Chaotiese begrotingsbesnoeiings nié nodig – ekonome

Die minister van finansies, Enoch Godongwana (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Deur GroundUp

“Chaotiese begrotingsbesnoeiings” is glad nie nodig om die tekort tussen belastinginvorderings en staatsbesteding aan te pak nie, waarsku die Instituut vir Ekonomiese Geregtigheid (IEJ) in aanloop tot min. Enoch Godongwana se mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring volgende maand.

“Die fiskale krisis word vir politieke doeleindes oordryf,” sê die ekonome Gilad Isaacs, Zimbali Mncube, Liso Mdutyasna en Kamal Rambuth in ʼn verslag.

Dié ekonome is nie té bekommerd nie ten spyte daarvan dat die nasionale tesourie in Augustus vanjaar gewys het op ʼn “uitsonderlike groot” daling in belastinginkomste (R22 miljard) vir die eerste vyf maande van die jaar. Die tesourie het toe gesê daar is nie ten volle begroot vir loonverhogings in die openbare sektor nie en het staatsdepartemente opdrag gegee om ʼn paar kostebesnoeiings vir die res van die jaar te maak.

Die IEJ skat die inkomstetekort vir die boekjaar op sowat R67 miljard. Dit stem ooreen met die tesourie se syfers.

Die instituut sê egter dié tekort is glad nie buitengewoon groot nie. Die instituut glo ook daar is maniere om dit reg te stel sonder “chaotiese begrotingsbesnoeiings” wat die ekonomie swaar sal tref.

Die vier ekonome sê inderwaarheid die huidige begrotingswanverhouding “kan relatief maklik opgelos word”.

Om die onmiddellike tekort reg te stel, stel hulle voor dat die regering geld uit die Goud- en Buitelandse Valuta Gebeurlikheidsreserwerekening, wat die rekening is waarin die Reserwebank winste en verliese uit buitelandse valutatransaksies deur die regering aanteken, skuif.

Sowat R459 miljard in hierdie fonds is aan die regering verskuldig, sê die ekonome.

Hulle stel ook voor dat die regering eenvoudig meer leen. Die ekonome sê hoewel Suid-Afrika se skuldtrajek op lang termyn kommerwekkend is, is dit nie tans op “krisisvlak” nie.

Luidens die verslag het Suid-Afrika se skuld in die 2022-’23-boekjaar op 71% van die bruto binnelandse produk te staan gekom wat ooreenstem met die gemiddelde van 69% vir vergelykbare ekonomieë. En selfs al sou die hele begrotingswanverhouding deur lenings gedek word, sal die skuld tot BBP-verhouding skaars verander.

Om volgende jaar meer inkomste in te samel, stel hulle voor dat die regering belasting verhoog,  maar nie BTW nie aangesien dit arm Suid-Afrikaners swaar sal tref.

“Laat vaar sommige belastingtoegewings aan hoë verdieners, veral vir private pensioene en mediese fondse,” stel die ekonome voor. Individuele belastingtoegewings beloop R305 miljard en die besnoeiing van sommige hiervan kan meer as R50 miljard insamel, sê Isaacs, Mncube, Mdutyasna en Rambuth.

Luidens die verslag kan die regering ook altyd korporatiewe belastingsubsidies herevalueer.

“Verhoog maatskappybelasting terug na vroeëre vlakke.” Maatskappybelasting is verlede jaar van 28% tot 27% verlaag. Die ekonome sê dit is onwaarskynlik dat ʼn verhoging belegging sal ontmoedig, want beleggers stel meer belang in betroubare elektrisiteit, goeie hawe- en spoordienste, ʼn veilige omgewing en ʼn geskoolde arbeidsmag as in ʼn effens hoër belastingkoers.

Daar word ook voorgestel dat die regering die koste van lenings verminder deur na lenings op korter termyn, wat goedkoper is, oor te gaan en die bepalings van lenings te heronderhandel.

Op medium termyn sê hulle die regering moet welvaartbelasting oorweeg. “Sulke belasting is in tye van ekonomiese krisis in ander lande gebruik en indien die tesourie werklik glo dit is ʼn krisis, sal dit ʼn goeie tyd wees om welvaartbelasting in te stel.”

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning hier gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

domheks ·

Onthou net ALLES wat geleen word moet terug betaal word PLUS RENTE!

Oosieoos ·

Begin met hulle salarisse te halveer dan nog te veel. Neem alle voordele weg absoluut onverdienst

Oosieoos ·

Verminder ministers met 70% en neem alle deputy ministers weg hulle doen hoegenaamd niks

efjy ·

Ek verneem dat daar sekere munisipaliteite en ander semi staats instelling (pos kantoor) is wat nie pensioen bydraes oorbetaal nie. Verskeie betaal ook nie water en ligte rekeninge nie. Kan daar nie ‘n ondersoek ingestel word of af die staats ondernemings wel belasting bydraes op werknemers salarisse wel oorbetaal nie.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Halveer die kabinet en stop die ANC ministers se uitspattige lewenstyl. En stop die verkwisting en korrupsie.

Jeanette ·

Ek se ook, halfveer die kabinet en halveer die hele kabinet van onder tot bo by die president se salarisse, doen weg met al die onnodige grants en kinder toelae, gee net vir die oumense ‘n groot ouderdomspensioen want hulle het hard gewerk in hulle leeftyd. As die klomp wil gaan vakansie hou of die of daai wil besoek moet hulle self daarvoor betaal

Leon ·

Dis tyd dat die Belastingbetalers begin terug druk. Wat kry ons vir belasting? Polisiëring – nee
Sekuriteit/ veiligheid – nee
Elektrisiteit – soms
Werkende infrastruktuur – nee

En so kan ek aangaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.