Cope gee omstrede Jhb-speaker trekpas

Colleen Makhubele (Foto: Twitter)

Die omstrede Johannesburgse speaker, Colleen Makhubele, is nie meer ʼn lid van Cope nie.

Cope het Maandag aangekondig dat hy Makhubele én Ofentse Moalusi, raadslid van die Tshwane-metro, se lidmaatskap van die party met onmiddellike effek beëindig het.

Volgens die party het dié twee raadslede egter in wese hul eie kontrakte beëindig deur by die nuutgestigte alliansieparty South African Rainbow Alliance (Saru) aan te sluit.

Mosioua Lekota, leier van Cope, het Maandag gesê sy party was voor dié aansluiting bewus van kleiner partye wat bymekaarkom om dalk ʼn alliansie of ʼn koalisie te vorm in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing.

Volgens Lekota is daar egter nog géén finale besluit geneem oor die kwessie of Cope deel van die alliansie gaan vorm nie en hoewel die party dit oorweeg, het Makhubele en Moalusi geen toestemming verkry om by Saru aan te sluit nie.

“Ons was verras om die naweek op sosiale media te hoor dat die twee reeds ʼn veldtog vir ʼn alliansie begin voer het en hulself as die president en voorsitter van daardie alliansie geposisioneer het.”

Lekota sê nou Makhubele en Moalusi se aansluiting by Saru is strydig met Cope se grondwet.

ActionSA het intussen Cope se besluit om vir Makhubele die trekpas te gee verwelkom.

“Ons is optimisties dat hierdie afdanking sal hou en die mense van Johannesburg kan daarvan verseker wees dat ʼn speaker met twyfelagtige bedoelings nie meer aan die stuur van raadsake is nie,” sê Nobuhle Mthembu van ActionSA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Estelle ·

Daar word heeltemal te veel “klein” partye in SA gestig. Niemand weet eens van hulle nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.