City Power-tegnikus sterf ná ontploffing

Kallie van Vuuren het aan ’n minisubstasie in Roodepoort gewerk toe die voorval plaasgevind het. ER24 was op die toneel. (Foto: Verskaf / ER24)

’n Senior tegnikus van City Power is Donderdagoggend dood nadat ’n minisubstasie in Roodepoort ontplof het.

Luidens ’n verklaring deur City Power was Kallie van Vuuren en ’n kollega besig om in die Wilropark-woonbuurt te werk toe een van die minisubstasies ontplof het.

Wilropark het sedert vanoggend ’n kragonderbreking ervaar en Van Vuuren en sy kollega het  probeer om die fout al langs Molopostraat op te spoor.

Van Vuuren, wat langer as 19 jaar by City Power werk, is ernstig in die voorval beseer en deur paramedici op die toneel dood verklaar.

Die waarnemende uitvoerende hoof van City Power, Tshifularo Mashava, het Van Vuuren se dood in ’n verklaring betreur.

“Dis ’n hartseer dag vir almal by City Power met die verlies van een van ons eie. Hy was ’n hardwerkende man wat sy lewe daaraan toegewy het om Johannesburg en City Power te dien.

“Ons wil namens die bestuur en raad ons innige meegevoel aan die Van Vuuren-gesin uitspreek, veral die kinders, wat saam met ons op die toneel was. Ons wens sy vriende en kollegas by City Power sterkte toe, veral dié by die Roodepoort-diensleweringsentrum.”

City Power het ook ’n interne ondersoek na die voorval en oorsaak van die ontploffing versoek.

“Ons sal die nodige ondersteuning aan die familie en ons kollegas gedurende hierdie moeilike tyd gee,” het Mashava gesê.

City Power het die voorval by die nodige owerhede aangemeld, onder wie die polisie en arbeidsdepartement, wat die toneelondersoek reeds oorgeneem het.

Die energieverskaffer waarsku dat die voorval ’n vertraging in die herstel van kragtoevoer aan die geraakte gebied tot gevolg sal hê.

“Ons sal die herstelwerk hervat sodra die toneelondersoek weer aan ons oorhandig word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik ·

Baie jammer en onnodig! Ek hoop daar is ‘n ondersoek en vervolging van skuldiges of nalatiges. Het sabotasie of diefstal ‘n rol gespeel?

Jillian ·

So jammer om te hoor! Baie sterkte aan die geliefdes van die man. Mag God by jul wees. Dankie aan die man wat mense se krag weer probeer aankry. Ons sien na altyd raak hoe sulke mense ons lewe verbeter en hoe baie ons hulle nodig het nie en ook besef ons nie eintlik hoe gevaarlik julle werk is nie. Julle is ons helde.

Christine ·

Baie hartseer oor die voorval..Derde man wat ek van weet in ons omgewing wat dood is agv ontploffings terwyl hulle werk aan kragprobleme. Dis betreurenswaardig dat daar nie ‘n manier is om die site eers veilig te maak alvorens daaraan gewerk word nie. RIV en alle sterkte aan die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.