Clicks kry interdik, EFF sê betogings gaan voort

Betogers het die Clicks in die Lemon Tree-winkelsentrum beskadig. Die EFF ontken sy lede was by geweld betrokke. (Foto: Verskaf)

Die hooggeregshof in Johannesburg het ʼn dringende interdik aan die Clicks-winkelgroep toegestaan nadat betogende lede van die EFF Maandag groot skade aan verskeie Clicks-winkels aangerig en die winkels verhoed het om sake te doen.

Ingevolge die bevel word die EFF en sy leiers Julius Malema, Marshall Dlamini, Vuyani Pambo, Delisile Ngwenya en Nompumelelo Simang verbied om enige werkers van die Clicks-groep te intimideer of te dreig.

Die hof het die EFF bykomend verbied om enige klante aan die winkels te intimideer of te dreig, asook enige geweld teen die gewone handelsbedrywighede van die groep aan te hits.

Malema het sy ondersteuners vroeër op Twitter gevra om Clicks-winkels “aan te val”.

ʼn Herrie woed steeds oor ʼn advertensie vir haarprodukte op Clicks se webwerf wat as rassisties teenoor swart mense bestempel is. Die advertensie is onttrek en die groep het om verskoning daarvoor gevra.

Die EFF het onder meer geëis dat die name van diegene wat betrokke is by die veldtog bekend gemaak moet word en hulle die trekpas moet kry. Clicks moes binne 24 uur aan dié en ander eise voldoen, of die EFF sou self die winkels sluit.

Maandag het talle EFF-ondersteuners na Clicks-winkels landwyd opgeruk en groot skade aan verskeie winkels aangerig toe daar tot plundery en geweld oorgegaan is.

Die optrede is skerp veroordeel, ook deur die regering.

Die EFF het in reaksie op die hofbevel gesê die Clicks-groep het die howe in die middernagtelike ure genader in ʼn poging om die EFF se protesoptrede teen Clicks se rassisme te stuit.

“Die EFF wil dit onomwonde stel dat ons nie betrokke was by of opdrag gegee het vir enige geweld teen werkers, klante of Clicks se handelsbedrywighede nie,” lui ʼn verklaring van die party.

Die EFF sê sy lede was betrokke by gedissiplineerde betogings en het met voornemende Clicks-klante gesels oor die rassisme wat die groep voortsit, asook oor die omstandighede waaronder Clicks se werkers werk.

Die party sê sy betogings was vreedsaam en hy “verwerp die insypeling van agents provocateurs [aanhitsers] wat die goeie naam en aansien van die EFF skade wil berokken”.

Die EFF hou vol sy wisselwerking met klante en werkers was vreedsaam.

Die party het wetstoepassers ook gewaarsku om die hofbevel noukeurig te lees om te verseker daar word nie inbreuk gemaak op sy grondwetlike reg om te betoog nie.

Die EFF sê die hof het nie die betogings verbied nie en hy sit dit dus tot Vrydag voort om te verseker Clicks voel die gevolge van “die ondermyning van swart mense en die voorhou van witheid as standaard vir skoonheid”.

Die party het weer ʼn beroep op ondersteuners gedoen om te verseker Clicks-winkels kan nie sake doen nie, hoewel optrede deurgaans vreedsaam moet verloop.

“Rassiste kan nie langer aanspreeklikheid in die land ontduik nie en ons sal hul arrogansie ferm teengaan.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Pieter ·

So vir Rassisme moet ons eff ook met die selfde idee beveg. DIe mense het geen idee wat om hulle aangaan nie, behalwe hulle rassisme en haat.

Persheks Adri ·

Ja right tata ma chance!

“Die optrede is skerp veroordeel, ook deur die regering.”

Tree op anders weet ons die rooi petters is jou puppet Cyril!!!

Daleen ·

Vreedsaam???? – wonder of die universiteit wat Malema ‘n graad gegee het nou jammer is want hy verstaan nie eers die eenvoudige woord vreedsaam nie.

Johan ·

As ek dieselfde opdrag as Malema gee gaan n paar dinge gebeur 1. Maroela Media gaan nie my kommentaar plaas nie. 2. Ek word by die MRK verkla vir rassisme en daar gaan n voorbeeld gemaak word van my. 3. Ek kry tronksraf en n boete en n kriminele rekord. Die tyd is naby want ons kan net nie meer nie en dit is meestal slegs ons wat verdraagsaam is en dag in en dag uit verskoning vra maar ek vermoed genoeg is nou genoeg.

Dries ·

Maar ek verstaan nie, gister het die hof Clicks se aansoek geweier, nou na daar ‘n magdom skade aangerig is, skrik die hof eers wakker. Hoe werk dit?

Misky ·

In die laaste paar maande het ek nou al dinge gehoor en sien wat ek in my 40 jaar nooit gedink het moontlik is nie. Maar sowaar, wat ek gister gesien het en vandag moes lees, gaan my gesonde verstand tebowe. As hulle hom nie kan toesluit vir geweldadige aanhitsing en openbare geweld nie, sluit hom toe vir lieg!!!!!

Maggies man, die bewyse is duisende maal op sosiale platforms gedeel en hoe openlik is die howe nou rassisties en kies mos kant

sopbeen ·

Los hulle. Nou weet ons boere waar is hulle en kan rustig voort boer.

Andre ·

Tot tyd en wyl Clicks nie skadevergoeding eis van die kriminele nie moet hulle maar verdra en gelukkig wees.

Snowball ·

Want ons word regeer deur kriminele. In beskaafde lande met ‘n funksionerende polisiemag word wetsgehoorsame burgers en eiendom/besighede beskerm – vandale en terroriste word opgesluit. In SA moet ‘n hof gesag afdwing want ons polisie/rassistiese regering kan/wil nie.

Jenny ·

Ek wonder maar net wie is die rasis?

Besef EFF nie dat daar nou honderde indien nie duisende nou sonder inkomste gaan wees want die winkels kan hulle werkers nie betaal as hulle nie kan handel dryf nie. Ek wonder wie gaan nou eintlik daaronder ly, sover ek kan sien is die meeste werkers by Clicks swart.

Ek is geensins ‘n rasis nie, elke mens watter kleur, ras of taal het die reg om te werk, leef en eet, vir my is daar nie onderskeid van menswees nie.

Persheks Adri ·

Hulle gaan apartheid blameer dan jy ken mos die storie

Jakez ·

“[aanhitsers] wat die goeie naam en aansien van die EFF skade wil berokken”
Goeie naam en aansien…ha ha ha ha ha ha ha!

AmY ·

Kan iemand asb vir my sê: Wat is deesdae NIE rassisme NIE?
En nog iets: R5 biljoen is weg, en hulle raak mal oor ‘n hare advertensie?

Michael ·

Verbeel jou nou net daar is swart mense agter die ontwerp van die advertensie.

Kokerboom ·

Met ‘n ruggraatlose (lees: bang vir hul eie mense) regering, totale afwesigheid van ‘n polisiemag asook boewery wat vryelik gedy en belastingbetalers wat nie standpunt inneem , wat hou die toekoms in die land vir ons in? Wanneer gaan ons terugbaklei en ophou praat/kerm en grappies van alles maak?

Niklaas ·

Daar is altyd verskuilde agendas en ek wonder watse slinkse planne het hierdie Rooi oorpak Brigade werklik ? Dalks is hierdie optredes net hul magsvertoon . Dan is dit ook vir almal duidelik dat die bestaande owerheid hierdie spul nie kan beheer nie.

Pietertjie ·

Clicks moet maar die rekening vir hulle totale skade vir Julius stuur.

Manda ·

Ek voel jammer vir die werknemers wat geaffekteer word van die winkelgroep – maar ek het nog nie ophou lag oor die EFF se onnoselheid nie. Dit is regtig absurd verby.

Jaco ·

Soos dit vir my lyk gaan nog meer mense sonder werk sit. Ek gaan nie weer clicks toe nie dit is te gevaarlik. Gaan my geld in ander winkel spandeer.

ZeldA ·

Waar was die eff toe vrouens verkrag en vermoor is. Nou is hul onsteld oor wat daar gesê word oor hul hare?

Ou gees ·

Leier van effers: “Attack!”
Effers: *attacks*
Leier van effers: “agents provocateurs”

Die effers gaan dit seker nie agterkom dat hul leier nie botvas agter hulle staan nie. Dat hulle slegs pionne vir hom is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.