Clover dalk in die sop oor grondboontjiebotter

Clover het 10 776 eenhede van sy Go Nuts-grondboontjiebotter (400g) herroep. (Foto: Verskaf)

Die nasionale verbruikerskommissie ondersoek die moontlikheid dat Clover dalk die Wet op Verbruikersbeskerming oortree het deur na bewering nie aan vereiste protokol en regulasies te voldoen nie.

Die ondersoek hou verband met die herroeping van 10 776 eenhede van dié suiwelmaatskappy se Go Nuts-grondboontjiebotter weens verhoogde vlakke van aflatoksien. Clover het die verbruikerskommissie Woensdag van die besluit ingelig. Die herroeping raak sy 400 g-houers Go Nuts-grondboontjiebotter.

Clover is een van verskeie vervaardigers van  grondboontjiebotter, grondboontjiebotter-gebaseerde produkte en produkte met grondboontjies wat versoek is om hul produkte vir verhoogde vlakke van aflatoksien te toets, en dit toe inderhaas van winkelrakke moes verwyder omdat dié produkte hoër as gereguleerde vlakke van aflatoksien bevat.

Die produkte sluit ook in sjokolade, lekkers, koekies, roomys en grondboontjiebotter-smeersels.

Woolworths, Pick ʼn Pay, Dischem, Wazoogles en Eat Naked het verlede maand reeds verskeie produkte aan die mark onttrek.

Thezi Mabuza, waarnemende kommissaris van die verbruikerskommissie, beskryf die kommissie se oproep na vervaardigers, verskaffers en verspreiders om hul produkte onmiddellik vir vlakke van aflatoksien te toets as ʼn “ontnugtering”.

“Die toetsuitslae wat die kommissie ontvang het, dui daarop dat verskaffers nie hul voorskrifte nagekom en aan regulasies voldoen het nie. Ons verwag van verskaffers, spesifiek winkels, om enige handelsmerke wat nie aan die voorgeskrewe protokol en regulasies voldoen nie, onmiddellik te herroep,” het Mabuza gesê.

“Dit is om te verseker dat ons Suid-Afrikaanse verbruikers teen verdere gesondheidsgevare beskerm. Die kommissie sal beslissende stappe doen om hierdie uitdaging te ondersoek en op te volg. Ons hoop dat verskaffers hul samewerking sal gee.”

Mabuza sê ingevolge artikel 60 van die Wet op Verbruikersbeskerming – saamgelees met die kommissie se produkherroepingsriglyne – moet ʼn verskaffer of vervaardiger ʼn produk onmiddellik herroep wanneer dit aan die lig kom dat veiligheid op enige manier in gedrang is. Benewens herroeping moet reguleringsliggame onmiddellik van die probleem en herroeping in kennis gestel word.

“By ontvangs van Clover se kennisgewing het die kommissie die herroeping beoordeel en sekere teenstrydighede met die wet gevind.”

Verbruikers wat in besit is van Clover Go Nuts Peanut Butter se 400 g-produkte word intussen versoek om dié produk ná die aankoop terug te neem en hul geld terug te kry. Produkte wat geraak word, se vervaldatums is 12, 18 en 19 Junie 2025, asook 19 Julie 2025.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.