Cheverné en Vanessa eindelik tuis

Cheverné Duvenhage (Foto: Facebook)

Twee leerders van Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark is ná bykans drie maande se mediese behandeling eindelik tuis. Hulle is beseer toe ʼn loopbrug by dié skool op 1 Februarie vanjaar ineengestort het.

Cheverné Duvenhage in gr. 8 en Vanessa Slabbert in matriek was onder die 29 leerders wat in die tragedie beseer gelaat is. Vier van hul skoolmaats het op dié dag gesterf.

Cheverné

Cheverné is net voor die Paasnaweek ontslaan uit die rehabilitasiesentrum in Johannesburg waar sy vir sowat drie weke aangesterk het nadat sy einde Maart uit die hospitaal ontslaan is.

“Hiér het arbeidsterapeute haar geleer om haarself weer aan te trek, by die wasbak te staan en haar tande te borsel, haar hare te kam en om self uit die bed uit op te staan,” het Elardus Duvenhage, Cheverné se pa, aan Maroela Media verduidelik.

Sy het ook elke dag fisioterapie ontvang waar sy trappe moes klim en fiets moes trap om haar spiere te oefen.

Maroela Media het vroeër berig Cheverné het ná die voorval onder meer bloeding in haar buik gehad nadat haar maagwand tydens die voorval geskeur het. Altesaam 20 cm van haar dunderm moes ook verwyder word en sy het vier breuke in die brug van haar linkervoet opgedoen. Cheverné is nadat sy aanvanklik in die waakeenheid van ’n hospitaal in Alberton opgeneem is, onder verdowing geplaas en aan ʼn ventilator gekoppel.

Haar herstelproses was behoorlik ʼn stryd nadat haar maagwand nie wou heg nie en sy later infeksie opgedoen het. Om sake te vererger het dokters met verloop van tyd agtergekom dat haar bekkenbeen ook in die voorval gebreek is.

“Dit voel vir my of dit lank terug gebeur het. Miskien omdat ons soveel stres gehad het in hierdie tyd en so besig was. Dit voel soos ʼn ellelange tyd. Ek kan nie glo dit is net drie maande nie,” het haar pa gesê.

Hy vertel dat Cheverné vroeër as beplan uit die rehabilitasiesentrum ontslaan is. “Sy moes eintlik langer aanbly, want haar pelvis het nog nie aangegroei nie. Die dokters het haar vir ses weke huis toe gestuur om te rus voordat sy weer met rehabilitasie sal moet begin.”

Daar sal dán besluit word of sy die fisioterapie by die sentrum sal ondergaan en of dit moontlik is om dit nader aan die huis te doen.

Cheverné sal ook in Augustus vanjaar ʼn rekonstruksie aan haar maagwand ondergaan. Voorlopig is daar geen sprake van terugkeer skool toe nie. “Dis ʼn ander probleem,” het haar pa gesê. “Sy gaan net regkom dan moet sy gaan vir die rekonstruksie. So dit is nie duidelik wanneer sy teruggaan skool toe nie.”

Elardus vertel dat dit ook beter met Cheverné se gemoed gaan nou dat sy tuis is. Sy het tydens haar tyd in die rehabilitasiesentrum traumaberading ontvang. Haar ouers dink daaraan om haar in die komende weke na ʼn sielkundige te neem indien sy die behoefte sou hê om met iemand te gesels oor die gebeure op dáárdie dag.

Vanessa Slabbert by hospitaalpersoneel. (Foto: Facebook)

Vanessa

Vanessa is Woensdag ná 83 dae in die hospitaal eindelik ontslaan, het Lizelle Slabbert, Vanessa se ma, op sosiale media geskryf.

Vanessa is ernstig in die voorval beseer en is aanvanklik in die waakeenheid van ʼn hospitaal opgeneem waarna sy ses weke se rehabilitasie ontvang het.

“Dit voel so onwerklik, so asof sy net huis toe kom vir ʼn kuiertjie, maar ek is seker die realiteit sal Maandag inskop wanneer sy met vier maande se rehabilitasie as ʼn buitepasiënt begin,” skryf Lizelle.

Vanessa sal ook weer later haar matriekjaar hervat. Dit sal egter nié by Hoërskool Driehoek wees nie aangesien sy in dié stadium met ʼn rolstoel oor die weg moet kom. Lizelle het egter verseker dat Vanessa weer sal kan loop en ʼn normale lewe sal kan lei ná afloop van haar rehabilitasie.

“Ons is verskriklik bevoorreg en dankbaar dat ons op dié punt is. Die pad vorentoe is nou duideliker as aan die begin. Aan die begin het baie dinge in die lug gehang en jy weet nie wat gaan gebeur nie,” het Elardus as Driehoek-ouer aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Laura ·

Dis ongelooflik hoe die krag van GEBED en geloof hulle almal gedra het en deur alles gehelp het.
Dankbaarheid in oorvloed!!!!!!!!!!!!!!!
Sterkte vir die pad vorentoe.

Blackie ·

Dis fantastiese nuus! Baie sterkte aan julle twee brawe kinders en julle gesinne.

Gesiggie ·

My hart sing van vreugde.. om die wonderlikke nuus te lees van Chervene en Vanessa.. so dankbaar dat daar beterskap is vir hul, dit voel soos gister wat die ongeluk gebeur het, kan dink dat daar nog n baie lang en swaar pad wag, maar God het jul gedra deur die 3 maande en sal jul dra tot aan die einde. ek dink so terug aan die ouers wat n kind moes verloor, maar die vreugde om te weet daar het genesing gekom vir die 2 meisies laat mens weereens net besef, dat wonderwerke moontlik is God het n doel vir elkeen van ons op die aarde. Baie sterkte aan die ouers wat elke dag deur al die seer moet gaan en die pyn saam hul kind moet ervaar, en aan die ouers van die 4 Engel kinders… mag God aan jul vrede gee en mag jul berus met die wete… in Gees is hul daar by jul. Als wat mooi is.

Elsabie ·

Wonderlike nuus! Ek hoop jul sterk goed aan en kan gou weer skool hervat. Die Here is Groot en Goed! Baie sterkte vir albei van julle!

Henco ·

Eks bly julle is op die herstelpad en ons bid vir spoedige herstel.

hercu ·

ek salueer julle twee families en baie sterkte!

goedheid & guns!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.