinkgat is spoedig geëvalueer en ’n plan is in werking gestel om die pad te herstel.

Die privaat kontrakteurs het in Augustus gesê dat die pad weer teen einde September oop sal wees.

Gereelde vergaderings tussen die verskeie rolspelers is deur die privaatvervolgingseenheid geïnisieer en deur adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se die privaatvervolgingseenheid, gelei.

“Die regering se bereidwilligheid om openlik met ons in gesprek te tree tydens hierdie maandelikse, vroegoggendvergaderings het daartoe gelei dat die herstel en heropening van hierdie pad geprioritiseer is,” sê Nel.

Die vergaderings is deur die adjunk-direkteur-generaal vir paaie en vervoer, Mmaphuti Mokobane, en verskeie senior lede van sy departement bygewoon, asook deur Anton Els en Pieter Smith van Lots of Pots en die span by die privaatvervolgingseenheid.

“Ons kry nie elke dag die geleentheid om die regering te komplimenteer nie, maar ons kan onomwonde verklaar dat ons beïndruk is met Mokobane en sy span.

“Ons is veral ook dankbaar vir Hendrik van den Berg van Civil Concepts en Henk Daling, wat Bondev as privaat kontrakteurs verteenwoordig, se pogings en bydraes om die probleem op te los.

“Ons hoop dat hierdie sukses almal sal aanspoor om betrokkenheid en toewyding te steun ten einde infrastruktuurprobleme die hoof te bied,” sê Nel.

“Die sakegemeenskap in die omgewing van Wierdabrug, veral Els en Smith, het gewys dat ons in die oplossing van gemeenskapskwessies meer kan bereik deur konstruktiewe betrokkenheid as deur gewelddadige protes.”

Volgens Smith het die pad se sluiting hul onderneming die afgelope 10 maande geweldige skade berokken.

“Weens Lots of Pots se ligging het ons talle kliënte verloor omdat hulle ’n ompad moes ry om by ons uit te kom. Ander ondernemings is ook negatief hierdeur beïnvloed. Ons is egter baie dankbaar vir die toewyding, voortgesette ondersteuning en aanhoudende opvolg waarmee AfriForum se privaatvervolgingseenheid, owerhede en ander belanghebbendes te werk gegaan het om hierdie pad te herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wikkie ·

Dankie Vader! Ek ry die ompad twee keer elke dag van die week. En die ompad het, eerstens, nie die kapasiteit om daardie hoeveelheid verkeer vrylik te laat vloei nie en, tweedens, is dit in baie slegte kondisie.

Dit is nie bloot vir dit waarvoor Afriforum en Solidariteit staan nie, maar ook vir wat hulle vermag dat ek trotse lid en ondersteuner van albei organisasies is. Wens meer mense sluit by hulle aan en ondersteun hulle.

Anel ·

Baie dankie. Dit sal vir ons groot verligting bring. Dit is net baie hartseer dat wie ook al verantwoordelik is vir die herstel, verwag dat die privaatsektor dit moet doen. As dit so aangaan kan die privaatsektor maar die regering ook oorvat. Ai, mens kan maar net droom!

Piet Snot ·

Moet dit rêrig nodig wees dat die Boere telkens weer ingryp om die probleem op te los?
Ai.

Karoo ·

dis ongelukkig. maar gelukkig net hulle wat dit kan/wil doen. Ons doen dit al vanaf die 3 skippies hier aangekom het en sal todat die 3 skippies ons weer terug vat.

SjN ·

Sinkgat sedert Novemberverlede jaar, gebruik die wat elkeen R350 grant ontvang en die gat is binne n dag gevul?

Bolandse Nooi ·

Hulle wil nie werk nie, wie sal dan nou werk as jy R350.00 mahala, gratis, verniet kry vir heeldag op jou agterent sit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.