Cholera: Dodetal styg tot 15

Argieffoto (Foto: weronica0, Pixabay)

Die dodetal in die cholera-uitbreking in Hammanskraal het Maandag tot 15 gestyg.

Dr. Sibongiseni Dhlomo, adjunkminister van gesondheid, het die jongste sterftesyfer vroeër vandag bevestig.

Maroela Media het vroeër berig die bevestiging van die uitbreking kom nadat minstens 95 mense sedert verlede Maandag by die Jubilee-distrikshospitaal met simptome van diarree, maagkrampe en braking aangemeld het. Die stoelgangmonsters van 19 pasiënte is getoets, met laboratoriumuitslae wat cholera bevestig het.

Die Tshwane-metro sê nou dat toetse op alle water, selfs dié wat uit brandkrane getap word, gedoen sal word. Daar sal ook verseker word dat watertenkwaens behoorlik ontsmet word.

Selby Bokaba, woordvoerder van die Tshwane-metro, sê die toetse sal die hele week voortduur.

“Aanvanklik sou die toetse slegs tot die Rooiwal-brandkraan beperk word, maar daar is besluit om dit uit te brei na al die brandkrane en die watertenkwaens wat water aan informele en formele gebiede in en om Hammanskraal verskaf.”

Volgens Bokaba neem dit gemiddeld drie dae om toetsresultate van laboratoriums te onvang. Toetse sal ook by die Temba-afvalwatersuiweringsaanleg gedoen word.

Tshwane sê hy werk nou saam met die Gautengse provinsiale departement van gesondheid om die sterftesyfer te beperk en die verspreiding van die siekte in bedwang te bring.

“Die stad gaan ook sy voedselveiligheidsveldtog verskerp, wat onder meer verduidelik hoe kos in die Hammanskraal-omgewing higiënies voorberei, vervoer en geberg moet word.

“Terwyl die kraanwater wat die stad in Hammanskraal verskaf nie geskik is vir menslike gebruik nie, stel die Tshwane-metro drie keer per week drinkwater deur 52 watertenkwaens aan informele nedersettings beskikbaar.

“Dit is ná die cholera-uitbreking tot vyf keer per week verhoog.”

Daarbenewens stuur die stad daagliks 44 watervragmotors na formele gebiede om te verseker dat gemeenskappe drinkwater het.

Cholera is ʼn bakteriese siekte wat gewoonlik deur besmette water versprei word. Dit veroorsaak ernstige diarree en dehidrasie en kan binne ure dodelik wees indien dit nie behandel word nie, selfs by gewoonlik gesonde mense.

Die Tshwane-metro het opnuut ʼn beroep op inwoners van die Hammanskraal-gebied gedoen om nie kraanwater te drink nie.

Die volgende gebiede word geraak:

  • Hammanskraal-Wes (Uitbr. 10)
  • Phomolong (Suurmanrif)
  • Soutpan/Marikana (Nuwe Eersterus uitbr. 8,9,10 & 11), Hammanskraal
  • Kudube Eenheid 10 Erf 10442 Chris Hani
  • Chris Hani Blok G (Kudube Eenheid 10 Erf 3742)
  • Bridgeview
  • Hammanskraal-Wes uitbr. 4 Sekampaneng
  • Hammanskraal uitbr. 2 Erf 3503
  • Nkandla (Stinkwater-gebied)
  • Hammanskraal-Wes uitbr. 4 gedeelte 9 & 10)
  • Steve Biko

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Harley Davidson ·

Gesinsbeplanning sal ook help om die hulpbronne te beskerm want die vraag na water is al meer as wat hulle kan voorsien.

skurweberg ·

Geen twyfel!! maak nie saak hoeveel uit onkunde of ontkenning nie saamstem nie.

CHRISTINE ·

Die ANC: LOCKDOWN! STATE OF DISASTER AND A MINISTER FOR WATER POLLUTION.

JvR ·

Jy leef in n baie klein wereldjie as jy dink net SA word deur die peste getref. En jy gee die ANC hopeloos te veel krediet

Miskruier ·

Die stad lewer kraanwater wat nie geskik is vir menslike gebruik nie…hoe dan nou?

Johann ·

Welkom in die land waar siektes en peste ons voorland is as deel van die ANC se vervalle infrakstruktuut LEGACY!

skurweberg ·

‘n Mafia-beplande-krisis oor die hele land is besig om te ontvou. ‘n Nuwe “werkskeppings-fenomeen”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.